Graduering van die 138ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
Op 14 Maart 2015 het die 138ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by die onderrigsentrum van Jehovah se Getuies in Patterson, New York, gegradueer. ’n Gehoor van meer as 14 000 het na die program gekyk terwyl dit aangebied is, insluitende baie wat op ander plekke deur middel van videoverbinding daarna gekyk het. Die program het begin met ’n musiekvoorspel wat uit vier nuwe Koninkryksliedere bestaan het, wat later deur die hele gehoor gesing is. a
Geoffrey Jackson, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, was die voorsitter van die program. In sy openingswoorde het hy die studente aangespoor om nie besitlik te wees oor hulle kennis nie, maar om die opleiding wat hulle ontvang het, te gebruik om ander te help.—2 Timoteus 2:2.
Broer Jackson het die voorbeeld van Moses bespreek. Moses se persoonlike tent was ’n ruk lank as ’t ware die sentrum van aanbidding vir die nasie Israel. Maar toe die tabernakel voltooi is, het dít die sentrum van ware aanbidding geword. Moses is klaarblyklik nie toegelaat om in die Allerheiligste van die tabernakel in te gaan nie; slegs die hoëpriester het hierdie voorreg gehad. Daar is egter geen aanduiding dat Moses oor hierdie verandering gekla het nie. Hy het Aäron eerder lojaal in sy nuwe toewysing as hoëpriester ondersteun (Eksodus 33:7-11; 40:34, 35). Die les? “Koester enige voorreg wat jy het, maar moenie besitlik daaroor wees nie”, het broer Jackson gesê.
“Sal jy bang wees vir die geluid van ’n blaar?” Dit was die tema van die toespraak wat gelewer is deur Kenneth Flodin, ’n helper van die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam. Hy het gesê dat die studente dalk voor intimiderende situasies te staan sou kom, soos vervolging of uitdagende toewysings. Hy het ’n uitdrukking in Levitikus 26:36 gebruik om die studente aan te spoor om sulke situasies nie te beskou as onoorkombaar nie, maar eerder bloot as ’n uitgedroogde blaar. Broer Flodin het toe die aandag gevestig op die voorbeeld van die apostel Paulus, wat talle uitdagings die hoof kon bied omdat hy op Jehovah vertrou het.—2 Korintiërs 1:8, 10.
“Wat is jou verwagtinge?” Mark Sanderson, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die volgende toespraak op die program gelewer. Hy het die beginsel bespreek in Spreuke 13:12, wat sê: “’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek.” Ongelukkig voel baie mense hulle lewe lank teleurgesteld omdat hulle doelwitte nastreef wat hulle nooit sal kan bereik nie, soos rykdom of roem.
In Jesus se dag het party verkeerde verwagtinge gehad in verband met Johannes die Doper (Lukas 7:24-28). Byvoorbeeld, hulle het dalk ’n filosoof verwag wat hulle met abstrakte leringe sou vermaak. As dit die geval was, sou hulle teleurgesteld gewees het, want Johannes het hulle logiese waarhede geleer. Ander het dalk ’n man met ’n indrukwekkende voorkoms verwag. Maar Johannes het klere gedra wat algemeen was onder die armes. Daarenteen is diegene wat ’n profeet verwag het, nie teleurgestel nie, want Johannes was nie net ’n profeet nie, maar ook die voorloper van die Messias!—Johannes 1:29.
Broer Sanderson het die les toegepas deur die studente aan te spoor om die regte verwagtinge te hê. In plaas daarvan om aansien na te streef of spesiale behandeling in hulle toewysing te verwag, moet hulle hulle daarop toespits om hulle opleiding te gebruik om ander te help. Hulle kan dit doen deur ander te vertel van die dinge wat hulle in Gilead geleer het, deur hulle broers en susters se geloof te versterk en deur hulle lief te hê. “Maak dit jou doelwit om die nederige kneg van jou broers en susters te wees en doen jou bes om Jehovah se wil te doen”, het broer Sanderson gesê, “en dan sal jy nooit teleurgesteld wees nie.”
“Voed dié wat honger is.” Dit is die tema wat James Cauthon, ’n onderrigter in die Toekratiese Skole-afdeling, ontwikkel het. Broer Cauthon het getoon dat almal ’n honger het na liefde, waardering en erkenning. Selfs Jesus het hierdie behoefte gehad, en Jehovah het dit bevredig deur middel van sy liefdevolle woorde toe Jesus gedoop is.—Matteus 3:16, 17.
Jehovah het ons die vermoë gegee om ander met ons woorde aan te moedig en te versterk, en hy verwag dat ons dit moet doen (Spreuke 3:27). “Leer jouself om na die goeie in ander te soek, en prys hulle dan vryelik daarvoor”, het broer Cauthon gesê. Opregte lof sal ons medegelowiges daarvan verseker dat hulle pogings die moeite werd is.
“Goed tot op die laaste.” Mark Noumair, ’n helper van die Onderrigtingskomitee, het die volgende toespraak op die program gelewer. Broer Noumair het die voorbeeld van die apostel Paulus gebruik om die studente aan te spoor om nie daarmee tevrede te wees om net te doen wat van hulle vereis word nie. Hulle sal eerder, soos Paulus, ware vreugde vind as hulle hulle vir ander uitgiet.—Filippense 2:17, 18.
Paulus het selfs ondanks beproewinge nie moed opgegee nie. Omdat hy hom tot sy dood ingespan het, het Paulus hom as ’t ware tot op die laaste as ’n drankoffer uitgegiet. Hy kon tereg sê: “Ek het die wedloop enduit gehardloop” (2 Timoteus 4:6, 7). Broer Noumair het die studente aangespoor om Paulus na te volg deur die Koninkrykswerk lojaal te ondersteun in hulle toewysing.
Ondervindinge. Michael Burnett, nog ’n Gileadinstrukteur, het die volgende deel op die program behartig, waarin party van die studente velddiensondervindinge gedemonstreer het wat hulle gedurende hulle tyd by Patterson gehad het.
Die studente het dikwels goeie resultate verkry deur op die uitkyk te wees vir geleenthede om te getuig en deur die waarheid te probeer verkondig in “die taal van die hart”—dit wil sê, in mense se moedertaal. Een student het byvoorbeeld uitgevind dat daar baie Spaanssprekende mense in die gebied is waarin hy van plan was om te preek. Daarom het hy eendag, voordat hy in die bediening uitgegaan het, met behulp van JW Language ’n paar woorde in Spaans geleer. Daardie selfde dag het hy ’n man op straat ontmoet wat Spaans praat. Die student het die bietjie Spaans wat hy geleer het, gebruik om ’n gesprek te begin wat tot ’n Bybelstudie met die man en vier van sy familielede gelei het.
Onderhoude. Toe het William Turner jr., ’n helper van die Dienskomitee van die Bestuursliggaam, ’n onderhoud met vier studente gevoer oor hulle ondervindinge voor die Gileadskool, asook die opleiding wat hulle by die skool ontvang het.
Die studente het vertel watter punte in die leerplan hulle aanmoedigend gevind het. Een student het byvoorbeeld vertel wat hy uit die verslag in Lukas hoofstuk 10 geleer het. Die 70 dissipels wat deur Jesus uitgestuur is, was verheug toe hulle goeie resultate in hulle bediening gehad het. Hoewel Jesus ook bly was, het hy die dissipels geleer om hulle vreugde nie net op resultate te grond nie, maar hoofsaaklik op die wete dat Jehovah bly is oor hulle werk. Dit herinner ons daaraan dat ware vreugde nie van ons omstandighede afhang nie, maar van Jehovah se guns.
Broer Turner het die woorde van Filippense 1:6 op die studente toegepas en hulle verseker dat Jehovah “’n goeie werk in [hulle] begin het” en dat Jehovah sou voortgaan om met hulle te wees.
“Hou jou oë gerig op Jehovah.” Samuel Herd, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die hooftoespraak van die program gelewer. Hy het gesê dat ons Jehovah nie letterlik kan sien nie. Hoe is dit dan moontlik om ons oë op hom gerig te hou?
Een manier waarop ons Jehovah kan sien, is deur sy skeppingswerke te ondersoek, wat ons omtrent hom leer. Wat meer is, Jehovah het “die oë van [ons] hart verlig” (Efesiërs 1:18). Hoe meer ons die Bybel lees, hoe meer sal ons omtrent Jehovah leer. En hoe meer ons omtrent Jehovah leer, hoe nader voel ons aan hom.
Ons wil veral aandag skenk aan die Evangelieverslae, want dit gee ons ’n duidelike beeld van Jehovah, soos geopenbaar deur die woorde en dade van sy Seun. Jesus het Jehovah se persoonlikheid so noukeurig weerspieël dat hy kon sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.”—Johannes 14:9.
Broer Herd het die gehoor aangespoor om Jehovah nie net deur die voorbeeld van Jesus te sien nie, maar ook om hierdie voorbeeld na te volg. Byvoorbeeld, net soos Jesus hom ingespan het om ander te voed, wil ons hard werk om die geestelike voedsel wat ons ontvang het, met ander te deel.
Wat is die gevolg wanneer ons ons oë op Jehovah gerig hou? Ons kan dieselfde vertroue hê as die psalmis wat geskryf het: “Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.”—Psalm 16:8.
Slot. Nadat die studente hulle diplomas ontvang het, het een van die gegradueerdes ’n brief gelees waarin die klas hulle hartgrondige waardering uitgespreek het. Toe het broer Jackson afgesluit deur vir die gegradueerdes te sê dat hulle nie moet voel dat alles wat hulle ander leer, nuut of indrukwekkend moet wees nie. Hulle sal hulle broers en susters grotendeels herinner aan dinge wat hulle reeds weet. Broer Jackson het ook die belangrikheid van nederigheid beklemtoon. Die gegradueerdes moenie die aandag op hulleself of hulle Gileadopleiding vestig nie, maar eerder op die Bybel en ons Bybelpublikasies. Die gegradueerdes sal sodoende nie diegene ontmoedig wat dalk nooit die geleentheid sal hê om die Gileadskool by te woon nie, maar sal hulle medegelowiges eerder aanmoedig deur hulle te help om baat te vind by die geestelike voorsienings waartoe hulle wel toegang het. Almal in die gehoor was ná die program versterk en vasbeslote om hulle broers en susters te dien.