Jehovah se Getuies ontvang ’n toekenning vir omgewingsbeskerming
Die drukkery van Jehovah se Getuies in Mexiko het vir die sewende opeenvolgende jaar die Skoon Onderneming-sertifikaat ontvang.
Op 26 September 2012 het die regering van Mexiko aan Jehovah se Getuies ’n spesiale sertifikaat van erkenning gegee “vir [hulle] toegewydheid aan die versorging en beskerming van die omgewing”.
Die Skoon Onderneming-program help industrieë om te ontwikkel op maniere wat omgewingsvriendelik is. Jehovah se Getuies neem elke jaar hieraan deel, hoewel hulle organisasie geen winsoogmerk het nie. ’n Woordvoerder vir die drukkery in Mexiko het gesê: “Om die Skoon Onderneming-sertifikaat te ontvang, moet ons bewys lewer dat ons prosedures en neweprodukte op sewe gebiede aan plaaslike omgewingsregulasies voldoen: lug, water, stedelike afval, gevaarlike afval, veiligheid, elektriese energie en omgewingsopvoeding. Industriële ondernemings is nie verplig om aan hierdie program deel te neem nie. Ons neem vrywillig daaraan deel.”
Jehovah se Getuies regoor die wêreld doen alles in hulle vermoë om nie die aarde se kosbare omgewing te beskadig nie.