Spring na inhoud

Gered van selfmoord

Gered van selfmoord

Terwyl twee van Jehovah se Getuies aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem het, het hulle aan ’n deur geklop. ’n Ontstelde man het die deur oopgemaak; agter hom het ’n tou bokant die trap gehang.

Toe die man die Getuies innooi, het hulle gevra waarom die tou daar hang. Die man het gesê dat hy op die punt was om selfmoord te pleeg, maar toe die deurklokkie lui, het hy besluit om die deur vir oulaas oop te maak. Die Getuies het met die man geredeneer en saam met hom na ’n dokter gegaan, wat hulp gebied het.

Hierdie verhaal het in ’n Belgiese koerant verskyn. Maar dit is nie die enigste keer dat Jehovah se Getuies gehelp het om iemand van selfmoord te red nie. Kyk na nog soortgelyke stories van regoor die wêreld.

’n Vrou in Griekeland het geskryf: “My maat het my diep teleurgestel, en ek het baie depressief geword. Die emosionele pyn was so erg dat ek besluit het om selfmoord te pleeg. Net die gedagte aan selfmoord het vir my verligting gebring—ek wou die pyn laat ophou.

Die vrou het egter na ’n dokter toe gegaan. Kort daarna het sy met die Getuies in aanraking gekom, die Bybel begin studeer en vergaderinge begin bywoon. “Ek het die onselfsugtige liefde waarna ek al die jare gesoek het, onder die broers en susters gevind.” Sy het geskryf: “Ek het ware vriende gekry wat ek kan vertrou. Ek is kalm en gelukkig en is nie bekommerd oor die toekoms nie.

’n Getuie in Engeland skryf: “’n Kennis het my in ’n baie ontstelde toestand gebel en gesê dat sy daardie aand gaan selfmoord pleeg. Ek het ’n artikel in die Ontwaak! van Mei 2008 oor selfmoord gebruik om met haar te redeneer, en ek het vir haar vertroostende tekste gelees. Sy wil nou nie meer selfmoord pleeg nie, al het sy nog steeds probleme.

In Ghana het Michael, een van Jehovah se Getuies, ’n gesprek met ’n jong vrou by sy werk aangeknoop. Op ’n dag het Michael opgemerk dat sy baie terneergedruk is, en hy het haar gevra wat die oorsaak is.

Sy het gesê dat sy ’n einde aan haar lewe wou maak omdat haar man haar vir ’n ander vrou verlaat het. Michael het haar getroos en vir haar twee boeke gegee wat die Bybel verduidelik. Die inligting daarin het voorkom dat sy selfmoord pleeg. Die vrou het aangehou om die Bybel te studeer en is nou een van Jehovah se Getuies.

’n Koerant in die Verenigde State het berig dat ’n jong Getuie wat met die predikingswerk besig was, ’n geparkeerde motor opgemerk het waarvan die enjin nog geloop het.

“Ek het gesien dat die rubberpyp van ’n droër aan die uitlaatpyp vasgemaak was,” het die jong man gesê. “Die ander end van die pyp het deur die motorvenster gehang, wat met kleefband verseël was.

“Toe ek na die motor hardloop en deur die venster kyk, het ek ’n vrou sien huil. Die motor was vol uitlaatgas. ‘Wat doen jy?’ het ek geskreeu.

“Toe ek my hand uitsteek om die deur oop te maak, het ek drie jong kinders op die agtersitplek gesien. Ek het die deur oopgemaak, en sy het gesê: ‘Ek moet gaan! Ek moet gaan! Ek moet my kinders saam met my neem.’

“Ek het gesê: ‘Moet dit asseblief nie doen nie, dit is nie die oplossing nie!’

“Sy het geantwoord: ‘Ek moet hemel toe gaan. Ek moet my kinders saam met my neem.’

“Terwyl sy aanhou huil het, het ek op my knieë geval—ek was nou self in trane. Weer het ek gesê: ‘Moet dit asseblief nie doen nie.’ Ek het toe my arm om haar gesit en haar saggies uit die motor getrek.

“Toe het sy uitgeroep: ‘Red my kinders!’

“Hulle het hulle armpies na my toe uitgestrek. Daar was twee dogtertjies van vier en vyf jaar en ’n seuntjie van twee jaar. Hulle het stil op die agtersitplek van die motor gesit, onbewus dat hulle oor ’n kort rukkie dood sou gewees het.

“Toe al vier uit die motor was, het ek die enjin afgeskakel. Ons almal het op ’n lae klipmuurtjie gaan sit, en ek het gesê: ‘Praat met my.’”

Jehovah se Getuies beskou die lewe as ’n kosbare gawe van ons Skepper. Regoor die aarde probeer hulle om diegene te vertroos wat geliefdes weens selfmoord verloor het en om diegene te help wat selfmoord probeer pleeg het.