Spring na inhoud

’n Toer deur tyd

’n Toer deur tyd

’n Onbegeleide toer wat die geskiedenis van Jehovah se Getuies uiteensit, is in Oktober 2012 by ons wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, ingestel. a Die uitstalling vestig die aandag op die stryd, gevare en oorwinnings van party wat as Christene probeer lewe het.

Besoekers gaan op ’n toer deur tyd, vanaf die begin van die Christelike era in 33 HJ tot ons dag. Die uitstalling bestaan uit vier dele en sluit ’n tydlyn in wat hierdie dele verbind. Elke deel het ’n skriftuurlike tema en word ingelei deur ’n kort video in Engels, met byskrifte in ses tale—Frans, Italiaans, Japannees, Koreaans, Portugees en Spaans.

Hoofdele van die uitstalling

Die tema van die eerste deel, “Mense het die duisternis liefgehad”, is gebaseer op Jesus se woorde in Johannes 3:19. Die Bybel het voorspel dat goddelose mense ‘sou opstaan en verdraaide dinge sou spreek’ (Handelinge 20:30). Die tydlyn is vol ernstige herinneringe aan die dade van sulke mense.

Die tema van die tweede deel is “Laat die lig skyn”, gebaseer op ’n uitdrukking wat in 2 Korintiërs 4:6 voorkom. Die tydperk wat deur die tydlyn gedek word, strek van die laat 1800’s tot die vroeë 1900’s. Hierdie deel begin met die verhaal van ywerige mans wat die Bybel met ’n oop gemoed begin studeer het en toon hoe hulle groepie voor die Eerste Wêreldoorlog in kennis en getal toegeneem het.

Die volgende gedeelte van hierdie tweede deel handel oor die multimediavertoning, die “Fotodrama van die Skepping”. Die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds genoem is) het hierdie unieke rolprent-en-skyfievertoning wat met klank gesinchroniseer is, in 1914 begin aanbied. In die daaropvolgende jare het miljoene na hierdie vertonings gestroom. Die uitstalling bevat van die oorspronklike kunswerk, ’n kort videogreep van die program se inleiding en meer as 500 kleurskyfies.

Die tema van die derde deel is “Die draak se gramskap het ontvlam”, gebaseer op Openbaring 12:17. Dit handel oor die vervolging wat Christus se volgelinge gedurende die vroeë 20ste eeu verduur het en bevat besielende verhale van Christene wat gedurende oorlogstye neutraal gebly het. Een videogreep vertel die verhaal van Remigio Cuminetti, ’n Getuie wat geweier het om die militêre uniform van Italië te dra of om in die Eerste Wêreldoorlog te veg. ’n Ander videogreep handel oor Alois Moser van Oostenryk. Hy het geweier om “Heil Hitler!” te sê, wat daartoe gelei het dat hy sy werk verloor het en uiteindelik in die Dachau-konsentrasiekamp gestop is.

In ’n replika van ’n sombere, swak beligte sel is foto’s van Getuies van lande soos Griekeland, Japan, Pole en Serwië wat weens hulle godsdiensoortuiging opgesluit is.

Die tema van die laaste deel, “Goeie nuus vir al die nasies”, is op Matteus 24:14 gebaseer en sit die bedrywighede van Jehovah se Getuies vanaf 1950 tot vandag toe uiteen. ’n Collage van foto’s vertel die verhaal van die vinnige groei, volgehoue predikingswerk en broederliefde wat kenmerke van Jehovah se Getuies is.

Voordat ’n besoeker die uitstalling verlaat, kan hy die interaktiewe kiosks besoek waar hy die Bybelhuis en die Brooklyn-Tabernakel, geboue wat meer as 100 jaar gelede deur Jehovah se Getuies gebruik is, van naderby kan bekyk.

Waarom is die uitstalling opgerig?

Daar is ’n jaar aan die beplanning van hierdie uitstalling bestee, en dit het maande geneem om dit op te rig. Getuies van regoor die wêreld het artikels bygedra wat hulle as kosbare erfstukke beskou het.

Waarom is al hierdie moeite gedoen? Toe ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gevra is hoe dit Jehovah se Getuies tot voordeel sal strek om die toer te neem, het hy die bekende gesegde aangehaal: “Om te weet waarheen ons gaan, moet ons weet waarvandaan ons kom.”

a Die uitstalling is in die gebou by Columbia Heights 25, Brooklyn, New York, en is van Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 17:00 oop. Toegang is gratis.