Spring na inhoud

Die Bybel se boodskap word na die verre noorde geneem

Die Bybel se boodskap word na die verre noorde geneem

In 2014 het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies riglyne voorsien in verband met ’n nuwe program om die Bybel se boodskap na afgesonderde noordelike gebiede van Europa en Noord-Amerika te neem (Handelinge 1:8). Aan die begin van die program is spesiale aandag gegee aan spesifieke gemeenskappe in Alaska (VSA) en Lapland (Finland) asook Nunavut en Noordwestelike Gebiede (Kanada).

Jehovah se Getuies preek al dekades lank in hierdie afgesonderde gebiede. Maar die Getuies het net kortliks daar gebly, en hulle het hulle hoofsaaklik daarop toegespits om Bybellektuur te versprei.

Onder hierdie nuwe program sal takkantore wat toesig hou oor die werk van Jehovah se Getuies in afgesonderde noordelike gebiede, voltydse dienaars (pioniers) nooi om ten minste drie maande in sekere gebiede te bly. As ’n hele paar mense in die gemeenskap daarin belangstel om die Bybel te studeer, sal die bedienaars dalk langer bly en selfs openbare vergaderinge hou.

Die werk in die Noorde hou natuurlik ’n paar unieke uitdagings in. Twee pioniers is na Barrow, Alaska, gestuur—een van Suid-Kalifornië en die ander een van Georgia, VSA. Gedurende hulle eerste winter in Barrow het temperature gedaal tot minus 38 grade Celsius! Tog het hulle binne die eerste paar maande omtrent 95 persent van die huise in daardie stad besoek en vier Bybelstudies begin, insluitende ’n studie met ’n jong man met die naam John. Hy en sy meisie studeer die boek Wat leer die Bybel werklik?, en hy vertel sy vriende en medewerkers wat hy leer. Hy lees ook die dagteks in Ondersoek die Skrif elke dag met behulp van JW Library op sy foon.

Daar is geen paaie wat na Rankin-inham in die Kanadese gebied van Nunavut lei nie. Daarom het twee pioniers na die klein inham gevlieg, en hulle het etlike Bybelstudies begin. Nadat een man na die video Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? gekyk het, het hy gevra wanneer ons ’n Koninkryksaal in die gemeenskap gaan bou. Hy het bygevoeg: “As ek nog hier is wanneer julle bou, sal ek die vergaderinge bywoon.”

“Dit is vreeslik koud en daar is baie sneeu”, het pioniers berig wat na Savukoski, Finland, gestuur is, waar daar omtrent tien keer meer rendiere as mense is. Maar hulle het gesê dat hulle net op die regte tyd daar aangekom het. Waarom? “Ons kon gebiede deeglik dek”, berig hulle. “Die sneeu word verwyder van die paaie wat na dorpies en afgesonderde gebiede lei en instandhoudingswerk word aan hierdie paaie gedoen. Mense bring meer tyd by die huis deur omdat dit so koud is.”

Ons pogings om Bybelwaarheid aan mense in afgesonderde noordelike gemeenskappe te verkondig, het aandag getrek. Nadat twee pioniers die burgemeester van ’n stad in Alaska besoek het, het sy ’n positiewe boodskap op sosiale media geplaas, waarin sy van haar gesprek met hulle vertel het en ’n foto van die traktaat Wat is die Koninkryk van God? aangeheg het.

In Haines, Alaska, het twee pioniers tot agt mense verwelkom by die vergaderinge wat by die plaaslike biblioteek gehou word. Die plaaslike koerant het berig dat twee mans uit Texas en Noord-Carolina in die stad is om persoonlike tuisbybelonderrig aan te bied. Die aankondiging het afgesluit met die woorde: “Besoek jw.org om meer te leer.”