Spring na inhoud

IS DIT ONTWERP?

Die selle se vermoë om te spesialiseer

Die selle se vermoë om te spesialiseer

 Toe jy voortgebring is, het jou lewe as ’n klein selletjie begin wat ’n sigoot genoem word. Hierdie sel is skaars groot genoeg om sonder ’n mikroskoop gesien te word. En tog is jy ’n paar maande later as ’n baba gebore wat heeltemal ontwikkel is. Daardie een sel het vermeerder en in meer as 200 verskillende soorte selle met verskeie vorme, groottes en funksies verander.

 Dink hieroor: ’n Sigoot maak ’n kopie van sy DNS en verdeel in twee. Hierdie selle herhaal hierdie proses ’n hele paar keer. Aan die begin is die nuwe selle almal basies dieselfde. In hulle DNS is al die instruksies wat nodig is om elke soort sel te maak.

 ’n Week nadat ’n vrou swanger word, begin die selle spesialiseer en word dit twee verskillende soorte selle. Party selle sal die embrio word. Ander selle sal die plasenta en verwante weefsel word wat die embrio help groei.

 Teen die derde week word die selle van die embrio in drie lae gerangskik. Die selle in die buitenste laag sal uiteindelik spesialiseer en senuwee-, brein-, mond-, vel- en ander selle word. Die selle in die middelste laag sal bloed, been, niere, spiere en ander weefsel word. Die selle in die binnenste laag sal inwendige organe word, soos die longe, blaas en ’n groot deel van die spysverteringstelsel.

Terwyl ’n ongebore baba ontwikkel, vermeerder die selle en spesialiseer dit en vorm dit meer as 200 verskillende soorte selle.

 Regdeur die swangerskap beweeg party selle – alleen of in groepe – van een deel van die embrio na ’n ander deel. Ander selle groepeer saam en vorm verskillende strukture, soos plate, koorde of strukture met holtes. Hierdie prosesse vereis ongelooflike koördinasie. Byvoorbeeld, op een stadium, krul plate selle sodat hulle klein buise vorm. Dit gebeur gelyktydig op verskillende plekke regdeur die embrio. Die buise begin dan om langer te word en te vertak. Uiteindelik verbind dit aanmekaar om ’n volledige bloedsomloopstelsel te vorm.

 Teen die tyd dat ’n gesonde baba gebore word, het sy honderdmiljarde selle almal gespesialiseer op die regte tyd en plek en om die regte soort selle te vorm.

 Wat dink jy? Het die sel se vermoë om te spesialiseer deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?