Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoekom laat my ouers my nie toe om myself te geniet nie?

Hoekom laat my ouers my nie toe om myself te geniet nie?

 Jou vriende het jou na ’n partytjie toe genooi hierdie naweek. Jy vra jou ouers of jy kan gaan, maar hulle antwoord is ’n definitiewe “Nee”. Jy is nie verbaas nie. Dit is dieselfde antwoord wat jy laas keer gekry het.

In hierdie artikel

 Hoekom sê my ouers altyd nee?

 As dit lyk asof jou ouers altyd nee sê, voel jy dalk dat hulle nie wil hê dat jy jouself moet geniet nie.

 ’n Tiener met die naam Marie het so gevoel toe sy haar eerste foon gekry het. Sy sê: “My pa het baie reëls gehad oor watter apps ek kon aflaai, met wie ek kon praat en tot hoe laat ek met hulle kon praat. Intussen kon my vriende doen net wat hulle wou!”

 Iets om oor te dink: Het Marie se pa haar regtig probeer keer dat sy haarself geniet? Watter ander bekommernisse kon hy gehad het?

’n Spoedbeperking beperk jou vryheid ’n bietjie, maar dit beskerm jou teen potensiële gevaar; dieselfde is waar van die beperkings wat jou ouers stel

 Probeer die volgende: Maak asof jy die ouer is en dat jy ’n tiener het wat nou net ’n foon gekry het. Watter bekommernisse sou jy hê? Watter reëls sou jy maak om jou tiener te beskerm? Wat sou jy sê as jou tiener vir jou sê dat jy nie wil hê dat hy homself (of haarself) moet geniet nie?

 “My pa het altyd gesê: ‘Sit jouself in my skoene’. Deur dit te doen, dwing dit my nie net om die waarde van sy reëls te sien nie, maar ook die rede daarvoor. As ek kinders gehad het, dink ek ek sou dieselfde van hulle verwag as wat my pa van my verwag.” – Tanya.

 Hoe kan ek my ouers oortuig om ja te sê?

 Moenie die volgende doen nie: Dikmond wees, kla of stry nie.

 “Om te skree gaan niks bereik nie, en dit is emosioneel uitputtend – vir jou en jou ouers. As jy stry, sal jou ouers dink dat jy onvolwasse is en dat jy nie nog vryheid verdien nie.” – Richard.

 Probeer die volgende: Moenie dadelik reageer nie. Probeer eerder om die situasie te sien soos jou ouers dit sien. Is die probleem dat hulle jou regtig nie vertrou nie, of kan dit wees dat hulle net nie die situasie vertrou waarin jy gaan wees nie? Of is dit die mense saam met wie jy sal wees, wat hulle nie vertrou nie? Bespreek dit op ’n kalm manier met hulle om uit te vind wat hulle rede is.

 “Daar is gewoonlik goeie bedoelings vir elke reël. My ouers probeer my nie keer om myself te geniet nie. Hulle wil net hê dat ek myself op die beste manier moontlik geniet – die manier wat nie probleme veroorsaak nie.” – Ivy.

 Bybelwaarheid: “’n Dwaas beheer nie sy woede nie, maar die wyse man bly kalm.” – Spreuke 29:11.

 Moenie die volgende doen nie: Moenie iets agter jou ouers se rug doen nie.

 “Ek het probeer om die reëls wat my pa gemaak het oor hoe ek my foon mag gebruik, op ’n skelm manier te breek. Ek het probeer om maniere te kry om laat in die aand boodskappe aan my vriende te stuur of apps af te laai wat my pa nie goedgekeur het nie. Maar hy het uiteindelik uitgevind, en my beperkings was dan strenger omdat hy my nie meer kon vertrou nie. Om beperkings te probeer vryspring is nooit ’n goeie idee nie.” – Marie.

 Probeer die volgende: Wys jou ouers dat jy met hulle reëls kan saamwerk en kry hulle vertroue.

 “Wees geduldig. Dit mag dalk tyd vat vir jou ouers om ’n reël aan te pas, maar as hulle sien dat jy die reëls gehoorsaam wat hulle gemaak het, sal hulle geneig wees om jou meer vryheid te gee.” – Melinda.

 Bybelwaarheid: “Wees in alles gehoorsaam aan julle ouers.” – Kolossense 3:20.

 Moenie die volgende doen nie: Druk op jou ouers sit deur vir hulle te sê wat ander kinders jou ouderdom toegelaat word om te doen nie.

 “Om aan te dring op wat jy wil hê, gaan nie jou lewe beter maak of jou help om te kry wat jy wil hê nie.” – Natalie.

 Probeer die volgende: Gebruik die werkblad “Redeneer oor die reëls” om jou te help om die saak met jou ouers te bespreek.

 “’n Ouer wil sien dat jy goeie besluite kan maak. So, wanneer ek met my ouers praat, probeer ek my punt maak deur logiese redes in plaas van emosionele redes te gee. Wanneer ek dit doen, het ek meer sukses.” – Joseph.

 Bybelwaarheid: “Eer jou pa en jou ma.” – Efesiërs 6:2.