Spring na inhoud

Gaan diere hemel toe?

Gaan diere hemel toe?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel leer dat uit al die skepsele op aarde gaan net ’n beperkte getal mense hemel toe (Openbaring 14:1, 3). Hulle gaan daar as konings en priesters saam met Jesus regeer (Lukas 22:28-30; Openbaring 5:9, 10). Die meeste mense sal opgewek word tot lewe op ’n paradysaarde. – Psalm 37:11, 29.

 Nêrens in die Bybel praat dit van ’n dierehemel of ’n hondehemel nie – en met goeie rede. Diere kan nie die nodige stappe neem om te kwalifiseer vir “die hemelse roeping” nie (Hebreërs 3:1). Hierdie stappe sluit die volgende in: om kennis in te neem, om geloof te beoefen en om gehoorsaam te wees aan God se gebooie (Matteus 19:17; Johannes 3:16; 17:3). Net mense is geskep met die hoop om vir ewig te lewe. – Genesis 2:16, 17; 3:22, 23.

 Vir aardse skepsele om hemel toe te gaan, moet hulle ’n opstanding kry (1 Korintiërs 15:42). Die Bybel noem ’n hele paar opstandings (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37; 13:20, 21; Lukas 7:11-15; 8:41, 42, 49-56; Johannes 11:38-44; Handelinge 9:36-42; 20:7-12). Maar al hierdie opstandings was dié van mense, nie diere nie.

 Het diere siele?

 Nee. Die Bybel sê dat beide diere en mense siele is (Numeri 31:28). Toe die eerste man, Adam, geskep is, is hy nie ’n siel gegee nie, maar hy “het ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). ’n Siel bestaan uit twee dinge: die “stof van die aarde” en “die asem van die lewe”.

 Kan siele doodgaan?

 Ja, die Bybel leer dat siele kan doodgaan (Levitikus 21:11; Esegiël 18:20). Diere en mense word weer stof wanneer hulle doodgaan (Prediker 3:19, 20). Met ander woorde, hulle bestaan nie meer nie. a

 Kan diere sondig?

 Nee. Om te sondig beteken jy dink, voel of doen iets wat nie volgens God se standaarde is nie. Om te kan sondig, moet ’n skepsel weet wat die verskil is tussen reg en verkeerd – iets wat ’n dier nie kan doen nie. Hulle doen dinge volgens instink gedurende hulle beperkte lewensduur (2 Petrus 2:12). Aan die einde van hulle lewe, gaan hulle dood, al het hulle nie gesondig nie.

 Is dit reg om diere te mishandel?

 Nee. God het die mens gesag oor die diere gegee, maar nie die reg om hulle te mishandel nie (Genesis 1:28; Psalm 8:6-8). God gee om vir elke liewe diere – insluitende klein voëltjies (Jona 4:11; Matteus 10:29). Hy het sy aanbidders die bevel gegee om vir die diere te sorg. – Eksodus 23:12; Deuteronomium 25:4; Spreuke 12:10.

a Vir meer inligting sien hoofstuk 6 van die boek Wat kan die Bybel ons leer?