JONGMENSE VRA
Wat moet ek doen wanneer ek foute maak?
Wat sal jy doen?
Lees wat met Karina gebeur het, en verbeel jou dat dit met jou gebeur. Wat sal jy doen as jy in haar skoene was?
Karina: “Ek het te vinnig gery, en ’n polisieman het my voorgekeer en vir my ’n boete gegee. Ek was baie ontsteld! Ek het my ma vertel, en sy het gesê dat ek my pa moet vertel—wat ek nie wou doen nie.”
Wat sal jy doen?
Opsie A: Bly stil, en hoop dat jou pa nooit uitvind nie.
Opsie B: Vertel jou pa presies wat gebeur het.
Jy wil dalk baie graag Opsie A kies. Miskien sal jou ma selfs aanneem dat jy jou pa vertel het wat gebeur het. Maar daar is goeie redes waarom jy met die waarheid moet uitkom—hetsy dit met ’n verkeersboete of enigiets anders te doen het.
Drie redes waarom jy jou foute moet erken
1. Omdat dit die regte ding is om te doen. Die Bybel beskryf die standaard vir Christene en sê: “Ons [wil] ons in alles eerlik . . . gedra.”—Hebreërs 13:18.
“Ek het baie hard daaraan gewerk om eerlik te wees en om verantwoordelikheid vir my dade te aanvaar—en om dadelik my foute te erken.”—Alexis.
2. Omdat mense meer geneig is om diegene te vergewe wat hulle foute erken. Die Bybel sê: “Hy wat sy oortredings bedek, sal nie sukses behaal nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word.”—Spreuke 28:13.
“Dit verg moed om ’n fout te erken, maar dis hoe jy mense se vertroue wen. Hulle sien dat jy eerlik is. Wanneer jy ’n fout erken, verander jy iets slegs in iets goeds.”—Richard.
3. Bowenal omdat dit Jehovah God bly maak. Die Bybel sê: “Die slinkse persoon is vir Jehovah verfoeilik, maar Sy intimiteit is met die regskapenes.”—Spreuke 3:32.
“Nadat ek ’n ernstige fout gemaak het, het ek begin besef dat ek dit moet erken. Jehovah sou my nooit kon seën as ek dinge nie op sy manier doen nie.”—Rachel.
Wat het Karina omtrent haar fout gedoen? Sy het die boete vir haar pa probeer wegsteek. Maar sy kon dit nie vir altyd wegsteek nie. “Omtrent ’n jaar later”, sê Karina, “het my pa na ons versekeringsverslae gekyk, en hy het gesien dat daar ’n boete onder my naam is. Ek het in groot moeilikheid beland—selfs my ma was kwaad omdat ek nie gedoen het wat sy vir my gesê het om te doen nie!”
Die les: Karina sê: “Om foute geheim te hou, maak dinge net erger. Jy betaal later daarvoor!”
Hoe om uit jou foute te leer
Almal maak foute (Romeine 3:23; 1 Johannes 1:8). En soos ons gesien het, is dit ’n teken van nederigheid en volwassenheid om dit dadelik te erken.
Die volgende stap is om uit jou foute te leer. Ongelukkig laat party jongmense hierdie geleentheid verbygaan! Hulle voel dalk soos ’n tiener met die naam Priscilla voorheen gevoel het. Sy sê: “My foute het my vreeslik mismoedig laat word. Ek het ’n lae dunk van myself gehad, en daarom het my foute gevoel soos ’n swaar las wat ek nie kan dra nie. Ek het dan oorweldig gevoel en gedink dat daar geen hoop vir my is nie.”
Voel jy soms so? Onthou dan: Om oor foute van die verlede te tob, is soos om heeltyd in die truspieël te kyk terwyl jy ’n motor bestuur. As jy op die verlede konsentreer, sal dit jou net waardeloos laat voel en jou magteloos maak om toekomstige uitdagings die hoof te bied.
Waarom ontwikkel jy nie eerder ’n meer gebalanseerde beskouing nie?
“Kyk terug op jou foute, en leer daaruit sodat jy dit nie herhaal nie. Maar moenie so baie daaroor dink dat dit jou mismoedig maak nie.”—Elliot.
“Ek probeer om foute as ’n leersame ondervinding te beskou en uit elke fout ’n les te leer wat my sal help om ’n beter mens te wees en die situasie die volgende keer anders te hanteer. Dis in elk geval die beste ding om te doen, want dit stel jou in staat om te groei.”—Vera.