Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor natuurrampe?

Wat sê die Bybel oor natuurrampe?

Die Bybel se antwoord

 God veroorsaak nie die natuurrampe wat vandag plaasvind nie, maar hy is besorg oor mense wat daardeur geraak word. God se Koninkryk sal ’n einde maak aan alle dinge wat pyn en lyding veroorsaak, insluitende natuurrampe. Intussen vertroos God dié wat deur natuurrampe geraak word. – 2 Korintiërs 1:3.

 Hoekom kan ons seker wees dat God ons nie met natuurrampe straf nie?

 Die manier hoe God natuurkragte in die Bybel gebruik het, verskil van die natuurrampe wat vandag plaasvind.

  •   Natuurrampe vermink en maak mense dood, ongeag wie hulle is. Maar wanneer God natuurkragte gebruik het om mense te straf, was hy selektief. Toe God byvoorbeeld die eertydse stede Sodom en Gomorra vernietig het, het hy die goeie man Lot en sy twee dogters gered (Genesis 19:29, 30). God het die harte gelees van die mense van daardie tyd en het net dié vernietig wat hy as goddeloos beskou het. – Genesis 18:23-32; 1 Samuel 16:7.

  •   Natuurrampe vind gewoonlik plaas met min of geen waarskuwing. Maar God het die goddelose mense gewaarsku voordat hy natuurkragte teen hulle gebruik het. Die mense wat na die waarskuwing geluister het, het ’n kans gehad om die natuurramp vry te spring. – Genesis 7:1-5; Matteus 24:38, 39.

  •   Mense het tot ’n mate bygedra tot natuurrampe. Hoe? Deur die natuurlike omgewing te beskadig en in gebiede te bou waar daar gewoonlik aardbewings, vloede en uiterste weerstoestande is (Openbaring 11:18). God kan nie blameer word vir sulke besluite nie. – Spreuke 19:3.

 Is natuurrampe ’n teken dat ons in die laaste dae lewe?

 Ja, Bybelprofesieë wys dat daar rampe gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” of “die laaste dae” sou wees (Matteus 24:3; 2 Timoteus 3:1). Jesus het byvoorbeeld oor ons tyd gesê: “Daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees” (Matteus 24:7). God gaan binnekort ’n einde maak aan alle dinge wat pyn en lyding veroorsaak, insluitende natuurrampe. – Openbaring 21:3, 4.

 Hoe help God slagoffers van natuurrampe?

  •   God vertroos slagoffers deur sy Woord, die Bybel. Die Bybel verseker ons dat God vir ons omgee en dat hy hartseer voel wanneer ons ly (Jesaja 63:9; 1 Petrus 5:6, 7). Dit vertel ons ook van sy belofte dat daar ’n tyd sal wees wanneer natuurrampe nie meer daar sal wees nie. – Sien “ Bybelverse om slagoffers van natuurrampe te vertroos”.

  •   God help slagoffers deur middel van sy aanbidders. God gebruik sy aanbidders op die aarde om Jesus se voorbeeld na te volg. Daar is voorspel dat Jesus “die gebrokenes van hart” en “al die treurendes” sou vertroos (Jesaja 61:1, 2). Aanbidders van God probeer ook om dit te doen. – Johannes 13:15.

     God gebruik ook sy aanbidders om slagoffers van natuurrampe op praktiese maniere te help. – Handelinge 11:28-30; Galasiërs 6:10.

Jehovah se Getuies help orkaanslagoffers in Puerto Rico

 Kan die Bybel ons help om vir ’n natuurramp voor te berei?

 Ja. Al is die Bybel nie ’n handboek om ons vir rampe voor te berei nie, bevat dit beginsels wat ons kan help. Byvoorbeeld:

  •   Beplan vooruit vir moontlike rampe. Die Bybel sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). Dit is ’n goeie idee om te beplan wat ons gaan doen voordat ons in ’n gevaarlike situasie beland. Sulke beplanning sluit dalk in om ’n noodhulpkissie gereed te hê en om met jou gesin te bespreek waar julle sal ontmoet as daar ’n ramp sou plaasvind.

  •   Die lewe is kosbaarder as besittings. Die Bybel erken: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie” (1 Timoteus 6:7, 8). Ons moet bereid wees om ons huis en besittings agter te laat om na veiligheid te vlug. Ons moet onthou dat ons lewe belangriker is as enige materiële besittings. – Matteus 6:25.