Die sperdatum van 60 dae word gehaal
Op Vrydag 5 Julie 2013 was die Bethelgesin in die Verenigde State verheug toe Anthony Morris van die Bestuursliggaam die volgende aankondiging gemaak het: “’n Ooreenkoms is bereik om die kompleks van ses geboue by Adamsstraat 117 en Sandsstraat 90 in Brooklyn te verkoop. a Die verkoop van Geboue 1 tot 5 vereis dat ons dit teen middel-Augustus vanjaar ontruim.”
Dit was duidelik dat dít ’n baie groot taak sou wees. Die vloerruimte van hierdie vyf geboue is gelyk aan 11 sokkervelde soos dié wat vir internasionale wedstryde gebruik word! En die geboue moes in 60 dae ontruim word!
Daar was dekades lank drukperse en boekbindery-toerusting in Geboue 1 tot 5, maar in 2004 is hierdie toerusting na Wallkill, New York, verskuif.
Sedertdien het die geboue as ’n bergings- en instandhoudingsfasiliteit gedien en was dit vol boumateriaal, kantoormeubels en toerusting wat gebruik is om bouprojekte in die Verenigde State en ander lande te ondersteun.
Om die geboue binne die gegewe tyd te ontruim, het noukeurige beplanning geverg. Eers is ’n inventaris van die geboue se inhoud opgestel om te bepaal wat verkoop, verwyder of gehou sou word. Toe is reëlings getref om hierdie taak op ’n veilige asook doeltreffende wyse te verrig.
Die Bethelgesin het hard gewerk om die projek te ondersteun. Daarbenewens is 41 tydelike vrywilligers genooi om by Bethel te kom help. Die vrywilligers het uit baie dele van die Verenigde State gekom. Die meeste was sterk, ongetroude jong mans. Hulle het die uitnodiging aanvaar om vir ses tot tien weke te kom help en het hulle gesinne, vriende en sekulêre werk agtergelaat om by Bethel te werk. Hoe het hulle oor die toewysing gevoel?
Jordan, wat 21 jaar oud is, van die staat Washington, het gesê: “Ek wens ek het vroeër aansoek gedoen.”
Steven, 20, van Texas, het gesê: “Ek voel dat ek deel is van ’n groot, hardwerkende, gelukkige, wêreldwye gesin.”
Justin, 23, het geskryf: “Ek voel tuis hier by Bethel. Die oorvloed geestelike wysheid, liefde en vriendskap by Bethel is wonderlik.”
Adler, 20, van Puerto Rico, het gesê: “Dit was vir my ’n uitdaging om soggens vroeg op te staan, maar ek het vriendskappe gesmee wat vir ewig sal duur.”
William, wat 21 jaar oud is, het gesê: “Dis al van kleins af my droom om Bethel toe te kom. Ek het gedink dat ek verlore of eensaam sal voel, maar dit was glad nie die geval nie. Bethel is die beste ondervinding van my lewe! Ek kan my niks beters voorstel as om hier te wees nie.”
Het die span gewillige werkers die sperdatum gehaal? Ja, hulle het—in net 55 dae.
a Die woongebou by Sandsstraat 90 sal gedurende 2017 ontruim word.