Spring na inhoud

Video’s in honderde tale

Video’s in honderde tale

Jehovah se Getuies is welbekend vir hulle vertaalwerk. Teen November 2014 het ons die Bybel in 125 tale vertaal, en Bybellektuur in 742 tale. Ons vertaalwerk sluit ook die vervaardiging van video’s in. Sedert Januarie 2015 is die video Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? in 398 tale beskikbaar, en die video Waarom moet jy die Bybel studeer? in 569 tale. Waarom en hoe is dit gedoen?

In Maart 2014 het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies takkantore regoor die wêreld aangewys om oudio-inhoud in soveel tale as moontlik voor te berei vir video’s om Bybelstudie te bevorder.

Om ’n video te vertaal, behels etlike stappe. Eers vertaal die plaaslike vertaalspan die teks. Dan word moedertaalsprekers gekies vir elke stem in die video. Daarna neem oudio-/videospanne die klankbaan in die teikentaal op, redigeer hulle die opname en sit hulle enige teks by wat op die skerm sal verskyn. Laastens word die klankbaan, die teks en die video bymekaargevoeg om ’n volledige lêer te vervaardig wat op die webwerf gelaai kan word.

Party takkantore het opnameateljees en opgeleide personeel om hierdie werk te doen. Maar wat van tale wat in afgesonderde plekke gepraat en vertaal word?

Regoor die wêreld het oudiotegnici met draagbare opnamestelsels aan die werk gespring. ’n Tegnikus het ’n mikrofoon en ’n skootrekenaar met sagteware vir oudio-opnames gebruik om ’n tydelike opnameateljee in ’n kantoor, ’n Koninkryksaal of ’n huis op te stel. Moedertaalsprekers het opgetree as lesers, afrigters en kontroleerders. Nadat die opname voltooi en goedgekeur is, het die oudiotegnikus sy toerusting opgepak en na die volgende plek gegaan.

Met hierdie metode is video’s in drie keer meer tale vervaardig as voorheen.

Die reaksie op hierdie video’s is ongelooflik. Vir baie mense is ons video’s die eerste video’s wat hulle nog ooit in hulle moedertaal gesien het.

Een van die tale wat opgeneem is, is Pitjantjatjara, wat deur meer as 2 500 mense in Australië gepraat word. Die taal is opgeneem in Alice Springs in die Noordelike Gebied. “Die video’s is uiters goed ontvang”, sê Callan Thomas, wat gehelp het om die oudio-opnames te vervaardig. “Die plaaslike mense kon hulle oë nie van die tablet afwend nie en het aanhou vra waar hulle nog van hierdie video’s kan vind. Lektuur in hierdie taal is skaars. Wanneer hulle dit hoor—en veral wanneer hulle dit sien—vervul dit hulle met ontsag.”

Twee Getuies in Kameroen het rivierop gereis in ’n boomkano. Hulle het by ’n Pigmeedorpie gestop en met die hoofman gepraat, wat ’n onderwyser by ’n plaaslike skool was. Toe die broers uitvind dat die hoofman Bassa praat, het hulle vir hom die video Waarom moet jy die Bybel studeer? in sy moedertaal op ’n tablet gewys. Die hoofman was baie beïndruk en het vir gedrukte lektuur gevra.

In ’n dorpie in Indonesië staan die plaaslike godsdiensleier Jehovah se Getuies teë. Hy het al die lektuur wat hulle in die gebied versprei het, verbrand. Ander in die dorpie het gedreig om die Koninkryksaal af te brand. Daarna het vier polisiemanne na die huis van ’n Getuie gegaan en haar en haar familie ondervra. Hulle wou weet wat in die Koninkryksaal gebeur, en daarom het sy vir hulle die video Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? in Indonesies gewys.

Nadat hulle na die video gekyk het, het een van die polisiemanne gesê: “Nou besef ek dat mense julle misverstaan en nie werklik weet wat julle doen nie.” Nog ’n polisieman het gevra: “Kan ek hierdie video kry sodat ek dit vir ander kan wys? Hierdie video gee die regte inligting omtrent julle.” Die polisie het nou ’n positiewe beskouing van die Getuies en beskerm hulle.

As jy nog nie hierdie video’s gesien het nie, kan jy gerus in jou eie taal daarna kyk.