Takkantore van Jehovah se Getuies word saamgesmelt
In September 2012 is die toesig van meer as 20 takkantore van Jehovah se Getuies na groter takke oorgeplaas.
Daarbenewens is nuwe takkantore in Serwië en Masedonië opgerig. Daar is twee hoofredes vir die veranderinge.
1. Tegnologie het die werk vereenvoudig
In onlangse jare het verbeteringe op die gebied van kommunikasie en drukwerk die behoefte aan personeel in party takkantore verminder. Met minder mense wat by groter takkantore werk, het plek beskikbaar geword om party wat in kleiner takkantore in ander lande gewerk het, te huisves.
Nou is daar op elke strategiese plek ’n groter aantal ervare Getuies wat na die Bybelonderrigtingswerk omsien. Byvoorbeeld, die predikingswerk in Costa Rica, El Salvador, Guatemala, Honduras, Nicaragua en Panama is nou onder die toesig van die takkantoor in Mexiko. Gevolglik is die takkantore in hierdie ses lande toegemaak.
Veertig Getuies uit hierdie ses takkantore het nuwe toewysings by die takkantoor in Mexiko ontvang. Sowat 95 ander het in hulle tuisland gebly, waar hulle die voltydse predikingswerk betree het.
Ander in hierdie Sentraal-Amerikaanse lande het in vertaalkantore onder die toesig van die takkantoor in Mexiko begin werk. Byvoorbeeld, in Panama vertaal sowat 20 vertalers die publikasies van Jehovah se Getuies in verskillende inheemse tale. En by die voormalige takkantoor in Guatemala vertaal 16 Getuies nou publikasies in vier plaaslike tale. In Sentraal-Amerika het die herorganisering dus die takkantoorpersoneel van 300 tot omtrent 75 verminder.
2. Werkers kan nou meer tyd aan die predikingswerk bestee
Weens die samesmelting kan bekwame bedienaars wat in klein takkantore gedien het, hulle nou op die verkondiging van die goeie nuus toespits.
’n Getuie in Afrika wat ’n nuwe toewysing in die predikingswerk ontvang het, het geskryf: “Gedurende die eerste paar maande was dit ’n uitdaging om my by die nuwe omstandighede aan te pas. Maar dit verskaf my onmeetbare vreugde en seëninge om elke dag in die bediening te wees. Ek hou tans Bybelstudies met 20 mense, en party van hulle woon die gemeentelike vergaderinge by.
”