Bybelse hoop word in Parys verkondig
Afgevaardigdes uit 195 nasies het van 30 November tot 12 Desember 2015 in Parys, Frankryk bymekaargekom vir die Verenigde Nasies se Konferensie oor Klimaatsverandering (COP21). Hulle het bespreek hoe om die impak wat mensebedrywighede op die wêreldklimaat het, te verminder. Byna 38 000 mense—insluitende regeringsamptenare, wetenskaplikes, omgewingsdeskundiges en sakeleiers—het die konferensie bygewoon. Tienduisende ander het ’n openbare inligtingsarea wat daar naby opgerig was, besoek om meer oor klimaatsverandering te leer.
Al het Jehovah se Getuies nie aan die konferensie deelgeneem nie, stel hulle ook in die omgewing belang. Honderde van hulle was betrokke by ’n spesiale kampanje in Parys om ander te vertel van hulle Bybelse hoop om op ’n planeet te lewe waar daar geen besoedeling is nie.
Een Getuie het van openbare vervoer gebruik gemaak en toe met ’n man van Peru gepraat, wat tradisionele Peruaanse klere aangehad het. Die man het verduidelik dat hy gesond is en dit geniet om op ’n pragtige berg te bly, maar dat hy nogtans bekommerd is oor die toekoms van ons planeet. Hy was diep geraak deur wat hy gehoor het en het breed geglimlag toe hy ’n kontakkaartjie neem wat hom na ons webwerf, www.pr418.com, verwys.
Twee Getuies het op ’n trein met ’n Amerikaanse omgewingswetenskaplike gepraat. Hy was verbaas om uit te vind dat Jehovah se Getuies twee keer Four Green Globes van die Green Building Initiative ontvang het vir hulle toegewydheid om hulle twee nuwe geboue by die Getuies se takkantoor in Wallkill, New York, op ’n omgewingsvolhoubare manier te ontwerp en op te rig. Hy het ook die kontakkaartjie met graagte aanvaar.
Baie mense was beïndruk met die Getuies se opregte belangstelling in die omgewing en het belowe om ons webwerf te besoek. Toe ’n afgevaardigde van Kanada hoor dat die Getuies probeer het om die area waar die oostelike sialia (eastern bluebird) nesmaak, by hulle nuwe wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, te beskerm, het sy gesê: “Ek was ’n voëlkundige voordat ek die omgewing begin verdedig het. Ek het nie geweet dat Jehovah se Getuies soveel respek vir die natuurlewe het nie. Ek gaan julle lektuur lees en julle webwerf besoek om meer oor julle uit te vind!”