HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP
Beskerm jou kind teen pornografie
“Dis nie dat ons nie geweet het hoe gevaarlik pornografie is nie – want ons het beslis geweet – maar ons het nie besef hoe maklik dit vir ons dogter sou wees om dit te sien nie.” – Nicole.
In hierdie artikel
Wat jy moet weet
Kinders kan op ’n jong ouderdom aan pornografie blootgestel word. Studies wys dat die gemiddelde ouderdom wanneer kinders pornografie vir die eerste keer sien, nou 11 is.
Kinders kan aan pornografie blootgestel word al soek hulle nie daarvoor nie. Hulle kan byvoorbeeld per ongeluk pornografie sien terwyl hulle navorsing doen op die internet of wanneer hulle sosiale media gebruik. Advertensies vir pornografie kan skielik verskyn wanneer hulle besig is om aanlyn videospeletjies te speel. Pornografie is in verskillende vorme beskikbaar waarvan foto’s en video’s die algemeenste vorme is. Maar dit is ook maklik om pornografiese stories op die internet te kry wat ’n persoon kan lees of in die vorm van oudio-opnames waarna ’n persoon kan luister.
Ouers moet ook daarvan bewus wees dat mense dalk vir kinders pornografiese boodskappe na hulle foon kan stuur. In een studie waaraan meer as 900 jongmense deelgeneem het, het byna 90 persent van die meisies en amper 50 persent van die seuns gesê dat hulle klasmaats gereeld vir hulle foto’s en video’s van kaal mense stuur.
Hoofstroompornografie is dikwels gewelddadig. Pornografie wat die gewildste is en die maklikste gevind kan word, bevat dikwels die een of ander tipe geweld, gewoonlik teen vrouens.
Pornografie maak kinders seer. Navorsing toon dat kinders wat aan pornografie blootgestel word, meer geneig is om die volgende te doen:
sleg te doen in hulle skoolwerk
angs, depressie en ’n lae selfbeeld te ondervind
te dink dat dit normaal is om mense te forseer of druk op hulle te plaas om aan seksuele aktiwiteite deel te neem
Die slotsom: As kinders pornografie sien, sal hulle heel moontlik op ’n negatiewe manier daardeur geraak word, en ouers is in die beste posisie om hulle te beskerm.
Bybelwaarheid: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees, en jy moet dit vir jou kinders herhaal en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.” – Deuteronomium 6:6, 7.
Hoe om jou kind teen pornografie te beskerm
Wees ingelig. Dink aan wanneer en waar jou kind aan pornografie blootgestel kan word. Het hy byvoorbeeld gedurende pouses toegang tot die internet by die skool sonder toesig?
Leer ken die kenmerke op sy a selfoon wat jou kan help om die inligting wat hy ontvang, te beperk asook die apps wat hy gebruik en die speletjies wat hy speel. Byvoorbeeld, party boodskap-apps het ’n funksie wat ’n pornografiese boodskap, beeld of video ná ’n kort rukkie laat verdwyn. En al hoe meer aanlyn videospeletjies laat spelers toe om pornografie te kyk en om selfs voor te gee om die seksuele dade in die speletjie te doen.
“Ek sê dit uit ondervinding: As jou kind ’n slimfoon het, moet jy as ouer weet hoe om dit te gebruik, watter opsies dit het om te beperk wat jou kind op sy foon kan sien en hoe om te kyk wat jou kind op sy toestel doen.” – David.
Bybelwaarheid: “Die hart van die verstandige verkry kennis.” – Spreuke 18:15.
Doen alles wat jy kan om te keer dat jou kind na pornografie kyk, daarna luister of dit lees. Doen wat jy kan om die risiko te verminder. Byvoorbeeld: Stel al die funksies op jou kind se foon sowel as al die ander toestelle in die huis om pornografiese materiaal te blok. Aktiveer die beperkingsopsies. En ken al die wagwoorde wat jou kind gebruik.
“Ek het dit prakties gevind om die beperkingsopsies op ons toestelle aan te skakel en die programme te beperk waartoe my seun toegang kon hê op ons slim-TV. Ek weet ook wat die kode vir sy slimfoon is.” – Maurizio.
“Ek laat nie my seuns toe om video’s in hulle kamer te kyk as die deur toe is nie. Wanneer dit tyd is om te gaan slaap, laat ek hulle nie toe om hulle toestelle in hulle kamer te hou nie.” – Gianluca.
Bybelwaarheid: “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit.” – Spreuke 22:3.
Berei jou kind voor vir blootstelling. ’n Ma met die naam Flavia erken: “Party ouers vermy dit om met hulle kind oor pornografie te praat omdat hulle hulleself oortuig dat hulle kind nooit hierdie probleem sal hê nie.” Ander ouers dink dalk: ‘As ek dit noem, sal my kind daarna wil kyk.’ Om so te dink is gevaarlik. Wyse ouers sal hulle kind oor die gevare van pornografie leer voordat hy daaraan blootgestel word. Hoe kan jy dit doen?
Leer jong kinders wat hulle moet doen as hulle aan pornografiese materiaal blootgestel word. Hulle kan byvoorbeeld hulle oë toemaak of hulle toestel afsit. En moedig hulle aan om met jou te praat oor wat hulle gesien of gehoor het. b
“Ons het begin om oor die gevare van pornografie te praat toe my seun baie jonk was. Toe hy omtrent 11 was, het pornografiese advertensies in ’n speletjie begin verskyn wat hy op sy slimfoon afgelaai het. In die advertensies was daar ook uitnodigings om foto’s van homself te stuur. Omdat ons gepraat het oor wat om te doen, het hy dadelik vir my kom vertel wat gebeur het.” – Maurizio.
Bybelwaarheid: “Lei ’n kind op in die weg wat hy moet volg. Selfs as hy oud word, sal hy dit nie verlaat nie.” – Spreuke 22:6.
Help ouer kinders om die versoeking te weerstaan om na pornografie te kyk, daarna te luister of dit te lees. Byvoorbeeld, help jou kind om ’n kontrak op te stel waarin hy die reëls van die gesin neerskryf. Dit sal verduidelik wat hy sal doen as hy aan pornografie blootgestel word en hoekom hy dit wil doen. Hy moet ook by die kontrak insluit wat die gevolge sal wees as hy doelbewus na pornografie kyk, soos dat jy jou selfrespek verloor, jou ouers se vertroue verloor en jou verhouding met God beskadig. c
“Soos kinders ouer word, help hulle om die versoeking te weerstaan om na pornografie te kyk deur aan die langtermyngevolge te dink.” – Lauretta.
“Dit sal vir ons kinders makliker wees om pornografie te weerstaan as hulle nie net die gevare van pornografie verstaan nie, maar ook hoe Jehovah daaroor voel.” – David.
Bybelwaarheid: “Wysheid is ’n beskerming.” – Prediker 7:12.
Praat gereeld. Al is dit moeilik om te glo, kinders wil graag met hulle ouers oor seksuele sake, insluitende pornografie, praat. Dame Rachel de Souza, Engeland se Kommissaris vir Kinders, sê: “Die oorheersende boodskap [van kinders] is praat vroeg, praat dikwels. Kinders wil oor hierdie dinge praat op ’n manier wat gepas is vir hulle ouderdom. Soos hulle ouer word, sal dit nodig wees om verskillende aspekte van hierdie onderwerp te bespreek.”
“Terwyl ek grootgeword het, was daar sekere onderwerpe wat my ouers nooit met my bespreek het nie. Ek wens ons het meer openlik met mekaar gepraat. Noudat ek ’n ma is, probeer ek om gereeld met my kinders op ’n ontspanne manier oor seks te praat.” – Flavia.
As jou kind aan pornografie blootgestel was
Bly kalm. As jy ontdek dat jou kind na pornografie gekyk, geluister of gelees het, probeer om jou reaksie te beheer. Hy voel dalk reeds ontsteld, geskok of skuldig oor wat gebeur het. Om in woede te reageer kan hom net nog slegter laat voel en dit vir hom moeiliker maak om in die toekoms met jou daaroor te praat.
Bybelwaarheid: “’n Man wat kennis het, hou sy woorde terug, en ’n man wat insig het, sal kalm bly.” – Spreuke 17:27.
Kry die feite. Eerder as om aan te neem dat jy weet wat gebeur het, vra vrae om uit te vind hoe jou kind aan pornografie blootgestel was. Byvoorbeeld, het iemand vir hom die beeld gestuur, of het hy dit self gekry? Het dit net een keer gebeur, of het hy al voorheen na pornografie gekyk? Was die beperkingsopsies aangeskakel op die toestel wat hy gebruik het? Indien wel, het hy ’n manier gekry om nog steeds na die pornografie te kyk? Onthou, jou doel is om jou kind aan te moedig om te sê hoe hy voel, nie om hom te ondervra nie.
Bybelwaarheid: “Die gedagtes van ’n man se hart is soos diep waters, maar die man wat insig het, sal dit na die oppervlak bring.” – Spreuke 20:5.
Doen iets. As jou kind byvoorbeeld per ongeluk die pornografie gekry het, moet jy dalk die beperkingsopsies op sy toestel aanpas.
As jy besef dat hy doelbewus na pornografie gekyk het, moet jy hom liefdevol maar ferm dissiplineer. Versterk jou kind se begeerte om pornografie te verwerp deur met hom te redeneer oor tekste soos Job 31:1, Psalm 97:10 en Psalm 101:3. d En sê vir hom dat jy elke week met hom daaroor sal praat om uit te vind hoe hy vorder en om te sien of daar enige iets anders is wat jy kan doen om hom te help.
Bybelwaarheid: “Moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en riglyne van Jehovah op te voed.” – Efesiërs 6:4.
a Hoewel ons na die kind as ’n seun verwys, is die inligting wat in hierdie artikel bespreek word, ook op meisies van toepassing.
b Vir voorstelle oor hoe om met jou kind oor seks te gesels op ’n manier wat gepas is vir sy of haar ouderdom, sien die artikel “Hoe kan ouers hulle kinders oor seks leer?”
c Vir nog idees oor wat om by die kontrak in te sluit, sien die werkblad “Hoe om pornografie te verwerp”.
d Julle kan ook saam na die artikel kyk “Waarom moet ek pornografie verwerp?”