Spring na inhoud

Die graduering van die 137ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

Die graduering van die 137ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

Op 13 September 2014 het die 137ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer by die onderrigsentrum van Jehovah se Getuies in Patterson, New York. Hierdie skool voorsien opleiding aan bedienaars van Jehovah se Getuies wat reeds baie ondervinding het, om die gemeentes en takkantore waar hulle toegewys is, op selfs bekwamer wyse op te bou. ’n Gehoor van 12 333 het die program bygewoon, hetsy by die onderrigsentrum in Patterson of deur middel van videoverbinding by fasiliteite in Jamaika, Kanada, Puerto Rico en die Verenigde State.

Samuel Herd, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het as voorsitter van die program gedien. In sy inleidende opmerkings het hy beklemtoon hoeveel hoër Jehovah se gedagtes as ons s’n is (Jesaja 55:8, 9). Hy het gesê dat die Gileadstudente, al het hulle hulle verstande vyf maande lank met God se gedagtes gevul, maar nog net “die rande van [God se] weë” leer ken het (Job 26:14). Broer Herd het ook gesê dat ons elke keer wanneer ons bymekaar kom om God se gedagtes te bespreek, daarby baat vind en dat hierdie gradueringsprogram geensins anders sal wees nie.

“Die vrug van die gees is geduld” (Galasiërs 5:22). John Larson, ’n lid van die Verenigde State se takkomitee, het die aandag gevestig op twee maniere waarop ons geduld, ’n aspek van die vrug van God se gees, kan openbaar. Eerstens, ons moet geduldig wees met Jehovah terwyl hy ons oplei en ons help om sterk te word in die geloof (1 Petrus 5:10). Abraham het ’n goeie voorbeeld van geduld gestel terwyl Jehovah hom opgelei het en uiteindelik Sy belofte aan hom vervul het.—Hebreërs 6:15.

Tweedens, ons moet geduldig wees met onsself. Ná hulle Gileadopleiding sal die studente dalk te veel van hulleself verwag. As dinge nie dadelik vlot verloop wanneer hulle hulle toewysings bereik nie, sal hulle miskien wonder: ‘Wat is fout met my?’ Op grond van sy eie ondervinding het broer Larson hulle verseker dat hulle uitdagings te bowe kan kom deur geduldig te wees met hulleself en ywerig te bly terwyl God hulle opleiding voltooi.—Hebreërs 6:11, 12.

“Mag julle hart nederig bly en vir ewig lewe!” Anthony Morris van die Bestuursliggaam het sy tema gebaseer op die laaste deel van Psalm 22:26 wat sê: “Mag julle hart vir ewig lewe.” Ons moet nederig wees as ons hierdie seën wil ontvang. Broer Morris het beklemtoon dat ons nie meer vir Jehovah nuttig is as ons nie nederig is nie. Ons almal, selfs dié wat al lank Christene is, kan uit die oog verloor hoe belangrik dit vir ons is om soos Christus Jesus te wees.—2 Petrus 1:9.

Die Bybel bevat voorbeelde van persone wat nederig was en persone wat nie nederig was nie. Herodes Agrippa was hoogmoedig en het dus die vleiery aanvaar van mense wat hom die heerlikheid gegee het wat net God toekom; gevolglik het ’n engel van God hom getref, en “hy is deur wurms opgeëet” (Handelinge 12:21-23). In teenstelling hiermee het Petrus, nadat Jesus hom tereggewys het omdat hy “nie God se gedagtes nie, maar dié van mense” gedink het, blykbaar nie kwaad geword of dikmond rondgeloop nie (Matteus 16:21-23). Hy het die dissipline aanvaar en ’n voorbeeld van nederigheid geword.—1 Petrus 5:5.

Party van die studente sal by een van die takkantore van Jehovah se Getuies gaan dien, en broer Morris het gewaarsku dat hulle baie ongelukkig in hulle toewysing sal wees as hulle nie nederig is nie. Maar dit is nie altyd maklik om ’n gebrek aan nederigheid in jouself te sien nie. Om die gedagte te beklemtoon, het hy vertel van ’n ouer man wat baie jare gelede raad ontvang het omdat hy nie nederigheid aan die dag gelê het nie en wat aan die takkantoor geskryf het: “Ek is die nederigste persoon wat ek ken.” Broer Morris het die studente aangespoor om so ’n gesindheid te vermy. Hulle sal nederig bly as hulle nie ’n oordrewe beskouing van hulle eie gesag ontwikkel nie en eerder erken dat die ware gesag by Jehovah God en Christus Jesus lê.

“Hy ‘gee die gees nie volgens maat nie’” (Johannes 3:34). Michael Burnett, ’n Gileadinstrukteur, het die studente daaraan herinner dat die heilige gees hulle sal help om enige moeilikhede of twyfelgedagtes in hulle toewysing te oorkom. God se gees het Besaleël in staat gestel om die uitdagings van sy toewysing om die tabernakel te bou, die hoof te bied (Eksodus 35:30-35). Die heilige gees het nie net Besaleël se natuurlike vermoëns as ’n vakman verbeter nie, maar hom ook in staat gestel om ander te leer. Die heilige gees kan dit ook in die geval van die Gileadgegradueerdes doen, veral as hulle ander uit die Bybel onderrig, soos hulle in die klas geleer het.

In Besaleël se tyd het Israelitiese vroue ook ’n belangrike rol in die bou van die tabernakel gespeel (Eksodus 35:25, 26). Die susters in die klas het ook bewys dat hulle “wys van hart” is in hulle ondersteuning van hulle mans. Broer Burnett het afgesluit met die volgende raad aan die studente: “Balanseer jou natuurlike vermoëns met nederigheid en ’n gehoorsame gees. Dan sal Jehovah jou sy gees ten volle gee.”

“Sal jy saam met my dans?” Mark Noumair, ’n helper vir die Onderrigtingskomitee, het sy tema ontwikkel deur die voorbeeld van koning Dawid te gebruik toe hy die verbondsark na Jerusalem laat bring het (2 Samuel 6:12-14). Dawid het met nederigheid en vreugde saam met “die slavinne van sy knegte” gedans terwyl die Ark na die stad gebring is (2 Samuel 6:20-22). Daardie slavinne sou nooit die dag vergeet het waarop koning Dawid saam met hulle gedans het nie. Broer Noumair het die studente toe aangespoor om ‘saam met die slavinne te dans’. Hy het hulle gevra: “Sal jy bekend staan as iemand wat diegene met min of geen verantwoordelikhede help? . . . Sal jy ander waardeer weens hulle geestelike eienskappe?”

Die studente sal Jehovah navolg as hulle voortgaan om lojale liefde op hierdie manier aan die dag te lê (Psalm 113:6, 7). Al is party mense om hulle nie nederig nie, moet die studente nie toelaat dat hierdie onvolmaakthede van ander hulle beïnvloed nie. “Beskou jouself as onbelangrik”, het broer Noumair gesê en bygevoeg: “Behandel Jehovah se skape soos Hy hulle sou behandel.”

“Getuig op elke gepaste geleentheid.” William Samuelson, die opsiener van die Teokratiese Skole-afdeling, het die apostel Paulus gebruik as ’n voorbeeld van iemand wat elke geleentheid aangegryp het om die goeie nuus te verkondig (Handelinge 17:17). Toe het die studente ondervindinge gedemonstreer wat hulle gedurende hulle Gileadkursus in die bediening gehad het. Byvoorbeeld, ’n egpaar het ’n klerk in ’n koswinkel ontmoet. Hulle het gewag totdat dit stil is in die winkel en het toe vir haar die video Waarom moet jy die Bybel studeer? gewys. Hulle het ook haar aandag gevestig op jw.org, waar sy inligting in Lao, haar moedertaal, kon vind. Die egpaar kon teruggaan en die vrou se belangstelling verder ontwikkel.

“Bly beskikbaar vir Koninkryksdiens.” William Nonkes, wat in die Diensafdeling van die Verenigde State se takkantoor werk, het ’n onderhoud met vier van die studente gevoer. Hulle het hulle, in die gees van Jesaja 6:8, reeds beskikbaar gestel vir Koninkryksdiens, maar die skool het hulle voorberei om dit in selfs groter mate te doen. Suster Snolia Maseko het verduidelik dat Gilead haar gehelp het om te sien waarin sy kan verbeter, veral in hoe om tyd wyslik te gebruik selfs ná ’n volle dag van diens. Sy het gesê: “Die opleiding het my beweeg om baie meer te doen as wat ek gedink het ek kon.” Broer Dennis Nielsen het geleer hoe die gedagte in Sefanja 3:17 hom kan help om ontmoediging in sy bediening te vermy. “As ek in velddiens is en die resultate min is, moet ek onthou dat Jehovah uitroep van vreugde”, het broer Nielsen gesê, “en ek moet dit ook doen.”

“Hou die voëls van die hemel noukeurig dop” (Matteus 6:26). Stephen Lett van die Bestuursliggaam het die hooftoespraak gehou. Broer Lett het op grond van Jesus se woorde dat ons die voëls ‘noukeurig moet dophou’, etlike lesse bespreek wat ons by voëls kan leer.—Job 12:7.

Byvoorbeeld, net soos Jehovah die voëls voed, sal hy vir ons sorg. Ons is lede van “God se huisgesin”, en hy verseker ons dat hy “vir sy eie mense” sal sorg (1 Timoteus 3:15; 5:8). Ons moet natuurlik ons deel doen. Net soos die voëls die kos moet soek wat God voorsien, moet ons aanhou “om eers die koninkryk . . . te soek” as ons sy seën wil verkry.—Matteus 6:33.

Broer Lett het ook daarop gewys dat baie voëls ’n waarskuwing gee wanneer hulle bewus word van gevaar. Net so moet ons ander waarsku wanneer dit gepas is; byvoorbeeld, wanneer ’n broer ‘die een of ander misstap begaan voordat hy daarvan bewus is’ (Galasiërs 6:1). En deur middel van ons predikingswerk waarsku ons mense oor die vinnig naderende “dag van Jehovah” (Sefanja 1:14). In nog ’n voorbeeld het broer Lett verduidelik dat ons, net soos trekvoëls wat oor hoë berge vlieg, oënskynlik onoorkomelike struikelblokke met Jehovah se hulp te bowe kom.—Matteus 17:20.

Slot. Die studente het hulle diplomas ontvang, waarna een van hulle ’n brief van waardering van die klas gelees het. In sy slotopmerkings het broer Herd die proses om Jehovah se gedagtes in ons hart te kry, vergelyk met die werk om penne in die dwarsbalke van ’n spoorlyn in te slaan. Dit verg ’n paar houe met ’n hamer om ’n pen stewig in te slaan. Net so moet die studente aanhou om na te dink oor die dinge wat hulle by Gilead geleer het. “Neem die tyd om dit diep in julle hart in te slaan”, het broer Herd gesê. Toe het hy bygevoeg: “Volg God se gedagtes, en julle sal ’n seën wees.”