Spring na inhoud

Genesis nou beskikbaar in Amerikaanse Gebaretaal

Genesis nou beskikbaar in Amerikaanse Gebaretaal

DIE dowes het hulle hande gewaai in reaksie op die opwindende aankondiging: “Julle sal bly wees om te weet dat daar gewerk word aan die vertaling van gekose Bybelboeke van die Hebreeuse Geskrifte [Ou Testament]. Die [video]opname van die boek Genesis is voltooi!

Hierdie aankondiging is gedoen gedurende die laaste toespraak by onlangse streekbyeenkomste wat deur Jehovah se Getuies in Amerikaanse Gebaretaal (ASL) gehou is.

In 2005 het Jehovah se Getuies die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in ASL begin vertaal. Hulle het met die boek Matteus begin. Teen 2010 is al 27 boeke, wat oor die algemeen as die Nuwe Testament bekend staan, in ASL voltooi.

Daarbenewens het Jehovah se Getuies gedeeltes van die Bybel in vyf ander gebaretale vertaal.

Waarom doen hulle al hierdie moeite? Jehovah se Getuies besef dat die gedrukte woord gegrond is op ’n gesproke taal wat baie van die dowes nog nooit gehoor het nie. ’n Akkurate, duidelike en natuurlike vertaling van die Bybel in gebaretaal maak dit vir meer dowes moontlik om die inhoud daarvan te verstaan en om ’n hegte persoonlike verhouding met God op te bou. Hoe is daar op hierdie Bybelvertaling gereageer?

Toe die boek Matteus ’n paar jaar gelede vrygestel is,” het ’n jong dowe man gesê, “het ek gevoel dat Jehovah God sy liefde vir my persoonlik bevestig, en die vrystelling van Genesis het hierdie gevoelens versterk. Hy maak seker dat ek hom kan leer ken.

’n Dowe vrou het haar gevoelens só uitgedruk: “Die gebare is so duidelik en gevoelvol! Ek het lief geword vir die Bybel. Ek verstaan nou dat Jehovah wil hê dat ek sy Woord in konteks, vers vir vers, moet lees sodat ek ’n vollediger begrip van hom kan verkry. Hierdie duidelike taal raak my hart en stel my in staat om my gevoelens in gebed beter uit te druk.