’n Geskenk van 19 000 vlugte
In Julie 2013 het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ’n opwindende brief gestuur aan sendelinge en ander spesiale voltydse dienaars in buitelandse diens. Die brief het hulle ingelig omtrent ’n reëling om diegene in buitelandse diens te help om na internasionale en streekbyeenkomste te reis wat in 2014 en aan die begin van 2015 gehou sou word.
Die doel van die reëling was nie net om diegene in buitelandse diens te help om ’n byeenkoms by te woon nie, maar ook om hulle in staat te stel om tyd saam met hulle familie en vriende deur te bring. Die brief het gesê dat die organisasie vir ’n retoervlug sou betaal.
Hoewel soortgelyke reëlings in die verlede getref is, sou hierdie jaar anders wees. Onder leiding van die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam sou ’n nuwe afdeling, die Wêreldhoofkwartier se Reisafdeling, die besprekings doen.
Kort nadat die brief gestuur is, het die Wêreldhoofkwartier se Reisafdeling een versoek na die ander begin ontvang. Teen Januarie 2014 het versoeke om vliegtuigkaartjies ingestroom. Die groep wat hierdie reëlings moes tref, het navorsing en besprekings gedoen vir spesiale voltydse dienaars van regoor die wêreld.
Van die reisplanne was ingewikkeld. Reisigers van Reykjavik, Ysland, moes na Cochabamba, Bolivia, gaan. Ander van Nouméa, Nieu-Kaledonië, moes vlugte kry na Antananarivo, Madagaskar. Party het van Port Moresby, Papoea-Nieu-Guinee, na Seattle, Washington, VSA, gevlieg, en nog ander van Ouagadougou, Burkina Faso, na Winnipeg, Kanada.
Die span van vyf mense wat by die Wêreldhoofkwartier se Reisafdeling werk, het omtrent 19 000 vlugte bespreek. Met die geld wat gemeentes spesifiek vir hierdie doel bygedra het, het hulle vliegtuigkaartjies gekoop en gestuur vir ongeveer 4 300 reisigers in 176 lande.
Die voltydse dienaars was baie dankbaar vir hierdie voorsiening. ’n Sendelingegpaar het geskryf: “Ons keer vandag terug na ons toewysing in Suidoos-Asië. Ons is baie dankbaar dat julle ons gehelp het om terug te gaan na Engeland, ons geboorteland, en om vir die eerste keer in vyf jaar saam met ons familie te wees. Sonder hierdie voorsiening sou ons dit nie kon gedoen het nie. Ons wil dus opreg dankie sê vir almal wat dit moontlik gemaak het.”
’n Sendeling wat in Paraguay dien, het geskryf: “Ek en my vrou wil ons opregte dankbaarheid uitspreek vir die geleentheid om die internasionale byeenkoms in New Jersey, VSA, by te woon. Vroeg in 2011 het ons begin beplan om die wêreldhoofkwartier in die Verenigde State te besoek. Ons het reeds ’n bietjie geld daarvoor gespaar. Maar in Junie daardie jaar is ons genooi om die gebaretaalgemeentes in Paraguay te besoek. Dit sou behels dat ons baie moes reis. Ons het baie daaroor nagedink en toe besluit om ons reis na die Verenigde State prys te gee en eerder ’n kar te koop om doeltreffender te wees in ons nuwe toewysing. Toe het ons die uitnodiging ontvang om die internasionale byeenkoms by te woon. Ons droom het dus ’n werklikheid geword! Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah dat hy sy goedheid en liefde op hierdie manier aan ons betoon het.”
“Ons stuur hierdie e-pos om baie, baie dankie te sê!”, het ’n egpaar van Malawi geskryf. “Ons kan ons net indink hoeveel werk, tyd en geld nodig was om na soveel reisplanne om te sien. Ons waardeer julle harde werk en, bowenal, die vrygewigheid van Jehovah se organisasie, wat dit vir ons moontlik gemaak het om ’n internasionale byeenkoms in ons tuisland by te woon en tyd saam met familie en vriende deur te bring.”
Diegene in die Wêreldhoofkwartier se Reisafdeling het hulle toewysing baie geniet. “Dit was ’n wonderlike ondervinding om die sendelinge te help om terug huis toe te gaan om hulle familie en vriende te sien”, het Mileivi gesê. “Dit het my gehelp om te besef hoe lief die organisasie is vir diegene in buitelandse diens”, het Dorise bygevoeg. En Rodney, die opsiener van die afdeling, het gesê: “Ek het dit baie geniet om by hierdie projek betrokke te wees.”
Jehovah se Getuies regoor die wêreld was bly dat hulle die geleentheid gehad het om by te dra tot hierdie liefdevolle geskenk vir hulle hardwerkende, selfopofferende broers en susters.