’n Onvergeetlike besoek
Tienduisende mense gaan elke jaar op ’n toer deur die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in die staat New York en hulle takkantoor in die Verenigde State. Hierdie komplekse word Bethel genoem, ’n Hebreeuse naam wat “Huis van God” beteken. Besoekers kom van heinde en ver om te sien hoe lektuur vervaardig word, hoe ons werk georganiseer word en om hulle vriende te besoek wat daar dien. ’n Onlangse besoeker was baie vasbeslote om Bethel te kom sien.
Marcellus, een van Jehovah se Getuies wat woon in Anchorage, Alaska, VSA, kan net enkele woorde sê sedert hy ’n paar jaar gelede ’n beroerte gehad het. a Hy is in ’n rolstoel en het hulp nodig met sy daaglikse bedrywighede. Ten spyte van hierdie uitdagings het hy ’n brandende begeerte gehad om Bethel te besoek. Hy het onlangs sy droom bewaarheid.
“Hy was vasbeslote”, sê Corey, ’n vriend wat Marcellus gehelp het om sy besoek te beplan. “Hy het my gereeld gebel om te hoor hoe die planne vorder. Aangesien Marcellus se woordeskat hoofsaaklik tot ‘Ja’ en ‘Nee’ beperk is, moes ek ’n reeks vrae vra wanneer hy gebel het.” Hulle gesprekke het min of meer soos volg verloop:
“Moet ek na jou toe kom?”
“Nee.”
“Moet ek die dokter bel?”
“Nee.”
“Bel jy oor jou besoek aan Bethel?”
“Ja.”
“Dan moes ek verduidelik hoe die reëlings vir die besoek vorder. Ek was baie bly om te sien dat hy daardie doelwit bereik het.”
Marcellus het talle struikelblokke oorkom om hierdie besoek af te lê. Aangesien sy inkomste beperk is, het hy twee jaar lank gespaar om genoeg geld te hê vir die 5 400 kilometer lange reis na New York. Weens sy fisiese beperkings moes hy ’n geskikte persoon vind om saam met hom te gaan. Laastens moes hy van sy dokter toestemming kry om te reis, en hy het dit net ’n paar dae ontvang voordat sy vlug moes vertrek.
Nadat Marcellus in New York aangekom het, het hy begeleide toere gedoen van die fasiliteite by Brooklyn, Patterson en Wallkill. Hy het yslike drukperse gesien wat boeke en Bybels vervaardig en baie geleer oor hoe ons werk georganiseer word. Hy het ook die uitstallings “Die Bybel en die goddelike naam” en “’n Volk vir Jehovah se naam” gesien. Hy het baie nuwe vriende gemaak. Dit was werklik ’n onvergeetlike besoek!
Baie wat Bethel besoek, sê dat woorde nie die ondervinding kan beskryf nie. Maar toe Marcellus gevra is of sy besoek aan Bethel die moeite werd was, het hy geantwoord, op die enigste manier wat hy kon: “Ja. Ja. Ja!”
’n Besoek aan Bethel kan ’n bemoedigende ondervinding vir jou en jou gesin wees, net soos dit vir Marcellus was. Besoekers is welkom by ons takkantore regoor die wêreld. Kom besoek ons gerus.
a Marcellus is op 19 Mei 2014 oorlede, terwyl hierdie artikel vir publikasie gefinaliseer is.