Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat kan ek doen as my ouers besig is om te skei?

Wat kan ek doen as my ouers besig is om te skei?

 Een van die stresvolste situasies waardeur jongmense kan gaan, is wanneer hulle ouers skei. Hoe kan jy hierdie hartseer situasie hanteer?

In hierdie artikel

 Drie dinge wat jy nie moet doen nie

 1. Moenie jouself blameer nie

 “My ma het eenkeer vir my gesê dat al die probleme tussen haar en my pa begin het toe ek gebore is. So, ek het aangeneem dat ek die rede was hoekom my ouers se huwelik nie uitgewerk het nie.” – Diana.

 Onthou die volgende: Die egskeiding gaan nie oor jou nie. Jou ouers skei omdat hulle probleme in hulle verhouding het. Jy het nie hulle probleme veroorsaak nie, en jy kan dit nie oplos nie. Hulle is verantwoordelik vir wat hulle oor hulle huweliksprobleme doen.

 “Elkeen sal sy eie vrag dra.” – Galasiërs 6:5.

 2. Moenie kwaad bly nie

 “Ek is baie kwaad vir my pa omdat hy aan my ma ontrou was. Dit sal vir my moeilik wees om hom weer te vertrou.” – Rianna.

 Onthou die volgende: Jy is seker kwaad en gefrustreerd as gevolg van wat tussen jou ouers gebeur, en jy het goeie rede om so te voel. Maar dit is nie goed vir jou om kwaad te bly nie. Dit kan jou fisies en emosioneel seermaak. Dit is hoekom daar gesê word dat om kwaad te bly, soos iemand is wat gif drink en dan verwag dat die ander persoon siek word. a

 “Hou op om kwaad te wees en laat vaar die woede.” – Psalm 37:8.

 3. Moenie twyfel dat jy ’n gelukkige huwelik kan hê nie

 “Ek is so bang dat ek sal doen wat my pa gedoen het. Ek is bang dat as ek trou en kinders kry, ek myself in dieselfde situasie sal sit wat veroorsaak het dat my ouers geskei het.” – Jessica.

 Onthou die volgende: Net omdat jou ouers se huwelik nie uitgewerk het nie, beteken dit nie dat jou huwelik nie sal uitwerk nie. Om die waarheid te sê, jy kan waardevolle lesse uit jou ouers se ondervinding leer. Byvoorbeeld, jy word dalk meer bewus van watter eienskappe om voor uit te kyk in ’n potensiële huweliksmaat. Jou ouers se huwelik wat nie uitgewerk het nie, kan jou ook motiveer om eienskappe te ontwikkel wat van jou ’n beter huweliksmaat sal maak.

 “Laat elkeen sy eie dade ondersoek.” – Galasiërs 6:4.

Om jou ouers se egskeiding te verwerk, is soos om van ’n gebreekte been te herstel. Alhoewel dit nou seer is, sal dit met tyd beter word

 Drie dinge wat jy kan doen

 1. Kommunikeer. Mense wat nie oor hulle negatiewe gevoelens praat nie, raak dikwels betrokke by gewoontes wat hulle seermaak, soos om alkohol te misbruik of om dwelms te gebruik. In plaas daarvan om dit te doen, probeer die volgende:

 Praat met jou ouers. As een of albei jou ouers probeer om jou te laat kant kies in hulle huweliksprobleme, verduidelik op ’n kalm maar ferm manier hoe dit jou affekteer. As dit vir jou te moeilik is om met hulle in persoon te praat, kan jy vir een of albei van hulle ’n brief skryf.

 Praat met ’n vriend wat jy vertrou. Dit kan baie help om iemand te hê wat mooi na jou sal luister. Die Bybel sê: “’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

 Praat met jou Skepper. Jehovah God, wat die “Hoorder van gebed” is, sal altyd na jou luister (Psalm 65:2). Die Bybel sê dat jy ‘al jou bekommernisse aan God kan oorgee, want hy gee om vir jou’. – 1 Petrus 5:7.

  •   Met watter ouer kan jy op ’n kalm en rustige manier praat?

  •   Watter betroubare vriend (’n jong persoon of ’n volwassene) kan jy deel maak van die groep mense wat jou ondersteun?

  •   Oor watter spesifieke probleme kan jy bid?

 2. Pas by verandering aan

 Jou ouers se egskeiding beteken dalk dat jy moet aanpas by ’n nuwe huis, ’n nuwe skool, ’n nuwe lewenstandaard of selfs nuwe vriende. Dit kan natuurlik frustrerend en stresvol wees, en jy voel dalk dat jou hele lewe omgekrap is. Wat kan hierdie verandering vir jou makliker maak? Probeer fokus op hoe jy by die nuwe omstandighede kan aanpas.

  •   Wat is die grootste verandering wat jy moes maak as gevolg van jou ouers se egskeiding?

  •   Watter stappe kan jy neem om by hierdie verandering aan te pas?

 “Ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees met wat ek het.” – Filippense 4:11.

 3. Erken jou sterk punte

 Alhoewel jou ouers se egskeiding jou baie angstig kan maak, kan dit jou ook leer om jou sterk punte te waardeer. Dit kan jou selfs help om nuwe eienskappe aan te leer. Jeremy, wie se ouers geskei het toe hy 13 was, sê: “My ouers se egskeiding het my gedwing om verantwoordeliker te wees. Ek was die oudste kind, so ek moes my ma meer help en ook my jonger boetie ondersteun.”

Jou ouers se egskeiding kan jou motiveer om verantwoordeliker by die huis te wees

  •   Watter sterk punte het jy oor jouself ontdek as gevolg van jou ouers se situasie?

  •   Aan watter eienskappe wil jy graag werk?

 “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig . . . om dinge reg te stel.” – 2 Timoteus 3:16.

a Om meer uit te vind, lees die artikel “Hoe kan ek my woede onder beheer hou?