VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE
Lukas 1:37 – “Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie”
“Want niks [of geen verklaring] sal vir God onmoontlik wees nie.” – Lukas 1:37, vtn., Nuwe Wêreld-vertaling.
“Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.” – Lukas 1:37, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).
Betekenis van Lukas 1:37
Die almagtige God kan dinge doen wat vir mense onmoontlik lyk. Niks kan hom keer om te doen wat hy sê of belowe nie.
In die oorspronklike taal kan die woord “verklaring” verwys na ’n “woord” of “iets wat gesê word” – in hierdie geval, deur God. Dit kan ook verwys na die resultaat van iets wat Jehovah a God gesê het. Omdat God se woord altyd waar word, kan Lukas 1:37 ook vertaal word as: “Want God se beloftes kan nooit misluk nie” of “Want niks is onmoontlik vir God nie”. Hierdie weergawes van die oorspronklike Griekse teks dra dieselfde basiese waarheid oor: Geen verklaring of belofte van God sal onvervuld bly nie omdat niks vir hom onmoontlik is nie. – Jesaja 55:10, 11.
Soortgelyke uitdrukkings van God se beloftes verskyn regdeur die Bybel. Byvoorbeeld, Jehovah het, deur middel van sy engel, voorspel dat Abraham se vrou Sara, wat kinderloos was, op haar oudag swanger sou word. God het bygevoeg: “Is enigiets onmoontlik vir Jehovah?” (Genesis 18:13, 14). Nadat die aartsvader Job oor God se skepping nagedink het, het hy erken: “Niks wat u in gedagte het, [is] vir u onmoontlik . . . nie” (Job 42:2). En toe Jesus se volgelinge bekommerd was dat hulle nie aan God se standaarde vir redding sou voldoen nie, het Jesus hulle herinner dat ‘alles vir God moontlik is’. – Matteus 19:25, 26. b
Konteks van Lukas 1:37
’n Engel met die naam Gabriël het die woorde in Lukas 1:37 vir ’n jong Joodse maagd met die naam Maria gesê. Gabriël het so pas vir haar gesê dat sy geboorte sou gee aan die “Seun van die Allerhoogste” en dat sy “hom Jesus [moet] noem”. Hy sou die Koning van God se Koninkryk word, wat vir ewig sal regeer. – Lukas 1:26-33; Openbaring 11:15.
Maria het gevra hoe so iets moontlik is omdat sy ongetroud is en “nie seksuele omgang met ’n man [het] nie” (Lukas 1:34, 35). Gabriël het gesê dat God Sy heilige gees, of werkende krag, sou gebruik. Op daardie stadium was Jesus ’n geesseun van God in die hemel. So Jehovah het sy heilige gees gebruik om sy Seun se lewe van die hemel na Maria se baarmoeder oor te plaas (Johannes 1:14; Filippense 2:5-7). Sy het dus deur middel van ’n wonderwerk swanger geword. Om haar geloof in God se krag te versterk, het die engel vir haar gesê dat haar familielid Elisabet onlangs swanger geword het met ’n seun “op haar oudag”. Elisabet en haar man, Sagaria, het op daardie stadium nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was (Lukas 1:36). Hulle seun het Johannes die Doper geword, wie se bediening Jehovah ook voorspel het. – Lukas 1:10-16; 3:1-6.
Dalk het die engel Gabriël beide Maria en Elisabet ingedagte gehad toe hy die woorde in Lukas 1:37 gesê het. Daardie selfde woorde verseker Jehovah se aanbidders vandag dat hy sal aanhou om sy beloftes na te kom. Dit sluit in sy belofte om menseregerings te vervang met die heerskappy van sy Seun, Jesus Christus, die Koning van God se hemelse Koninkryk. – Daniël 2:44; 7:13, 14.
Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Lukas te kry.
a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?”
b Soortgelyke uitdrukkings word gevind in Numeri 23:19; Josua 21:45; 1 Konings 8:56; Job 37:5; Psalm 135:6; Jeremia 32:17; Daniël 4:35.