Fotogalery 4 van Brittanje (Maart 2017 tot Augustus 2017)
In hierdie fotogalery sal ons sien hoe die konstruksie by die nuwe takkantoor van Jehovah se Getuies in Brittanje tussen Maart en Augustus 2017 gevorder het.
28 Maart 2017 — Takkantoorbouterrein
’n Kontrakteur gebruik ’n hyskraan wat aan ’n trok vas is om ’n container waarvan een van die kante net glas is, af te lewer. Die container vorm deel van ’n uitkykplek in ’n veilige, omheinde gedeelte van die bouterrein. Die besoekersentrum en uitkykplek is in Mei 2017 oopgemaak. Teen Augustus het meer as 17 000 besoekers ’n toer bespreek om na die projek te kom kyk.
29 Maart 2017 — Woongebou F
Kontrakteurs gebruik ’n toringkraan om ’n stellasie in Woongebou F te sit. Dit word vooraf aanmekaargesit, het ’n platform bo-op en beton sal daarop gegiet word. Woongebou F is die eerste woongebou wat opgerig word. Omdat daar oorgenoeg spasie om die geboue is, kan die stellasies maklik rondgeskuif word sonder dat dit afgebreek hoef te word.
7 April 2017 — Woongeboue
Vyf woongeboue word op dieselfde tyd gebou. Voor in die foto is kontrakteurs besig om staalstawe te installeer voordat hulle die beton vir Woongebou B se fondasie giet. Regs agter in die foto pomp kontrakteurs beton vir die fondasie van Woongebou D se grondverdieping. Links in die agtergrond is ’n toringkraan besig om ’n paneel in posisie te sit vir wanneer die beton vir die skag vir Woongebou E se hysbak en trappe gegiet word.
19 April 2017 — Takkantoorbouterrein
’n Lid van die meganiese span is besig om die rif te verwyder wat gevorm word wanneer twee plastiekpype vir die brandkraan aanmekaar vasgesmelt word. Hulle toets dan die las om te sien of dit sterk genoeg en van goeie gehalte is. Daar word altesaam vier kilometer pyp vir die brandkrane aangelê.
25 April 2017 — Woongeboue
’n Werker maak ’n waterkanaal skoon wat onlangs waterdig gemaak is. Die waterkanale op die terrein loop onderdeur die paaie en maak dit moontlik vir reënwater om na damme gelei te word en oorstromings te voorkom.
28 April 2017 — Woongebou F
’n Egpaar in die argitekspan merk af waar die grondverdieping se gangmure gaan wees.
5 Mei 2017 — Woongeboue
’n Lugfoto van die vyf woongeboue wat besig is om gebou te word. Teen September is die betonraamwerk van die geboue voltooi. Werkers was ook besig om die binnemure van Woongebou F (regs agter) te bou, en hulle het begin met die pleister- en verfwerk van daardie selfde gebou. Intussen het werkers begin met die installasie van die buitemure en vensters van Woongebou E (links agter). Argitek-, elektriese, meganiese en stellasiespanne het begin om Woongeboue B, C en D (voor) voor te berei sodat hulle daaraan kan begin werk.
18 Mei 2017 — Tydelike terrein
Robert Luccioni, ’n helper op die Uitgewerskomitee van die Bestuursliggaam en opsiener van die Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie (WKO), moedig konstruksiespanne aan deur ’n Bybeltoespraak. Die WKO hou toesig oor die ontwerp en konstruksie van nuwe takfasiliteite en maak seker dat al die werk doeltreffend en ekonomies gedoen word.
25 Mei 2017 — Takkantoorbouterrein
Werkers berei betonblaaie voor vir die gebou waarin die gas-, data- en elektriese toerusting sal wees. Aan die regterkant gebruik werkers ’n mobiele betonpomp om fondasies te lê vir ’n heining wat die toerusting se geraas verminder.
7 Junie 2017 — Woongebou E
’n Argitekspan kyk na tekeninge voordat hulle besluit waar die staalrame op die vloer vasgebout moet word.
13 Junie 2017 — Woongebou F
’n Werker sit staalrame in plek vir die buitemure.
22 Junie 2017 — Woongebou E
Stellasies word buite rondom Woongebou E opgerig sodat spanne werkers maklik by die buitemure kan uitkom.
11 Julie 2017 — Woongebou F
’n Persoon verf vensters wat pas geïnstalleer is met ’n spesiale beskermende verf. Wanneer dit droog word, vorm dit ’n lagie plastiek wat verhoed dat die vensters gedurende konstruksie beskadig kan word. Dit word afgetrek wanneer dit nie meer nodig is nie.
13 Julie 2017 — Woongebou F
Die meganiese span toets die druk van die ondervloerse verhittingstelsel in ’n kamer. Sodra die nodige veranderinge gemaak is, kan die finale betonlaag gegiet word om die verhittingspype te bedek.
19 Julie 2017 — Takkantoorbouterrein
’n Tuinargitek sny ’n deel gras met veldblomme op ’n verkeerseiland buite die hoofingang van die takkantoor. Dit is reg langs ’n besige hoofweg. Hierdie spesifieke soort gras verhoed dat onkruid groei en het nie soveel tyd en sorg nodig nie.
1 Augustus 2017 — Kantoorgebou
’n Landmeter gebruik GPS-toerusting en merk die plek waar die ingang van die kantoorgeboukompleks sal wees. Hy plant ’n pen op die spesifieke plek en verf dit dan sodat dit duidelik sigbaar is. Hierdie deel van die kompleks sal ’n permanente kombuis hê, sowel as ’n gedeelte wat ontwerp is om gebruik te word as ’n eetsaal en ’n ouditorium. Die woongeboue kan in die agtergrond gesien word.
8 Augustus 2017 — Woongeboue
’n Egpaar berei vormwerk voor vir die beton wat gegiet sal word vir ’n vertrek wat die vloei beheer van die stormwater-dreineringstelsel. In die agtergrond is Woongeboue E en F met plastiek toegemaak sodat daar in alle soorte weerstoestande in die wintermaande gewerk kan word.
9 Augustus 2017 — Takkantoorbouterrein
’n Persoon word geleer om met ’n masjien te werk wat randstene oplig en in plek sit. Elke randsteen weeg omtrent 70 kilogram. Wanneer die randstene op die regte plek is, sal beton aan elke kant gegiet word om hulle in plek te hou.
16 Augustus 2017 — Takkantoorbouterrein
Terwyl ’n waterpyp in die regte posisie gesit word, hou ’n lid van die meganiese span ’n spesifieke deel van die pyp teen die regte hoek. Ongeveer vyf kilometer se waterpype is nodig vir die nuwe takkantoor.
22 Augustus 2017 — Woongebou E
’n Lid van ’n span wat buite werk, gebruik ’n elektriese saag om bakstene te sny. Halwe bakstene word gebruik om ’n mooi patroon op die hoeke van die woongeboue te skep wat Flemish bond genoem word. Die woongeboue sal bedek word met meer as 300 000 bakstene.