Spring na inhoud

’n Nuwe Byeenkomssaal in die Amasonereënwoud

’n Nuwe Byeenkomssaal in die Amasonereënwoud

In die hartjie van die Amasonereënwoud staan daar ’n indrukwekkende nuwe Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies. Die grootste deel van die eiendom van 52 hektaar, noord van die stad Manaus, Brasilië, bestaan uit natuurlike woud. Kleurvolle makao’s, toekans en ander voëls skreeu vanuit die toppe van majestueuse Brasiliaanse neutbome en ander reënwoudbome. Waarom is ’n Byeenkomssaal hier gebou?

Die stad Manaus—1 450 kilometer van die mond van die Amasonerivier af—het ’n bevolking van byna tweemiljoen. Die nuwe saal sal gebruik word deur sowat 7 000 Getuies in Manaus en omliggende dorpe, insluitende klein dorpies langs die Amasonerivier en sy vertakkings. Die verste dorp, São Gabriel da Cachoeira, is meer as 800 kilometer wes van Manaus. Party Getuies reis drie dae per boot om ’n kring- of streekbyeenkoms by die Byeenkomssaal by te woon!

Dit was ’n ontsaglike taak om die Byeenkomssaal in die middel van die Amasone te bou. Sowat 13 houers vol boumateriaal moes van die hawe in Santos, São Paulo, gebring word. Dit is met die kus van Brasilië langs en toe op met die Amasonerivier vervoer om die bouterrein te bereik.

Die nuwe saal is die 27ste Byeenkomssaal wat in Brasilië gebou is, en 1 956 mense het op Sondag 4 Mei 2014 die toewydingsprogram bygewoon. Baie was verheug omdat dit die eerste keer was dat hulle ’n vergadering by ’n Byeenkomssaal bygewoon het.

Die gehoor kon die spreker nie net hoor nie, maar hom ook sien. Dit was ’n welkome verandering, want in die verlede is kring- en streekbyeenkomste by openbare plekke gehou waar baie in die gehoor nie die verhoog kon sien nie, wat nog te sê die spreker. Een Getuie het gesê: “Ek woon al jare lank byeenkomste by, maar ek kon nog nooit ’n Bybeldrama sien nie; ek kon dit net hoor.” Nou kan almal die verhoog sien.