Waarom vier Jehovah se Getuies nie verjaarsdae nie?
Jehovah se Getuies vier nie verjaarsdae nie omdat ons glo dat sulke vierings God mishaag. Hoewel die Bybel verjaarsdagvierings nie uitdruklik verbied nie, help dit ons wel om oor vername aspekte van hierdie vierings te redeneer en om God se beskouing daarvan te verstaan. Kyk na vier van hierdie aspekte en verwante Bybelbeginsels.
Verjaarsdagvierings het ’n heidense oorsprong. Volgens die Funk & Wagnalls Standard Dictionary of Folklore, Mythology, and Legend het hierdie vierings hulle oorsprong in die opvatting dat “bose geeste en invloede” op ’n verjaarsdag “die geleentheid het om die verjaarsdagvierder aan te val” en dat “gelukwense en die teenwoordigheid van vriende hom help beskerm”. Die boek The Lore of Birthdays sê dat ’n register van geboortedatums in die ou tyd “noodsaaklik was om ’n horoskoop te trek” in verband met “die mistieke wetenskap van astrologie”. Hierdie boek voeg by: “Volgens oorlewering besit verjaarsdagkerse spesiale towerkrag om wense te vervul.”
Die Bybel veroordeel egter die beoefening van toorkuns, waarsêery, spiritisme en “soortgelyke dinge” (Deuteronomium 18:14; Galasiërs 5:19-21). Trouens, een rede waarom God die eertydse stad Babilon veroordeel het, is omdat sy inwoners astrologie, ’n vorm van waarsêery, beoefen het (Jesaja 47:11-15). Jehovah se Getuies kwel hulle nie onnodig oor die oorsprong van elke gebruik nie; maar wanneer die Bybel sulke duidelike riglyne gee, ignoreer ons dit nie.
Die vroeë Christene het nie verjaarsdae gevier nie. The World Book Encyclopedia sê dat “hulle die viering van enigiemand se verjaarsdag as ’n heidense gebruik beskou het”. Die Bybel toon dat die apostels en ander wat deur Jesus self geleer is, ’n patroon vasgestel het wat alle Christene moet volg.—2 Tessalonisense 3:6.
Die enigste geleentheid wat Christene moet herdenk, hou nie verband met ’n geboorte nie, maar met ’n dood—Jesus se dood (Lukas 22:17-20). Dit moet ons nie verbaas nie, want die Bybel sê dat ‘die sterfdag beter is as die dag dat iemand gebore word’ (Prediker 7:1). Teen die einde van sy lewe op die aarde, het Jesus ’n goeie naam by God gehad, wat sy sterfdag belangriker gemaak het as sy geboortedag.—Hebreërs 1:4.
Die Bybel bevat geen verwysing na enige kneg van God wat ’n verjaarsdag gevier het nie. Dit is nie bloot ’n glips nie, want die Bybel praat wel van twee verjaarsdagvierings van mense wat God nie gedien het nie. Maar albei hierdie geleenthede word in ’n negatiewe lig gestel.—Genesis 40:20-22; Markus 6:21-29.
Voel die kinders van Getuie-ouers dat hulle iets ontneem word omdat hulle nie verjaarsdae vier nie?
Soos alle goeie ouers, betoon Getuies regdeur die jaar liefde aan hulle kinders, wat insluit dat hulle hulle geskenke gee en aangename gesellighede vir hulle reël. Hulle probeer die volmaakte voorbeeld van God volg, wat sy kinders spontaan goeie dinge gee (Matteus 7:11). Kinders van Getuie-ouers voel nie dat hulle iets ontneem word nie, soos die volgende kommentare toon:
“Dit is lekkerder om ’n geskenk te kry wanneer jy dit die minste verwag.”—Tammy, 12 jaar oud.
“Al kry ek nie geskenke op my verjaarsdag nie, koop my ouers nog steeds op ander tye vir my geskenke. Ek hou daarvan, want dis ’n verrassing.”—Gregory, 11 jaar oud.
“Dink jy dat tien minute, ’n paar kolwyntjies en ’n liedjie ’n partytjie is? Jy moet na my huis toe kom en sien wat ’n regte partytjie is!”—Eric, 6 jaar oud.