Waarom leer hulle Bengali?
In Queens, New York, het 23 Getuies van Jehovah onlangs klasse bygewoon om Bengali, wat in Bangladesj en in dele van Indië gepraat word, te leer praat en lees. Hulle het ’n versnelde taalklas bygewoon wat deur mede-Getuies gehou is.
Die Bengaalse klas is een van ’n aantal taalklasse wat in die Verenigde State en ander lande gehou is. Die doel van hierdie klasse is om te leer hoe om die Bybel se boodskap bekend te maak aan mense wat ander tale praat.
Magaly, ’n student in die Bengaalse klas, verduidelik: “Die Bengalisprekende gemeenskap in ons omgewing groei vinnig. Mense soek na antwoorde op belangrike vrae soos ‘Waarom is daar soveel lyding?’ Wanneer ek mense van God se wonderlike beloftes vir die toekoms vertel, wil hulle meer weet. Maar taal is gewoonlik ’n probleem.”
Om studente te help om so gou moontlik te leer, het die onderrigters prettige onderrigmetodes gebruik. Een metode was om woorde of frases met fisiese bewegings te verbind sodat dit makliker onthou kan word.
Ná elke sessie het studente onmiddellik hulle nuwe taalkennis gebruik deur Bengalisprekende mense in hulle gemeenskap te besoek en hulle te nooi om Bybelonderwerpe te bespreek. Magaly het gesê: “Mense is opgewonde en wil weet waarom ek hulle taal leer. Die feit dat ek tyd gemaak het om te leer, het hulle help besef hoe belangrik ons boodskap is.”
Jehovah se Getuies leer nie net ander tale nie, maar kry ook opleiding om taalklasse te gee. Tydens ongeveer 38 taalseminare wat vanaf Januarie 2006 tot Januarie 2012 in die gebied onder die toesig van die Verenigde State se takkantoor gehou is, is 2 244 onderrigters opgelei. Teen 1 September 2012 het Jehovah se Getuies meer as 1 500 klasse in 37 tale in hierdie gebied gehou.