Spring na inhoud

Bloedoortappings—Wat dokters nou sê

Bloedoortappings—Wat dokters nou sê

Jehovah se Getuies word al dekades lank gekritiseer omdat hulle weier om bloedoortappings te aanvaar. Hierdie weiering, wat gegrond is op die Bybelse opdrag om ‘jou van bloed te onthou’, het soms gebots met wat dokters gedink het die beste mediese behandeling vir hulle pasiënte is.—Handelinge 15:29.

Maar ervare stemme in die mediese gemeenskap wys al hoe meer op mediese redes om kliniese metodes te gebruik wat bloedoortappings vermy.

In sy lente-uitgawe van 2013 het die tydskrif Stanford Medicine Magazine, ’n publikasie van die Mediese Fakulteit van die Stanford-universiteit, ’n spesiale verslag oor bloed bevat, waarvan ’n deel die titel gehad het “Teen die stroom—Wat sit agter die afname in bloedoortappings?” Die skrywer van hierdie artikel, Sarah C.P. Williams, sê: “Oor die afgelope dekade het ’n toenemende hoeveelheid navorsing geopenbaar dat geskenkte bloed meer dikwels, en in groter hoeveelhede, in hospitale regoor die wêreld gebruik word as wat nodig is om pasiënte te help—in teaters sowel as hospitaalsale.”

Die skrywer haal die woorde aan van Patricia Ford, M.D., die stigter en direkteur van Die Sentrum vir Bloedlose Geneeskunde en Chirurgie van die Pennsilvanië-hospitaal. Sy het gesê: “In die kultuur van die geneeskunde is daar die ingewortelde idee dat mense sal sterf as hulle nie ’n sekere hoeveelheid bloed het nie, dat bloed die grootste lewensredder is . . . Dit is waar in sekere gevalle, maar vir die meeste pasiënte in die meeste situasies is dit nie waar nie.” *

Dr. Ford, wat elke jaar omtrent 700 Getuies van Jehovah behandel, het ook gesê: “Baie dokters met wie ek gepraat het, . . . het die wanopvatting dat talle pasiënte eenvoudig nie aan die lewe kan bly as hulle nie bloed ontvang nie . . . Ek het dit moontlik ook in sekere mate geglo. Maar ek het gou geleer dat jy hierdie pasiënte kan behandel deur bloot ’n paar maklike metodes te volg.”

In Augustus 2012 het die tydskrif Archives of Internal Medicine die resultate gepubliseer van ’n studie wat oor ’n tydperk van 28 jaar by een sentrum gedoen is onder pasiënte wat hartoperasies gehad het. Jehovah se Getuies het beter gevaar as pasiënte met soortgelyke toestande wat bloedoortappings ontvang het. Die Getuies het minder komplikasies in die hospitaal gehad, beter oorlewingsyfers kort ná die operasie en soortgelyke oorlewingsyfers oor ’n tydperk van 20 jaar as pasiënte wat oortappings ontvang het.

’n Artikel in The Wall Street Journal wat op 8 April 2013 gepubliseer is, het gesê: “Bloedlose chirurgie—operasies sonder die gebruik van geskenkte bloed—word al jare lank gedoen op pasiënte met godsdiensbesware teen oortappings. Nou word dit by al hoe meer hospitale gedoen . . . Snydokters wat bloedlose chirurgie voorstaan, sê dat die tegniek nie net die koste verminder om bloed te koop, te berg, te verwerk, te toets en oor te tap nie, maar ook die gevaar verminder van oortappingsverwante infeksies en komplikasies wat pasiënte langer in die hospitaal hou.”

Dit is nie verbasend dat Robert Lorenz, die mediese direkteur van bloedaangeleenthede by die Cleveland-kliniek, sê nie: “Jy kry onmiddellik die gevoel dat jy die pasiënt help as jy vir hom ’n bloedoortapping gee . . . Maar die langtermyndata dui aan dat die teenoorgestelde waar is.”

^ par. 5 Om uit te vind hoe Jehovah se Getuies bloed beskou, sien die artikel “Algemene vrae—Waarom aanvaar julle nie bloedoortappings nie?