Spring na inhoud

VOLG HULLE GELOOF NA | JOB

‘Ek sal my onkreukbaarheid nie prysgee nie!’

‘Ek sal my onkreukbaarheid nie prysgee nie!’

 Hy sit op die grond, sy liggaam oortrek met oop swere. Kan jy hom sien, sy kop en skouers hang, hy is alleen, en hy het skaars genoeg energie om die vlieë om hom weg te waai. Hy sit in sak en as wat wys dat hy treur, en al wat hy kan doen, is om sy vel vol sere met ’n skerf van ’n pot te krap. Hy het so baie verloor, alles het so verander! Sy vriende, bure en familielede het hom net so gelos. Mense, selfs kinders, spot hom. Hy dink dat sy God, Jehovah, ook teen hom gedraai het, maar hy is verkeerd. – Job 2:8; 19:18, 22.

 Dit is Job. God het van hom gesê “dat daar niemand soos hy op die aarde is nie” (Job 1:8). Baie jare later het Jehovah nog steeds vir Job beskou as een van die regverdigste manne wat nog ooit gelewe het. – Esegiël 14:14, 20.

 Is jou lewe vol teëspoed en teleurstelling? Job se lewe kan vir jou groot vertroosting bring. Dit kan jou help om ’n eienskap beter te verstaan wat elke getroue kneg van God moet hê – onkreukbaarheid of lojaliteit. Mense wys dat hulle lojaal is wanneer hulle so getrou is aan God dat hulle aanhou om sy wil te doen selfs in moeilike tye. Kom ons kyk wat Job ons kan leer.

Wat Job nie geweet het nie

 Dit lyk asof die getroue man Moses die verhaal van Job se lewe neergeskryf het die een of ander tyd nadat Job gesterf het. Onder God se leiding het Moses nie net die gebeure op aarde wat Job geraak het, neergeskryf nie, maar ook party van die dinge wat in die hemel gebeur het.

 Aan die begin van die verslag lees ons dat Job ’n vol en gelukkige lewe gehad het. Hy was ’n voorspoedige, bekende en gerespekteerde man in die land Us – moontlik in Noord-Arabië. Hy was baie vrygewig teenoor arm mense en hy het die hulpelose mense ondersteun en beskerm. Job en sy vrou het ook tien kinders gehad. Maar die belangrikste van alles was dat hy ’n geestelike man was. Hy het hard probeer om Jehovah gelukkig te maak, net soos sy verlangse familie Abraham, Isak, Jakob en Josef probeer doen het. Net soos hierdie manne het Job as ’n priester vir sy familie gedien en gereeld offerandes namens sy kinders gemaak. – Job 1:1-5; 31:16-22.

 Maar skielik verander die verhaal. Ons lees oor wat in die hemel gebeur, en ons vind uit oor dinge wat Job nie kon geweet het nie. Jehovah se getroue engele het voor God bymekaargekom, en toe het die opstandige engel Satan opgedaag. Jehovah het geweet dat Satan die regverdige man Job haat, en daarom het God met Satan gepraat en hom vertel van Job se uitsonderlike lojaliteit. Satan het sonder skaamte geantwoord: “Is dit verniet dat Job God gevrees het? Het u nie self om hom en om sy huis en om alles wat hy het, aan alle kante, ’n heining geplaas nie?” Satan haat mense wat lojaal bly aan God. Wanneer mense Jehovah God met hulle hele hart dien, wys hulle dat Satan ’n verraaier is wat niemand liefhet nie. Daarom het Satan aangedring dat Job God net dien vir selfsugtige redes. Satan het gesê dat as Job alles verloor, hierdie man Jehovah in sy gesig sou vervloek! – Job 1:6-11.

 Job het dit nie geweet nie, maar Jehovah het hom ’n groot voorreg gegee: Om Satan verkeerd te bewys. Satan is toegelaat om alles wat Job gehad het, van hom af weg te neem. Hy mag net nie die man self kwaad aangedoen het nie. Satan het toe begin met sy duiwelse werk. In net een dag het ’n hele paar tragiese dinge met Job gebeur. Hy het uitgevind dat sy vee – eers sy beeste en donkies, toe sy skape en toe sy kamele – skielik dood is. Die ergste van alles was dat die knegte wat na die diere gekyk het, ook gesterf het. By een geval het ’n boodskapper vir Job gesê dat “vuur van God” – moontlik weerlig – sy skape en knegte doodgemaak het. Voordat Job kon besef wat gebeur het, dat daar baie mense dood is en dat hy nou baie arm is, het iets nog erger gebeur. Sy tien kinders het saam gekuier by die huis van sy oudste kind toe ’n windstorm die huis skielik getref het, dit vernietig het en hulle almal gesterf het! – Job 1:12-19.

 Dit is moeilik, dalk onmoontlik, om jou voor te stel hoe Job gevoel het. Hy het sy klere geskeur, sy hare afgesny en op die grond neergeval. Job het tot die slotsom gekom dat God gegee het en dat God weggeneem het. Ja, Satan het op ’n slim manier dit laat lyk asof God die een was wat hierdie slegte dinge met Job laat gebeur het. Maar Job het nie sy God vervloek soos Satan voorspel het nie. Job het eerder gesê: “Laat die naam van Jehovah voortdurend geloof word.” – Job 1:20-22.

Job het nie geweet dat Satan sleg gepraat het van hom voor God nie

“Kyk of hy u nie . . . sal vervloek nie”

 Satan was woedend en het geweier om op te gee. Hy het weer opgedaag toe die engele voor Jehovah bymekaargekom het. Jehovah het Job se lojaliteit weer geprys omdat hy getrou gebly het ten spyte van al die aanvalle deur Satan. Satan het geantwoord: “Vel vir vel, en alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel. Steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak tot sy gebeente en sy vlees aan en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie.” Satan was daarvan oortuig dat Job God sou vervloek as hy siek genoeg was. Jehovah was so seker dat Job heeltemal getrou aan hom sou bly dat hy Satan toegelaat het om Job siek te maak – solank Satan Job nie doodmaak nie. – Job 2:1-6.

 Kort voor lank was Job in die toestand wat in die eerste paragraaf beskryf is. Dink aan sy arme vrou. Haar hart was reeds gebreek omdat haar tien kinders gesterf het, en nou moes sy hulpeloos toekyk terwyl haar man so verskriklik swaarkry! In pyn het sy uitgeroep: “Hou jy nog vas aan jou onkreukbaarheid [lojaliteit]? Vervloek God en sterf!” Sy het nie geklink soos die vrou wat Job geken het en vir wie hy lief was nie. Hy kon dalk gedink het dat sy so praat omdat sy onder baie druk was. Maar hy het nog steeds geweier om sy God te vervloek. Hy het nie met sy lippe gesondig nie. – Job 2:7-10.

 Het jy geweet dat hierdie hartseer maar ware verhaal jou persoonlik raak? Let op dat Satan sy wrede aantyging nie net teen Job gemaak het nie, maar teen die hele mensdom. Hy het gesê: “Alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel.” Met ander woorde, Satan glo dat dit onmoontlik vir elkeen van ons is om lojaal te bly aan Jehovah! Hy sê dat jy nie regtig lief is vir God nie en dat jy, sonder om twee keer daaraan te dink, God sal verlaat om jouself te red. In werklikheid sê Satan dat jy net so selfsugtig soos hy is! Wil jy hom verkeerd bewys? Ons elkeen het hierdie voorreg (Spreuke 27:11). Kom ons kyk nou voor watter uitdaging Job volgende te staan gekom het.

Die vertroosters wat misluk het

 Daar was drie mans wat vir Job geken het, en die Bybel beskryf hulle as metgeselle. Hulle het van sy probleme gehoor en het na hom toe gekom om hom te vertroos. Toe hulle aankom en hom sien, het hulle hom nie eers herken nie. Hy was deurtrek met pyn en die siekte het veroorsaak dat sy vel swart geword het. Hy het glad nie soos die persoon gelyk wat hy eers was nie. Die drie mans – Elifas, Bildad en Sofar – het gemaak asof hulle baie hartseer is, kliphard gehuil en stof op hulle koppe gegooi. Toe het hulle op die grond naby Job gaan sit en niks gesê nie. Hulle het ’n hele week, dag en nag, daar gesit sonder om ’n woord te sê. Ons moenie die fout maak om te dink dat hulle stilgebly het omdat hulle Job wou vertroos nie, want hulle het hom nie eers vrae gevra nie. Al wat hulle geweet het, is dit wat hulle kon sien, dat Job in baie pyn was. – Job 2:11-13; 30:30.

 Uiteindelik moes Job maar self die gesprek begin. Omdat Job in soveel pyn was, het hy die dag waarop hy gebore is, vervloek. En hy het ook gepraat van die oorsaak van sy verskriklike pyn. Hy het gedink dat dit God is wat die oorsaak van sy probleme was! (Job 3:1, 2, 23). Al het Job nog steeds geloof in God gehad, het hy dringend vertroosting nodig gehad. Maar toe hierdie metgeselle begin praat het, het Job gou besef dat hulle stilte eintlik beter was. – Job 13:5.

 Elifas, wat moontlik die oudste van die drie was en baie ouer as Job was, het begin praat. Ná ’n ruk het die ander twee ook saam gepraat. ’n Mens kan sê dat hulle maar net agter Elifas aangegaan het. ’n Paar van die dinge wat daardie mans gesê het, het dalk skadeloos geklink. Hulle het dinge oor God herhaal wat mense dikwels sê en wat reg klink soos dat God hoog verhewe is, dat hy slegte mense straf en goeie mense seën. Maar van die begin af het hulle woorde gewys dat hulle nie regtig vir Job omgee nie. Elifas het geredeneer op ’n manier wat dalk logies gelyk het, maar wat eintlik belangrike waarhede geïgnoreer het. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat as God goed is en slegte mense straf, dan moes Job iets slegs gedoen het, want dit was duidelik dat hy gestraf word. – Job 4:1, 7, 8; 5:3-6.

 Dit verbaas ons nie dat Job nie hierdie redenasie aanvaar het nie. Hy het dit dadelik verwerp (Job 6:25). Maar die drie raadgewers was al hoe meer oortuig dat Job skuldig is aan verkeerde dinge. Hulle het gedink dat hy al die slegte dinge wat met hom gebeur het, verdien het. Elifas het Job daarvan beskuldig dat hy vermetel is, goddeloos is en God nie vrees nie (Job 15:4, 7-9, 20-24; 22:6-11). Sofar het vir Job gesê om op te hou met slegte dinge en om nie sy sondige weg te geniet nie (Job 11:2, 3, 14; 20:5, 12, 13). En Bildad het iets gesê wat veral wreed is. Hy het dit laat klink asof Job se seuns op die een of ander manier gesondig het en dat hulle dit verdien het om te sterf op die manier wat hulle gesterf het! – Job 8:4, 13.

Job se drie metgeselle het hom glad nie vertroos nie, en hulle het net nog meer pyn vir hom veroorsaak

Lojaliteit word aangeval!

 Hierdie onverstandige mans het nog ’n stappie verder gegaan. Hulle het nie net gesê dat Job nie heeltemal lojaal is aan God nie, maar hulle het ook gesê dat dit glad nie eers die moeite werd is om lojaal te wees aan God nie! Toe Elifas begin praat het, het hy ’n vreemde ontmoeting met ’n onsigbare gees beskryf. Daardie demoniese ondervinding het vir Elifas tot ’n verskriklike gevolgtrekking laat kom: God ‘het geen geloof in sy knegte nie’ en hy vind fout met sy engele. Volgens hierdie redenasie kan mense God nooit gelukkig maak nie! Later het Bildad gesê dat Job se lojaliteit nie vir God saak maak nie, net soos ’n wurm se lojaliteit nie saak maak nie! – Job 4:12-18; 15:15; 22:2, 3; 25:4-6.

 Het jy al ooit probeer om iemand te vertroos terwyl hulle deur verskriklike pyn gaan? Dit is nie maklik nie. Maar ons kan baie leer by Job se onverstandige metgeselle – meestal oor wat om nie te sê nie. Die drie mans het baie dinge gesê wat dalk intelligent en logies geklink het, maar hulle het nooit eers Job se naam gebruik toe hulle met hom gepraat het nie! Hulle het nie omgegee dat Job se hart gebreek is nie, en hulle het nie gedink dat hulle meegevoel met hom moes hê nie. a So as iemand na aan jou, hartseer is, wys vir die persoon dat jy regtig omgee, wees vriendelik en wees daar vir hom. Probeer om die persoon se geloof op te bou en moedig hom aan. Help hom om op God te vertrou en om te glo dat Hy goedhartig, genadig en regverdig is. Dit is wat Job vir sy metgeselle sou gedoen het as hy in hulle skoene was (Job 16:4, 5). Maar hoe het hy gereageer op hulle aanhoudende aanvalle op sy lojaliteit?

Job het vasgestaan

 Arme Job was alreeds depressief toe hierdie lang gesprek begin het. Van die begin af het hy erken dat party van die dinge wat hy gesê het, “wilde praatjies” en “die woorde van ’n wanhopige” is (Job 6:3, 26). Ons kan verstaan hoekom. Hy het hierdie dinge gesê omdat hy baie ontsteld is. Wat hy gesê het, het gewys dat hy nie regtig verstaan het wat besig is om te gebeur nie. Omdat hierdie tragiese dinge so skielik met Job en sy familie gebeur het, en dit selfs bonatuurlik gelyk het, het hy aangeneem dat Jehovah die oorsaak is. Daar het belangrike dinge gebeur waarvan Job nie geweet het nie, en daarom was sy gevolgtrekkings op verkeerde idees gebaseer.

 Maar Job was iemand wat sterk geloof gehad het. ’n Mens kon sien dat hy geloof gehad het uit dit wat hy in daardie lang gesprek gesê het. Sy woorde was waar, pragtig en aanmoedigend selfs vir ons vandag. Toe hy oor die wonders van die skepping gepraat het, het hy God verheerlik deur dinge te beskryf wat geen mens kon geweet het as God dit nie vir hom gewys het nie. Byvoorbeeld, hy het gesê dat Jehovah ‘die aarde aan niks ophang’ nie, ’n feit wat wetenskaplikes eers honderde jare later uitgevind het (Job 26:7). b En toe Job oor sy hoop vir die toekoms gepraat het, was dit dieselfde hoop wat baie ander getroue mans gehad het. Job het geglo dat as hy sterf, God hom sou onthou, na hom sou verlang en hom uiteindelik ’n opstanding sou gee. – Job 14:13-15; Hebreërs 11:17-19, 35.

 Maar wat van die geskil van lojaliteit? Elifas en sy twee vriende het daarop aangedring dat ’n mens se lojaliteit nie vir God saak maak nie. Het Job hierdie goddelose idee aanvaar? Beslis nie! Job het gesê dat lojaliteit vir God belangrik is. Hy het met volle vertroue van Jehovah gesê: “God sal my onkreukbaarheid [lojaliteit] te wete kom” (Job 31:6). Wat meer is, Job het duidelik gesien dat die verkeerde redenasie van sy sogenaamde vertroosters eintlik maar net ’n aanval op sy lojaliteit is. Dit het Job beweeg om dinge te sê in die laaste deel van die gesprek wat daardie drie mans stilgemaak het.

 Job het besef dat sy lojaliteit deel is van sy alledaagse lewe. Daarom het hy verduidelik hoe hy in alles wat hy doen, lojaal bly aan God. Byvoorbeeld, hy het alle vorme van afgodediens vermy; hy was vriendelik teenoor ander en het hulle met waardigheid behandel; hy het sedelik rein gebly, sy huwelik was vir hom belangrik; en die belangrikste van alles is dat hy lojaal en getrou aan die enigste ware God, Jehovah, was. Daarom kon Job met sy hele hart sê: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid [lojaliteit] nie prysgee nie!” – Job 27:5; 31:1, 2, 9-11, 16-18, 26-28.

Job het geweier om sy lojaliteit prys te gee

Volg Job se geloof na

 Is lojaliteit vir jou net so belangrik soos wat dit vir Job was? Job het verstaan dat dit nie genoeg is om net te sê dat jy lojaal is aan God nie, maar dat jy dit moet bewys deur wat jy doen in jou lewe. Ons wys dat ons met ons hele hart toegewy is aan God deur gehoorsaam te wees aan hom en elke dag te doen wat reg is in sy oë – selfs wanneer dit moeilik is. As ons op hierdie manier lewe, sal ons Jehovah beslis gelukkig maak en sy vyand, Satan, frustreer net soos Job lank gelede gedoen het. Daar is nie ’n beter manier om Job se geloof na te volg nie!

 Maar dit is nie die einde van Job se verhaal nie. Hy het vergeet wat regtig belangrik was. Hy was so daarop gefokus om sy eie regverdigheid te bewys dat hy vergeet het om God te verdedig. Hy moes reggehelp word en het geestelike hulp nodig gehad. En hy het nog steeds baie swaargekry en was besig om te treur. Hy het dringend opregte vertroosting nodig gehad. Wat sou Jehovah doen vir hierdie lojale man van geloof? ’n Ander artikel in hierdie reeks sal hierdie vrae bespreek.

a Snaaks genoeg, Elifas het gedink dat hy en sy vriende mooi met Job gepraat het, miskien omdat hulle nie hard gepraat het nie (Job 15:11). Maar selfs al praat ’n mens op sagte manier, kan dit wat jy sê nog steeds wreed en ongevoelig wees.

b Sover ons weet, het wetenskaplikes eers omtrent 3 000 jaar later die idee begin aanvaar dat dit nie vir die aarde nodig is om op ’n fisiese voorwerp of middel te rus nie. Eers toe foto’s in die ruimte geneem is, kon alle mense oortuigende bewyse sien van wat Job gesê het.