Hulle vra werk, maar nie betaling nie
Oor die afgelope 28 jaar het meer as 11 000 Getuies van Jehovah hulle huis en selfs hulle tuisland verlaat om geboue in 120 lande op te rig. Hulle almal het vrywillig hulle vaardighede en energie voltyds gebruik, sonder betaling.
Baie het self hulle reiskoste gedek om by die projek te kom. Party het hulle vakansietyd gebruik om te werk. Ander het onbetaalde verlof geneem en sodoende heelwat inkomste verbeur.
Hulle was onder geen verpligting om sulke opofferings te maak nie, maar hulle het hulle gewillig aangebied om die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk te bevorder (Matteus 24:14). Hulle het kantoor- en woongeboue en drukkerye vir die vervaardiging van Bybels en Bybelse lektuur opgerig. Jehovah se Getuies het ook Byeenkomssale gebou met tot 10 000 sitplekke en Koninkryksale met tot 300 sitplekke.
Hierdie werk gaan steeds voort. Wanneer die werkers by ’n projekterrein aankom, voorsien die plaaslike takkantoor behuising, maaltye, wasserydienste en ander daaglikse benodigdhede. Plaaslike Getuies is ook bly om met die konstruksiewerk te help.
In 1985 is ’n internasionale program ingestel om hierdie ontsaglike werk te organiseer en te koördineer. Vrywilligers wat aan hierdie program wil deelneem, moet Getuies van Jehovah tussen die ouderdom van 19 en 55 wees en ten minste een bouvaardigheid hê. ’n Toewysing in die program duur gewoonlik van twee weke tot drie maande, maar soms duur dit ’n jaar of langer.
Die vrouens van konstruksiewerkers word opgelei om take te verrig soos om wapeningstaal te vleg, teëls te lê, afskuurwerk te doen of te verf. Ander help om maaltye vir die werkers voor te berei of om hulle verblyfplek skoon te maak.
Wanneer vrywilligers terugkeer huis toe, skryf party om dankie te sê omdat hulle genooi is om te kom werk. ’n Egpaar het geskryf: “Ons wil baie dankie sê vir die voorreg wat ons gehad het om by die takkantoor in Boedapest te werk. Die Getuies in Hongarye was baie liefdevol en dankbaar! Dit was moeilik om ná ’n maand vir hulle totsiens te sê. Maar dis altyd die geval, nie waar nie? Ons hoop dat ons in die lente weer soontoe sal kan gaan. Met elke toewysing het dit soos die beste maand van ons lewe gevoel.”