HULP VIR DIE GESIN
Hoe om jou woede onder beheer te hou
Jou huweliksmaat sê of doen iets wat jou kwaad maak, en jy probeer om nie te wys dat jy vies is nie. Maar dan kom jou maat agter dat iets fout is en begin vrae vra. Dit irriteer jou selfs meer. Hoe kan jy jou woede onder beheer hou in sulke situasies?
Wat jy moet weet
Om oor te gee aan woede, kan sleg wees vir jou gesondheid. Volgens navorsing kan onbeheerste woede jou kanse verhoog op hoë bloeddruk, hartsiektes, depressie en spysverteringsprobleme. Woede word ook gekoppel aan slaaploosheid, groter stres, velprobleme en beroerte. Die Bybel sê met goeie rede: “Laat staan die toorn [woede] . . . , dit is net om kwaad te doen.” — Psalm 37:8.
Om woede te onderdruk, kan ook sleg wees vir jou. As jy kwaad bly, kan dit soos ’n siekte wees wat jou van binne af opvreet. Byvoorbeeld, jy kan ’n siniese of kritiese gesindheid ontwikkel. So ’n gesindheid sal die lewe moeilik maak vir die mense om jou, en dit kan jou huwelik groot skade aandoen.
Wat jy kan doen
Dink aan jou maat se goeie eienskappe. Skryf drie dinge neer oor jou maat wat jou beïndruk. Die volgende keer as jy kwaad word oor iets wat jou maat gedoen het, dink aan die eienskappe wat jy neergeskryf het. Dit kan jou help om jou woede onder beheer te hou.
Bybelwaarheid: “Toon dat julle dankbaar is.” — Kolossense 3:15.
Leer om te vergewe. Probeer eers dinge sien vanuit jou maat se oogpunt. Dit sal jou help om “meegevoel” te ontwikkel (1 Petrus 3:8). Vra jou dan af: ‘Is die rede vir my woede so ernstig dat ek nie kan vergewe nie?’
Bybelwaarheid: “Dit is mooi . . . om die oortreding oor te sien.” — Spreuke 19:11.
Druk jou gevoelens uit op ’n taktvolle en vriendelike manier. Gebruik woorde soos “ek voel”. Byvoorbeeld, moenie iets sê soos: “Jy is so onbedagsaam wanneer jy nie bel om te sê waar jy is nie.” Sê eerder: “Ek voel bekommerd wanneer dit laat word en ek nie weet of jy veilig is nie.” Om dinge op ’n vriendelike manier te sê, kan jou help om jou woede onder beheer te hou.
Bybelwaarheid: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout.” — Kolossense 4:6.
Luister met respek. Nadat jy gesê het hoe jy voel, gee jou maat die kans om te praat sonder om hom of haar in die rede te val. Wanneer jou maat klaar gepraat het, herhaal wat hulle gesê het om seker te maak dat jy reg verstaan. As ’n mens eenvoudig net luister, kan dit regtig baie help om jou woede onder beheer te hou.
Bybelwaarheid: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat.” — Jakobus 1:19.