Bybels uit Japan
Jehovah se Getuies het nuwe binderytoerusting by hulle drukkery in Ebina, Japan, geïnstalleer om te voorsien in die aanvraag na hardebandbybels en luukse uitgawes van die Bybel.
Daar was aanvanklik onsekerheid oor die projek omdat die aardbewing en tsoenami wat Japan op 11 Maart 2011 getref het, verpligte kragonderbrekings tot gevolg gehad het.
Nietemin het die projek in September 2011 op dreef gekom. Minder as drie maande later is die eerste eksemplare van die Nuwe Wêreld-vertaling in Chinees met behulp van die nuwe binderytoerusting vervaardig.
Die geoutomatiseerde bindery is sowat 400 meter lank. Die gedrukte materiaal word gebind, van ’n omslag voorsien, gepers, op mekaar gestapel en dan verpak in kartonne wat verseël en op laaiborde gepak word.
Samewerking werp vrugte af
Dit het noukeurige beplanning en koördinering geverg om die projek te laat slaag. Die binderytoerusting moes byvoorbeeld verseël en in kratte verpak word en toe in 34 houers gelaai en van Europa na Japan verskeep word.
Tien lede van die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Verenigde State het na Japan gereis om met die projek te help. Party het tot ses maande in Japan gebly om die werkers daar te leer hoe om die toerusting te gebruik en in stand te hou.
Die nuwe bindery het die aandag getrek van die bind-, druk- en uitgewersbedryf in Japan. Op 19 Maart 2012 het meer as honderd mense van hierdie bedryf op toer gegaan deur die bindery. Hulle was beïndruk.
Voordat hulle daar weg is, het elkeen ’n eksemplaar ontvang van die Nuwe Wêreld-vertaling wat in die nuwe bindery vervaardig is.
Die takkantoor in Japan, tesame met ons takkantore in die Verenigde State en Brasilië, behartig nou die wêreldwye vervaardiging van hardebandbybels vir Jehovah se Getuies.
‘Die volgende projek sal die moeilikste wees’
Die Getuies en die werkers van kommersiële maatskappye wat met die projek gehelp het, het dit geniet om saam te werk. Een van hierdie werkers wat nie ’n Getuie is nie, het gesê: “Julle is soos familie vir my.
”
Op die laaste dag van die projek het ’n ander werker wat nie ’n Getuie is nie, gesê: “Die volgende projek waarby ek betrokke gaan wees, sal die moeilikste wees, want dit sal nie so lekker wees soos die een by die Wagtoring-drukkery nie!
”