Spring na inhoud

Wêreldwye kampanje bevorder JW.ORG

Wêreldwye kampanje bevorder JW.ORG

Gedurende Augustus 2014 het Jehovah se Getuies regoor die wêreld ’n traktaat versprei om jw.org te bevorder. Gevolglik het die aantal besoeke aan die webwerf gedurende die maand met meer as 20 persent toegeneem, tot byna 65 miljoen. Wêreldwyd het byna 10 000 mense ’n gratis tuisbybelstudie aangevra deur middel van die webwerf—67 persent meer as die vorige maand! Die kampanje het hulp aan tallose mense voorsien.

Hulp vir diegene wat antwoorde op die belangrikste vrae in die lewe soek

’n Getuie in Kanada het Madeline in ’n hysbak gegroet en haar die traktaat vir die kampanje, Waar kan ons antwoorde op die belangrikste vrae in die lewe vind?, gewys. Madeline het gesê dat sy die vorige aand op haar balkon vurig gebid het dat God haar sal help om antwoorde op sulke vrae te vind. Sy het voorheen etlike kerke gebel om vir ’n Bybelstudie te vra, maar niemand het ooit teruggebel nie. Kort voor lank het sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer.

Hulp vir diegene wat nie met die Bybel vertroud is nie

In die Filippyne het Rowena met ’n Chinese man gepraat wat voor ’n kitskosrestaurant gestaan het. Sy het hom die traktaat gegee en verduidelik dat Jehovah se Getuies mense wil help om by gratis Bybelonderrig baat te vind.

Die man het gesê dat hy nog nooit eens ’n Bybel gesien het nie. Die daaropvolgende gesprek het hom beweeg om ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies by te woon. Daarna het hy gesê dat hy meer omtrent die Bybel wil leer en dat hy van plan is om dit van ons webwerf af te laai.

Hulp vir die dowes

Guillermo, ’n dowe Getuie in Spanje, het Jorge raakgeloop, ’n voormalige skoolmaat wat ook doof is. Jorge het gesê dat sy ma onlangs oorlede is en dat hy baie twyfelgedagtes en vrae het. Guillermo het vir hom die traktaat vir die kampanje gegee en verduidelik hoe hy op jw.org inligting in gebaretaal kan vind wat baie van sy vrae sal beantwoord. Guillermo het Jorge ook genooi na die vergadering by die Koninkryksaal. Jorge het gekom, en sedertdien het hy nog nie van ’n vergadering weggebly nie, al woon hy 60 kilometer van die saal af.

Hulp vir diegene in afgesonderde gebiede

Twee Getuie-egpare in Groenland het baie geld betaal vir ’n ses uur lange reis in ’n klein boot sodat hulle ’n nedersetting kon bereik wat 280 inwoners het. Daar het hulle gepreek, traktate versprei en ’n video in Groenlands op jw.org gewys. Hulle het ook ’n Bybelstudie begin met ’n egpaar wat hulle ontmoet het. Hulle hou die studie nou twee keer per week oor die telefoon.

Sulke pogings is nie beperk tot die Verre-Noorde nie. Getuies in Nicaragua het gereël om die traktaat onder die Mayangna-sprekende mense in die Karibiese oerwoud te versprei. Nadat hulle 20 uur aaneen met ’n beskadigde ou bus op ’n pad vol slaggate gery het, het hulle 11 uur lank geloop, soms deur diep modder, om die nedersettings te bereik. Daar het hulle traktate versprei en video’s in Mayangna gewys, tot die verbasing en genot van diegene in die gebied.

Estela het die traktaat vir ’n man aangebied wat deur ’n klein dorp in die Amasonereënwoud in Brasilië gereis het. Die man het die traktaat aanvaar, maar hy het dit in sy sak gesit sonder om juis belangstelling daarin te toon. Op pad huis toe het die enjin van sy boot ophou werk en moes hy langs die rivier stilhou. Terwyl die man vir hulp gewag het, het hy die traktaat gelees. Hy het op sy selfoon jw.org besoek, waar hy ’n hele paar artikels gelees en ’n paar video’s afgelaai het. ’n Paar dae later het hy Estela se man ontmoet en hom gevra om haar vir die traktaat te bedank. “Die artikels wat ek gelees het terwyl ek langs die rivier moes wag, het my gehelp om kalm te bly totdat iemand op ’n boot my kom help het”, het hy gesê. “My kinders hou baie van die Caleb-video’s. Ek sal aanhou om jw.org te besoek.”