Wat is die verbondsark?
Die Bybel se antwoord
Die verbondsark was ’n heilige kis wat die eertydse Israeliete op God se bevel en volgens Sy ontwerp gemaak het. Die Tien Gebooie, “die Getuienis”, wat op twee kliptafels geskryf is, is daarin bewaar en beskerm.—Eksodus 25:8-10, 16; 31:18.
Struktuur. Die Ark was 2,5 el lank, 1,5 el breed en 1,5 el hoog (111 x 67 x 67cm). Dit was van akasiahout gemaak, dit was binne en buite met goud oorgetrek en dit het ’n versiering om die rand gehad. Op die deksel, wat van suiwer goud gemaak is, was daar twee goue gerubs aan elke kant. Hulle voorkante was na mekaar toe en hulle gesigte was na die deksel gekeer. Hulle vlerke was na bo uitgesprei en het die deksel bedek. Die Ark het vier goue ringe bo sy pote gehad. Draaghoute wat van akasiahout gemaak is en met goud oorgetrek is, is deur die ringe gesteek en gebruik om die Ark te dra.—Eksodus 25:10-21; 37:6-9.
Ligging. Die Ark was eers gehou in die Allerheiligste deel van die tabernakel, ’n vervoerbare tent van aanbidding wat op dieselfde tyd as die Ark gemaak is. Die priesters en die volk kon nie in die Allerheiligste in sien nie (Eksodus 40:3, 21). Slegs die hoëpriester het een keer per jaar op die Versoendag by hierdie deel ingegaan en die Ark gesien (Levitikus 16:2; Hebreërs 9:7). Die Ark is later na die Allerheiligste in Salomo se tempel geskuif.—1 Konings 6:14, 19.
Doel. Heilige artikels wat die Israeliete sou herinner aan die verbond, of ooreenkoms, wat God met hulle by die berg Sinai gesluit het, is in die Ark bewaar. Dit het ook ’n belangrike rol gespeel in die seremonie wat op die Versoendag plaasgevind het.—Levitikus 16:3, 13-17.
Inhoud. Die kliptafels waarop die Tien Gebooie gegraveer is, was die eerste items wat in die Ark geplaas is (Eksodus 40:20). ’n Goue kruik met manna en “die staf van Aäron wat gebot het”, is later bygesit (Hebreërs 9:4; Eksodus 16:33, 34; Numeri 17:10). Die kruik en die staf is blykbaar op die een of ander tyd verwyder, aangesien dit nie meer in die Ark was toe die Ark na die tempel geskuif is nie.—1 Konings 8:9.
Vervoer. Die Leviete moes die Ark op hulle skouers dra met behulp van die draaghoute wat van akasiahout gemaak is (Numeri 7:9; 1 Kronieke 15:15). Die draaghoute is nie uit die ringe van die Ark verwyder nie, en daarom was dit nooit vir die Leviete nodig om aan die Ark te raak nie (Eksodus 25:12-16). “Die voorhangsel wat as skerm dien” wat die Heilige en Allerheiligste van mekaar afgeskei het, is gebruik om die Ark te bedek terwyl hulle dit gedra het.—Numeri 4:5, 6. a
Simboliek. Die Ark was ’n simbool van God se teenwoordigheid. Die wolk wat byvoorbeeld bokant die Ark in die Allerheiligste en by die Israeliete se kampplekke verskyn het, was ’n teken van Jehovah se teenwoordigheid en van Sy seën (Levitikus 16:2; Numeri 10:33-36). Die Bybel sê ook dat Jehovah “[op sy troon bo] die gerubs” gesit het; dit verwys na die twee gerubs op die Ark se deksel (1 Samuel 4:4; Psalm 80:1, NW). Hierdie gerubs was dus “die afbeelding van die strydwa” van Jehovah (1 Kronieke 28:18). Omdat die Ark ’n simbool van Jehovah se teenwoordigheid was, kon koning Dawid sê dat Jehovah “in Sion woon” nadat die Ark daarheen geskuif is.—Psalm 9:11.
Benamings. Die Bybel gebruik verskillende benamings wanneer dit na hierdie heilige kis verwys, insluitende “die ark van die getuienis”, “die verbondsark”, “die ark van Jehovah” en “die Ark van u [Jehovah se] sterkte”.—Numeri 7:89; Josua 3:6, 13; 2 Kronieke 6:41.
Die Ark se deksel is “die versoendeksel” genoem (1 Kronieke 28:11). Hierdie uitdrukking verwys na die spesiale doel van die deksel op die Versoendag, wanneer Israel se hoëpriester die bloed van die diere wat geoffer is, na die deksel toe en voor die deksel gespat het. Dit het “vir hom en vir sy huis en vir die hele gemeente van Israel” versoening vir hulle sondes gedoen. Dit het as’t ware hulle sondes bedek.—Levitikus 16:14-17.
Bestaan die verbondsark vandag nog?
Daar is geen bewyse hiervan nie. Die Bybel toon dat die Ark nie meer nodig is nie omdat die verbond wat daarmee gepaardgegaan het, vervang is met “’n nuwe verbond”, wat op Jesus se offerande gegrond is (Jeremia 31:31-33; Hebreërs 8:13; 12:24). Die Bybel het dus voorspel dat daar ’n tyd sou wees wanneer die verbondsark nie meer daar sou wees nie en dat God se volk dit nie sou mis nie.—Jeremia 3:16.
In ’n visioen wat die apostel Johannes ontvang het nadat die nuwe verbond bekragtig is, het hy die verbondsark in die hemel gesien (Openbaring 11:15, 19). Hierdie simboliese Ark is ’n teken van God se teenwoordigheid en toon dat Hy die nuwe verbond seën.
Het die Ark as ’n gelukbringer gedien?
Nee. Die teenwoordigheid van die verbondsark het nie sukses verseker nie. Die Israeliete het byvoorbeeld die Ark in hulle kamp gehad toe hulle teen die stad Ai geveg het, maar omdat een Israeliet ontrou was, het hulle die geveg verloor (Josua 7:1-6). Hulle is later deur die Filistyne verslaan ten spyte van die feit dat hulle die verbondsark na die slagveld geneem het. Daardie nederlaag was weens die goddeloosheid van die Israelitiese priesters, Hofni en Pinehas (1 Samuel 2:12; 4:1-11). Die Filistyne het op die Ark beslag gelê tydens hierdie geveg, maar God het plae oor hulle gebring totdat hulle die Ark aan Israel teruggegee het.—1 Samuel 5:11–6:5.
Jaar (VHJ) |
Gebeurtenis |
---|---|
1513 |
Deur Besaleël en sy helpers gemaak van materiaal wat die Israeliete bygedra het.—Eksodus 25:1, 2; 37:1. |
1512 |
Deur Moses saam met die tabernakel en die priesterdom ingewy.—Eksodus 40:1-3, 9, 20, 21. |
1512—Ná 1070 |
Geskuif na verskeie plekke.—Josua 18:1; Rigters 20:26, 27; 1 Samuel 1:24; 3:3; 6:11-14; 7:1, 2. |
Ná 1070 |
Deur koning Dawid na Jerusalem gebring.—2 Samuel 6:12. |
1026 |
Geskuif na Salomo se tempel in Jerusalem.—1 Konings 8:1, 6. |
642 |
Deur koning Josia na die tempel toe teruggeneem.—2 Kronieke 35:3. b |
Voor 607 |
Blykbaar uit die tempel verwyder. Dit word nie genoem in die lys artikels wat na Babilon geneem is toe die tempel in 607 VHJ vernietig is nie en ook nie in die lys artikels wat later na Jerusalem teruggeneem is nie.—2 Konings 25:13-17; Esra 1:7-11. |
63 |
Romeinse generaal Pompejus verower Jerusalem en verklaar dat die Ark nie meer in die Allerheiligste van die tempel is nie. c |
a Dit sou ernstige gevolge vir die Israeliete ingehou het as hulle ongehoorsaam was aan God se wet oor hoe die Ark vervoer en bedek moes word.—1 Samuel 6:19; 2 Samuel 6:2-7.
b Die Bybel sê nie wanneer, waarom of deur wie dit verwyder is nie.
c Sien The Histories, deur Tacitus, Boek V, paragraaf 9.