’n Unieke Bybeluitstalling in Frankryk
Duisende besoekers wat in 2014 na die Rouen- Internasionale Skou in Noord-Frankryk gegaan het, kon ’n treffende uitstalling besigtig met die tema “Die Bybel—Gister, vandag en môre”.
’n Videogreep oor antieke Bybelmanuskripte is op platskerm-monitors voor die uitstalling vertoon, wat die aandag van baie besoekers getrek het. Wanneer die besoekers ingestap het, kon hulle leer omtrent die Bybel se praktiese raad, die geskiedkundige en wetenskaplike akkuraatheid daarvan en die grootskaalse verspreiding daarvan.
Die uitstalling het ook getoon hoe die Bybel deur die eeue heen behoue gebly het en dat dit nou beskikbaar is vir miljarde lesers in ’n verskeidenheid gedrukte en elektroniese formate. Besoekers het ’n gratis eksemplaar van die Nuwe Wêreld-vertaling gekry, ’n Bybelvertaling wat deur Jehovah se Getuies in meer as 120 tale vervaardig word.
Baie besoekers het hulle waardering uitgespreek vir die inisiatief wat die Getuies aan die dag gelê het deur die Bybel aan die publiek beskikbaar te stel. Toe ’n jeugwerker saam met ’n groep tieners na die uitstalling gekyk het, het sy gesê: “Die Bybel is deel van ons gemeenskaplike erfenis. Dit is ’n lewende boek. Elke keer wanneer ek dit lees, vind ek oplossings vir my probleme.”
’n Sestigjarige ouma was verbaas toe sy uitvind dat sy ’n gratis eksemplaar van die Bybel kan kry. Sy het gesê: “Ons almal moet dit weer begin lees, want ons almal het dit nodig!”