Getuies in Italië help hulle bure
Nadat dit laat in November 2016 in Noord-Italië swaar gereën het, was party dorpe suid van die dorp Moncalieri oorstroom. Op party plekke was die water meer as ’n halwe meter diep. Volgens een koerant het die water alles in sy pad vernietig. Omtrent 1 500 inwoners is deur die plaaslike owerhede gevra om dadelik hulle huise te verlaat. En danksy die vinnige optrede van die reddingspanne het niemand hulle lewe verloor nie. Maar baie families het hulle besittings verloor.
Spanwerk maak dinge beter
Spanne Getuies het dadelik begin werk. Hulle het families wat geraak is, gehelp om die modder en die gemors in hulle huise skoon te maak en om die meubels en persoonlike items te verwyder. Toe een span by ’n padblokkade gekom het met toerusting en warm kos, het die owerheid hulle laat deurgaan sodat hulle ’n gesin kon help. Die vrywilligers het hulle mede-Getuies en ook hulle bure van ander godsdienste gehelp.
Byvoorbeeld, die kelderverdieping van ’n woonstelgebou was heeltemal oorstroom. Nadat nooddienste die water uitgepomp het, het ’n groot span Getuies ’n mede-Getuie met die naam Antonio en sy gesin gehelp om sy kelder skoon te maak. Daarna het die vrywilligers ander inwoners in die gebou gehelp. Hulle het ’n ketting gevorm en binne ’n paar uur het hulle al die kelders leeggemaak. Almal was baie dankbaar vir die hulp. Een van die inwoners, Viviana, het na Antonio se vrou gegaan en met trane in haar oë gesê: “Sê asseblief dankie vir julle broers. Julle is regtig wonderlik!”
In een dorpie wat veral erg beskadig is deur die vloed, het die inwoners opgelet dat spanne Getuies mense gehelp het wat deur die ramp geraak is. Party van die inwoners wat dit gesien het, is beweeg om die vrywilligers te help en hulle was bereid om die instruksies van die spanleier te volg.
Waardering vir “ongelooflike hulp”
Een man se huis was baie erg beskadig, en sy garage was toe onder die modder. Hy was verstom toe hy sien dat agt Getuies vier uur lank sonder ophou gewerk het om sy garage skoon te maak. Hy was baie dankbaar en het van die Getuies drukkies gegee en ’n boodskap op sosiale media gesit waarin hy dankie gesê het vir hulle “ongelooflike hulp”.
’n Getuie vertel: “Ons het baie van ons bure wat nie Getuies is nie, gehelp. Baie van hulle was in hulle 80’s. Party van hulle het trane in hulle oë gehad toe hulle vir ons dankie gesê het vir wat ons gedoen het.” Een van die bure wat baie aktief is in die plaaslike Katolieke Kerk, het vir die Getuies gesê hoeveel hy hulle hulp waardeer het. Hy het bygevoeg: “Dit is wonderlik om te sien dat hoewel ons nie in dieselfde dinge glo nie, ons mekaar gehelp het.” ’n Ander man het gesê: “Ek is jammer dat julle net bekend is vir die feit dat julle Sondagoggende aan mense se deure klop en nie vir die hulp wat julle gee nie.”