Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Romeine 6:23 – “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe”

Romeine 6:23 – “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe”

 “Die betaling vir sonde is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.” – Romeine 6:23, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” – Romeine 6:23, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Romeine 6:23

 Die apostel Paulus verduidelik met hierdie woorde dat mense sterf omdat hulle sondig. Maar God gee vir sy getroue aanbidders ’n wonderlike vooruitsig – die gawe van die ewige lewe.

 “Die betaling vir sonde is die dood.” Alle mense word onvolmaak gebore, en daarom is ons geneig om te sondig (Psalm 51:5; Prediker 7:20). a Omdat mense in sonde gebore word, word hulle oud en sterf hulle. – Romeine 5:12.

 Om hierdie punt te illustreer, vergelyk Paulus sonde met ’n meester wat lone betaal. Net soos ’n werker verwag om betaling te kry vir sy werk, so kan mense ook verwag om te sterf omdat hulle onvolmaak is.

 Maar Paulus verduidelik ook dat ’n mens “wat gesterf het, . . . vrygespreek [is] van sy sonde” (Romeine 6:7). Wanneer ’n persoon sterf, word hy vrygestel van die sondes wat hy gepleeg het. Daarom is daar geen rede om te glo dat diegene wat gesterf het, êrens aanhou swaarkry omdat hulle verkeerde dinge in die verlede gedoen het nie. Die Bybel sê eerder duidelik dat diegene wat gesterf het, nie kan dink, voel of enige iets kan doen nie. – Prediker 9:5.

 “Maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus.” In teenstelling met die “loon” wat sonde betaal, gee God die ewige lewe as ’n gawe. Die oorspronklike woord vir “gawe” kan ook vertaal word as “’n onverdiende gawe” of “’n genadige gawe”. Dit verwys na iets wat ’n mens kry, al het hy dit nie verdien nie. Geen sondige mens kan redding of die ewige lewe verdien nie (Psalm 49:7, 8). Maar God gee wel die waardevolle gawe van die ewige lewe aan diegene wat geloof in Jesus beoefen. – Johannes 3:16; Romeine 5:15, 18.

Konteks van Romeine 6:23

 Paulus het hierdie brief aan die Christene in Rome in ongeveer 56 HJ geskryf. Dit lyk asof party van die Christene van daardie tyd verkeerde idees oor God se genade gehad het. As gevolg van die invloed van Griekse filosofie het hulle dalk geredeneer dat hoe meer hulle gesondig het, hoe meer kon hulle baat vind by God se vergifnis (Romeine 6:1). Ander het weer gevoel dat hulle nie vir hulle sondes gestraf kon word nie omdat hulle nie meer onder die Wet van Moses was nie (Romeine 6:15). In sy brief het Paulus dit beklemtoon dat Christene nie deur God se genade gehelp kan word as hulle toelaat dat sonde hulle lewe oorheers nie. – Romeine 6:12-14, 16.

 Paulus se woorde verseker God se aanbidders vandag dat alhoewel hulle in sonde gebore is, hulle nog steeds ’n hoop het. As hulle gehoorsaam is aan God se standaarde van wat reg en verkeerd is en teen verkeerde begeertes stry, belowe God om hulle die ewige lewe te gee. – Romeine 6:22.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Romeine te kry.

a In die Bybel verwys “sonde” na enige optrede of gesindheid wat nie volgens God se standaarde is nie (1 Johannes 3:4). Sien die artikel “Wat is sonde?