Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Leer jou kind om deursettingsvermoë te hê

Leer jou kind om deursettingsvermoë te hê

 Jou seun skree: “Ek kan dit nie doen nie! Dit is te moeilik! Ek sal dit nooit regkry nie!” Hy wil opgee met ’n taak wat vir hom te moeilik is. Jy haat dit om te sien hoe jou seun sukkel, maar jy wil hê hy moet leer hoe om uitdagings te oorkom. Moet jy hom onmiddellik probeer help? Moet jy hom net laat opgee? Of kan jy jou kind leer hoe om deursettingsvermoë te hê?

Wat jy moet weet

 Deursettingsvermoë is belangrik. Wanneer ouers hulle kind leer om sy vermoëns deur harde werk te ontwikkel, is die kanse groter dat hy goed op skool sal doen, gelukkiger en gesonder sal wees en sterker en gelukkiger vriendskappe sal hê. Aan die ander kant, wanneer ouers hulle kind teen probleme en mislukkings beskerm, is die kanse groter dat hy depressief sal word, sal dink dat hy nie enige vermoëns het nie en minder gelukkig as ’n volwassene sal wees.

 Deursettingsvermoë kan meer word. Selfs kinders wat baie jonk is, kan meer vasbeslote word om moeilike dinge te doen en probleme op te los. Navorsers het in een studie gevind dat babas wat 15 maande oud is, harder probeer het om iets moeiliks te doen as hulle eers gesien het hoe ’n volwassene ook daarmee sukkel voordat hulle dit regkry.

 “Ek onthou toe ek my dogters geleer het hoe om hulle veters vas te maak. Dit is nie iets wat jy in een dag leer om te doen nie. Elke keer as hulle hulle veters moes vasmaak, het hulle 10-15 minute alleen gesit terwyl hulle probeer onthou het hoe om dit te doen. Dan het ek hulle gehelp. Dit het ’n paar maande en baie trane geneem, maar hulle het dit uiteindelik reggekry. Dit kon my lewe makliker gemaak het as ek vir hulle skoene sonder veters gekoop het. Maar partykeer moet ons, selfs as ouers, vasbyt sodat ons ons kinders kan leer om deur te druk.” – Colleen.

 Deursettingsvermoë kan minder word. Party ouers kan onopsetlik hulle kind se vermoë om vol te hou, verswak. Hoe? Omdat party ouers wil hê dat hulle kind goed oor homself moet voel, is hulle gou om hulle kind te “red” sodat hy nie gefrustreerd sal voel of voel dat hy misluk het nie. Maar dit kan ’n negatiewe uitwerking hê. Die skrywer Jessica Lahey skryf: “Elke keer wanneer ons ons kinders van ’n uitdaging red . . . is dit asof ons vir die kind sê dat ons nie glo of vertrou dat hy dit kan doen nie.” a Wat is die resultaat? Kinders kan gou tou opgooi wanneer hulle in die toekoms voor uitdagings te staan kom omdat hulle glo dat hulle ’n volwassene nodig het om hulle te red.

In plaas daarvan om jou kind van ’n moeilike takie te “red”, kan jy hom leer om deursettingsvermoë te hê

Wat jy kan doen

 Moedig jou kind aan om hard te werk. Ouers kan hulle kinders leer om deursettingsvermoë te hê deur vir hulle huistakies te gee wat vir hulle ouderdom gepas is. Byvoorbeeld, voorskoolse kinders kan help om wasgoed uit te sorteer en hulle speelgoed weg te sit. Kinders wat ’n bietjie ouer is, kan help om inkopies weg te pak, die tafel te dek en af te dek, die vullis uit te sit en skoon te maak as iemand iets kleins gemors het. Tieners kan moeiliker takies doen wat skoonmaak, instandhouding en herstelwerk insluit. Kinders sal nie altyd takies wil doen nie, maar dit is tot hulle voordeel wanneer hulle ouers verwag dat hulle van jongs af met dinge in en om die huis moet help. Hoe help dit kinders? Hulle leer om hard te werk, en dit sal hulle help om nie op te gee wanneer hulle moeilike maar noodsaaklike werk as volwassenes moet doen nie.

 Bybelwaarheid: “Elke soort harde werk hou voordele in.” – Spreuke 14:23.

 “Moenie tyd mors deur vir kinders werk te gee net om hulle besig te hou nie. Niemand hou daarvan nie, nie eers ’n kind nie. Gee hulle iets betekenisvols waarmee hulle kan help. As jou kind nog klein is, laat hom die meubels wat hy kan bykom, afstof. As jy die kar was, laat hom die onderste gedeelte van die kar waarby jy sukkel om uit te kom, was. Wees dan gou om vir jou kind dankie te sê vir sy harde werk.” – Chris.

 Help jou kind om moeilike takies te doen. Partykeer gee kinders maklik op omdat hulle nie weet hoe om ’n takie te doen nie. So wanneer jy jou kind ’n nuwe vaardigheid leer, kan jy die volgende metode probeer. Wys eers vir jou kind hoe om die takie te doen. Doen dan die takie saam. Kyk dan hoe jou kind die takie doen, en gee hom voorstelle wat hom sal help. Laat jou kind uiteindelik toe om die takie heeltemal op sy eie te doen.

 Bybelwaarheid: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel sodat julle ook moet doen wat ek vir julle gedoen het.” – Johannes 13:15.

 “Ek het gesien dat ons as ouers ’n goeie voorbeeld moet stel as ons wil hê dat ons kinders deursettingsvermoë moet ontwikkel. Ons moet die eienskap toon wat ons wil hê hulle moet ontwikkel.” – Doug.

 Help jou kind om te besef dat dit normaal is om te sukkel en partykeer te misluk. Vertel jou kind van tye toe jy met iets gesukkel het, maar daarby baat gevind het omdat jy nie opgegee het nie. Verduidelik dat dit normaal is om dit moeilik te vind as jy nuwe dinge doen. Maar om foute te maak sal hom help om te leer. Verseker jou kind dat jy nie minder lief vir hom sal wees as hy misluk nie. Net soos ’n spier sterker word wanneer jy dit gebruik, sal jou kind se deursettingsvermoë sterker word as jy hom toelaat om uitdagings te ervaar. So in plaas daarvan om jou kind onmiddellik te help wanneer hy voor ’n uitdaging te staan kom, gee hom tyd om aan te hou probeer selfs al raak hy gefrustreerd. Die boek How Children Succeed sê: “Die beste manier vir ’n jong persoon om sterk en volwasse te word, is om iets te probeer doen waar daar ’n werklike en ernstige moontlikheid van mislukking is.”

 Bybelwaarheid: “Dit is vir ’n mens goed om swaar te kry terwyl jy nog jonk is.” – Klaagliedere 3:27, Die Lewende Bybel.

 “Wanneer jy jou kinders toelaat om ’n bietjie te sukkel – terwyl hulle weet dat Ma en Pa daar is om te help – sal die kinders daarby baat vind. Ná ’n tydjie sal hulle ophou sukkel en beide ’n vaardigheid en die vertroue hê dat deursettingsvermoë die moeite werd is.” – Jordan.

 Prys hulle harde werk en nie hulle intelligensie nie. Byvoorbeeld, probeer om nie die volgende te sê nie: “Jy het goed gedoen in hierdie toets! Jy is so slim.” Jy kan liewer sê: “Jy het goed gedoen in hierdie toets! Ek is regtig beïndruk met hoe hard jy daarvoor geleer het.” Hoekom is dit belangrik om hulle harde werk te prys en nie hulle intelligensie nie? Dr. Carol Dweck sê dat as kinders se intelligensie geprys word, “dit veroorsaak dat kinders in hulleself twyfel sodra enige iets moeilik is of verkeerd loop”. Sy sê verder dat die beste geskenk wat ouers hulle kinders kan gee, is om hulle kinders te leer om lief te wees vir uitdagings en om uit hulle foute te wil leer. Ouers moet hulle ook leer om dit te geniet om hard te werk, om nuwe maniere te vind om dinge te doen en om aan te hou leer. Op hierdie manier sal hulle kinders nie beheer word deur die begeerte om geprys te word nie. b

 Bybelwaarheid: “’n Mens [word] getoets deur die lof wat hy ontvang.” – Spreuke 27:21.

a Uit die boek The Gift of Failure.

b Uit die boek Mindset.