Getuies gee hoop en vertroosting by Tour de France
Die 103de Tour de France, die wêreldbekende fietsresies, het van 2 tot 24 Julie 2016 plaasgevind. Gedurende die resies was die atmosfeer baie gespanne omdat meer as 100 mense die vorige jaar slagoffers van ’n hele paar terroriste aanvalle in Frankryk was. Gedurende ’n nasionale vakansiedag op 14 Julie 2016, terwyl mense besig was om na ’n vuurwerkvertoning in Nice te kyk, het ’n terroris met ’n trok tussen ’n groot groep van hulle ingejaag. Baie mense is beseer en 86 mense is in die aanval dood.
As gevolg van wat gebeur het, was mense in Frankryk bang en hartseer. Daarom wou Jehovah se Getuies mense graag ’n boodskap van hoop gee en hulle vertroos. Die Getuies het lektuurtrollies by die begin- en eindpunte van die Tour de France se verskillende skofte opgestel. Meer as 1 400 Getuies het vrywillig hieraan deelgeneem. Hulle het meer as 2 000 Bybelpublikasies voorsien aan mense wat graag antwoorde op van die belangrikste vrae in die lewe wou kry.
‘Julle is oral!’
Die mense wat van dorp tot dorp gegaan het om na die resies te kyk, was verbaas om Jehovah se Getuies by soveel plekke te sien. Jehovah se Getuies is meer as een keer deur lede van die Tour de France se bestuur geprys omdat hulle so goed georganiseerd was. Hulle het gesê: “Dit lyk asof julle oral is. Julle is by elke skof van die resies!” Baie van die toeskouers het gesê: “Jehovah se Getuies is ook hier!” ’n Paar dae nadat die resies begin het, het ’n busbestuurder vriendelik gesê dat hy nie ’n traktaat wil hê nie. Hy het toe verduidelik dat hy alreeds vier traktate gekry het!
Omdat die Getuies op soveel verskillende plekke was, het dit party mense so nuuskierig gemaak dat hulle vir die eerste keer lektuur by die trollies gevat het. ’n Voorbeeld hiervan is ’n man wat by ’n televisie-sportnetwerk werk. Hy het onthou dat hy die Getuies die vorige jaar by die Tour de France gesien het, en het besluit om hierdie jaar te gaan kyk wat by die trollie beskikbaar is. Hy het die boek Die geheim van gesinsgeluk gekies omdat dit ’n onderwerp bespreek wat vir hom baie belangrik is. Nadat hy ’n deel van die boek in sy voertuig gesit en lees het, het hy met sy werksmaats oor die lektuurtrollies gepraat. Hulle het toe ook na die trollie gegaan en publikasies oor verskeie onderwerpe gevat.
Hoop en vertroue
Party besoekers het met die Getuies oor hulle probleme kom praat. Een jong vrou het vertel dat sy moedeloos was en selfs daaraan gedink het om daardie selfde dag selfmoord te pleeg deur voor ’n trein in te spring. Maar die Bybel se gerusstellende boodskap van ’n vreedsame toekoms onder God se Koninkryk, het haar vertroos. Sy was verlig en het besluit om nie haar lewe te neem nie. ’n Ander vrou het vir die Getuies gesê: “Hou aan met julle goeie werk!”
’n Man wat met krukke geloop het, het erken dat hy gewoonlik versigtig is vir vreemdelinge. Maar hy het hulp aanvaar van ’n vrou wat netjies aangetrek was omdat hy besef het dat sy een van Jehovah se Getuies is. Hy het gesê: “Dankie dat jy glimlag en so netjies aangetrek is. ’n Mens weet sommer jy kan vertrou word.”