Spring na inhoud

Goeie nuus vir seevaarders

Goeie nuus vir seevaarders

Daar word geskat dat daar omtrent een en ’n half miljoen seevaarders regoor die wêreld is. Hierdie seemanne reis die heeltyd van een hawe na die ander. Hoe kan Jehovah se Getuies soveel van hierdie mense as moontlik met die Bybel se boodskap bereik? Wanneer ’n skip in die hawe aankom, bied opgeleide Getuies aan om aan boord te gaan en gratis Bybelkursusse en –lektuur aan die offisiere en die bemanning te gee in die taal wat hulle verkies.

Hoe het mense hierop gereageer? Stefano, ’n Getuievrywilliger by die hawe in Vancouver, Kanada, verduidelik: “Party mense dink dat alle matrose rowwe en geharde manne is. Hoewel ’n paar van hulle so beskryf kan word, het ons gevind dat die meeste van hulle nederig en gretig is om te leer. Baie van hulle glo in God en wil hê dat hy hulle moet seën. Daarom word ons gewoonlik vriendelik ontvang.” Tussen September 2015 en Augustus 2016 is Jehovah se Getuies in Vancouver alleen meer as 1 600 keer deur mense op skepe genooi om aan boord te kom en met hulle te praat! Hierdie mense het duisende publikasies in verskillende tale geneem, en meer as 1 100 van hulle het die Bybel begin studeer.

Hoe word Bybelbesprekings met seevaarders voortgesit?

Omdat Getuies by hawens regoor die wêreld preek, kan seemanne wat meer oor die Bybel wil leer, vra dat hulle besoek word by die volgende hawe waarheen hulle gaan. Byvoorbeeld, in Mei 2016 het Jehovah se Getuies in Vancouver vir Warlito, die hoofkok op ’n vragskip, ontmoet. Hulle het vir hom die video Waarom moet jy die Bybel studeer? gewys en ’n Bybelstudie met hom begin uit die brosjure Goeie nuus wat van God kom! Warlito het die besoek geniet en wou met sy Bybelstudie voortgaan. Maar die volgende hawe waarheen sy skip sou gaan, was die hawe van Paranaguá in Brasilië wat baie ver daarvandaan is.

Die skip waarop hy gewerk het, het uiteindelik meer as ’n maand later in Paranaguá aangekom. Twee Brasiliaanse Getuies het na die skip toe gekom en gevra of Warlito daar is. Hy kon nie glo dat hulle sy naam geken het nie! Hulle het gesê dat hulle mede-Getuies in Vancouver hulle laat weet het dat hy graag besoek wil word. Warlito was baie bly om die Brasiliaanse Getuies te ontmoet en het hulle bedank vir hulle moeite. Hy het gesê dat hy graag sy Bybelstudie met die Getuies wil voortsit by die volgende hawe waarheen hy gaan.