Spring na inhoud

Wie is die aartsengel Migael?

Wie is die aartsengel Migael?

Die Bybel se antwoord

 Migael is blykbaar ’n naam wat aan Jesus gegee is voor en ná sy lewe op die aarde. Party godsdienste verwys na hom as “Sint Migael”. a Migael het ná Moses se dood ’n geskil met Satan gehad en hy het ’n engel gehelp om God se boodskap aan die profeet Daniël oor te dra (Daniël 10:13, 21; Judas 9). Die naam Migael beteken “Wie is soos God?” en Migael tree in ooreenstemming met die betekenis van sy naam op deur God se heerskappy te verdedig en teen God se vyande te veg.—Daniël 12:1; Openbaring 12:7.

 Kyk na redes waarom dit redelik is om tot die gevolgtrekking te kom dat Jesus die aartsengel Migael is.

  •   Migael is “die aartsengel” (Judas 9). Die titel “aartsengel” beteken “hoof van die engele” en verskyn net in twee Bybelverse. In albei gevalle is die woord in die enkelvoud, wat te kenne gee dat daar net een engel is wat hierdie titel het. Een van hierdie verse sê dat die verrese Here Jesus “uit die hemel [sal] neerdaal met ’n gebiedende roep, met ’n aartsengel se stem” (1 Tessalonisense 4:16). Jesus het “’n aartsengel se stem” omdat hy die aartsengel, Migael, is.

  •   Migael voer ’n engeleleër aan. “Migael en sy engele het teen die draak [Satan] geveg” (Openbaring 12:7). Migael het groot gesag in die geesteryk, want hy word “een van die vernaamste vorste” en “die groot vors” genoem (Daniël 10:13, 21; 12:1). Volgens ’n geleerde van die Nuwe Testament, David E. Aune, onderskei hierdie titels Migael as “die aanvoerder van die engelemagte”.

     Die Bybel noem die naam van net een ander persoon wat gesag oor ’n engeleleër het. Dit beskryf “die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele in ’n vlammende vuur, wanneer hy wraak uitoefen” (2 Tessalonisense 1:7, 8; Matteus 16:27). Jesus het “hemel [toe] gegaan; en engele en owerhede en magte is aan hom onderwerp” (1 Petrus 3:21, 22). Dit sou nie sin maak as God Jesus en Migael as mededingende aanvoerders van die heilige engele aangestel het nie. Dit is egter redeliker om tot die gevolgtrekking te kom dat altwee name, Jesus en Migael, na dieselfde persoon verwys.

  •   Migael sal “opstaan” gedurende ’n ongekende “tyd van benoudheid” (Daniël 12:1). In die boek Daniël word die woord “opstaan” dikwels gebruik om te verwys na ’n koning wat optree of iets buitengewoons doen (Daniël 11:2-4, 21). Jesus Christus, wat geïdentifiseer word as “Die Woord van God”, sal optree as die “Koning van die konings” deur al God se vyande te vernietig en God se volk te beskerm (Openbaring 19:11-16). Hy sal dit doen gedurende ’n tyd van “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie”.—Matteus 24:21, 42.

a Die Bybel gebruik meer as een naam om ook na ander persone te verwys, insluitende Jakob (wat ook Israel genoem word), Petrus (wat ook Simon genoem word) en Taddeus (wat ook Judas genoem word).—Genesis 49:1, 2; Matteus 10:2, 3; Markus 3:18; Handelinge 1:13.