Spring na inhoud

Iets nuuts vir Manhattan

Iets nuuts vir Manhattan

In November 2011 het ’n groep van Jehovah se Getuies met ’n nuwe program begin om mense in Manhattan met die Bybel se boodskap vertroud te maak deur middel van aantreklike uitstaltafels en -karretjies. Hierdie kampanje vind plaas in die suidelike deel van Manhattan, die besigste en oudste wyk van die stad New York.

Hulle het die gebied in vier sones verdeel. In elke sone is daar ’n aantal plekke waar verbygangers kan stop by ’n goed georganiseerde tafel of karretjie vol Bybellektuur wat deur ’n plaaslike voltydse bedienaar beman word. Die meeste uitstallings is in of naby vervoersentrums, wat elke dag deur tienduisende mense gebruik word.

By hierdie plekke kan mense uitvind wat die Bybel se antwoord op baie vrae is. Mense wat nie baie tyd daar wil deurbring nie, kan ’n publikasie neem om later te lees.

Lektuur is in ’n aantal tale beskikbaar. As ’n publikasie nie in ’n sekere taal beskikbaar is nie, kan dit bestel word en ’n paar dae later afgehaal word.

Die publiek sowel as die owerheid het hierdie program verwelkom. ’n Polisieman het gesê: “Waarom kom julle nou eers? Julle het werklik wat mense nodig het.

’n Ander man het skielik gaan staan toe hy die boek Wat leer die Bybel werklik? sien. Hy het gesê dat hy mense op die trein die boek sien lees het en gewonder het waar hulle dit gekry het. Nou het hy geweet.

Een jong man het ses weke lank elke dag verby een van die tafels geloop op pad werk toe. Uiteindelik het hy gestop en gesê: “Ek het hulp nodig.” Dié wat die tafel beman het, het hom met graagte gehelp. Hulle het hom ’n Bybel gegee en vir hom gewys hoe hy daarby kan baat vind.

Geesdriftige verbygangers het gestop om geestelike sake te bespreek. In net een onlangse maand het die program in Manhattan die publiek in staat gestel om 3 797 tydskrifte en 7 986 boeke te verkry.