Spring na inhoud

Atlanta verwelkom Jehovah se Getuies hartlik

Atlanta verwelkom Jehovah se Getuies hartlik

“Ek wil die lede van julle organisasie prys weens hulle begeerte en ywer om God se Koninkryk te dien. Julle liefdesdade en bydraes ten behoewe van mede-Getuies van Jehovah en die gemeenskap word hoog op prys gestel.”

Dit is wat Kasim Reed, die burgemeester van die stad Atlanta, Georgia, VSA, in ’n brief gesê het. Die brief het Jehovah se Getuies verwelkom by drie groot byeenkomste wat daar gehou sou word.

Die stadsraad van Atlanta het ook ’n proklamasie uitgevaardig waarin hulle die byeenkomsgangers verwelkom het. Dit het gesê: “Daar is byna agtmiljoen Getuies van Jehovah regoor die wêreld, wat uit honderde etniese en taalagtergronde kom, en tog . . . is julle verenig deur dieselfde doelwitte . . . [Julle] wil Jehovah, die God van die Bybel en die Skepper van alles, vereer.”

Drie byeenkomste is in Julie en Augustus 2014 in die stad gehou, twee in Engels en een in Spaans. Daar was byeenkomsgangers van ten minste 28 lande, en die Engelse programme is terselfdertyd in Russies en Japannees getolk vir afgevaardigdes wat hierdie tale praat. Die totale bywoningsyfer vir die drie byeenkomste was 95 689.

Gedurende 2014 het Jehovah se Getuies 24 groot internasionale byeenkomste in nege lande gehou, insluitende 16 in die Verenigde State.