Spring na inhoud

Jehovah se Getuies help om Rostof-on-Don te versier

Jehovah se Getuies help om Rostof-on-Don te versier

Op 20 Mei 2015 het die hoof van die administrasie van die grootste stad in suidelike Rusland, Rostof-on-Don, ’n brief aan Jehovah se Getuies geskryf om die Getuies te bedank vir hulle “aktiewe deelname om die stad gedurende die lentetyd mooi te maak”.

Tydens die gemeenskap se pogings om Rostof-on-Don mooier te maak, het vier gemeentes van Jehovah se Getuies vullis en rommel opgetel wat op die stad se voetpaaie en rivieroewers opgehoop het. Binne net ’n paar uur het hulle omtrent 300 vullissakke volgemaak, wat later met vragmotors weggery is.

Waarom was die Getuies so gretig om die gemeenskap te help? Die 67-jarige Raisa sê: “Ek kan nie maak asof dit nie vir my belangrik is nie. Ek wil hê dat my stad skoon moet wees sodat almal in ’n skoon omgewing kan leef. Selfs al weet net ’n paar mense van wat ons gedoen het, geniet ek die werk nog steeds. Jehovah God sien dit wel raak.” Aleksander voeg by: “Ons preek nie net vir ander nie, ons help hulle ook op praktiese maniere. Ek voel gelukkig en tevrede wanneer ek iets vir my bure kan doen.”

Ander mense het die gewillige gees van Jehovah se Getuies waardeer. Een inwoner was verbaas toe hy uitvind dat die Getuies nie vir hulle werk betaal word nie. Hy het besluit om hulle met die skoonmaakwerk te help en hy het later gesê: “Ek sou nooit kon dink dat dit so lekker en bevredigend kan wees om skoon te maak nie!” Hy het bygevoeg: “Party van julle bly nie eens hier nie, maar julle het nog steeds hier kom skoonmaak!”

’n Stadsamptenaar het opgemerk dat een groepie Getuies ’n hele klomp vullis bymekaargemaak het. Hy het ’n foto van hulle geneem langs die sakke wat hulle volgemaak het sodat hy “ander [kon] wys hoe die werk gedoen moet word”.