Die “Watchtower”-teken—’n Jare lange landmerk in Brooklyn
Die groot, 4,6 meter hoë rooi letters bo-op die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies is al meer as 40 jaar lank, dag en nag, ’n bekende gesig vir die inwoners van die stad New York, en baie van hulle maak staat op die tyd-en-temperatuur-lesing daarop.
Eboni, wat die teken van haar woonstel in Brooklyn kan sien, het gesê: “Voordat ek werk toe gaan, is dit lekker om by die venster uit te kyk om te sien hoe laat dit is en wat die temperatuur is. Dit help my om betyds te wees en te sien wat ek moet aantrek.
”
Sal die tyd-en-temperatuur-teken nog 40 jaar lank daar wees? Waarskynlik nie. Aangesien Jehovah se Getuies van plan is om hulle wêreldhoofkwartier na die noorde van die staat New York te verskuif, sal hierdie besluit by die toekomstige eienaars berus.
’n Teken is oorspronklik meer as 70 jaar gelede deur die vorige eienaar van die gebou opgerig. Jehovah se Getuies het dit verander na wat dit vandag is nadat hulle die gebou in 1969 gekoop het.
Die teken verg gereelde instandhoudingswerk. Daar het al etlike geslagte jong mans aan die teken gewerk om nodige herstelwerk te doen, hetsy dag of nag.
’n Nagskofwerker vertel: “Een aand het ’n televisienuusredakteur ons gebel. Hy het gesê dat die horlosie op ons teken 15 sekondes agter is. Hy wou hê dat ons dit moet regstel sodat hy dit daardie aand op sy program kan vertoon. Kort voor lank was ’n slaperige tegnikus besig om die probleem reg te stel.
”
Daar is al ’n paar keer veranderinge aan die teken aangebring om dit doeltreffender en akkurater te maak. In die middel-1980’s is die teken verander sodat dit nie net die tyd sowel as die temperatuur in grade Fahrenheit om die beurt sou vertoon nie, maar ook die temperatuur in grade Celsius.
In 2009 is die teken se ietwat ondoeltreffende neonbuise vervang met rooi ligemissiediodes (LED’s), wat betroubaarder is en jaarliks meer as $4 000 (R34 000) aan instandhoudingskoste bespaar. Vandag gebruik die teken net ’n fraksie van die elektrisiteit wat dit vroeër gebruik het, en dít maak die teken “groen” sowel as rooi.