Spring na inhoud

Foto’s word geneem wat die teks verbeter

Foto’s word geneem wat die teks verbeter

Hoe neem ons fotograwe foto’s wat ons publikasies verbeter en die teks komplementeer? Om die stappe wat gevolg word te illustreer, kyk na hoe die voorblad van die Ontwaak! van September 2015 ontwerp en afgeneem is. a

  • Ontwerp. Nadat hulle die artikel “’n Gebalanseerde beskouing van geld” gelees het, het die ontwerpers van die Kunsafdeling by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, sketse gemaak om die teks te illustreer. Hulle het hierdie sketse toe aan die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam voorgelê wat die konsep gekies het wat afgeneem moet word.

    ’n Paar van die ontwerpe vir die voorblad wat aan die Skryfkomitee voorgelê is

  • Ligging. Eerder as om die foto’s by ’n regte bank te neem, het die fotografie-span een van die voorportale by die Wagtoring-onderrigsentrum gebruik as ’n fiktiewe bank. b

  • Rolverdeling. Modelle, wat almal Jehovah se Getuies is, is gekies om die tipiese kliënte van ’n bank in ’n kosmopolitaanse stad uit te beeld. Rekords word gehou sodat dieselfde modelle nie te veel in ons publikasies gebruik word nie.

  • Toneelrekwisiete. Die Kunsafdeling het buitelandse geld gebruik sodat dit moet lyk asof die bank nie in die Verenigde State is nie. Die fotografie-span het toneelrekwisiete gebruik om die toneel so akkuraat en eg as moontlik te maak. “Niks word aan die toeval oorgelaat nie”, sê ’n fotograaf met die naam Craig.

  • Klere en grimering. Vir die fotosessie in die bank het modelle hulle eie klere gebring. Maar vir fotosessies met ’n geskiedkundige agtergrond of vir stelle wat gespesialiseerde kleredrag vereis, sal die Kunsafdeling navorsing doen en die gepaste kleredrag maak. Grimeerkunstenaars gebruik grimering om die modelle te laat inpas by die regte tydsperiode, konteks of agtergrond wat in die foto uitgebeeld word. “Weens die goeie beeldskerpte van vandag se fotografie en skerms”, sê Craig, “moet ons meer akkuraat wees as ooit tevore. Selfs net ’n klein fout kan die foto bederf.”

  • Fotosessie. Fotograwe het seker gemaak dat die beligting in die banktoneel dit laat lyk asof dit in die dag afspeel. Vir elke fotosessie moet die fotograwe seker maak dat die beligting akkuraat is (wat sonlig, maanlig of kunsmatige lig uitbeeld), dat dit by die bestaande lig in die toneel pas en dat dit by die atmosfeer van die toneel pas. “Anders as met video’s”, sê Craig, “het ons net een beeld wat die atmosfeer vasvang, en daarom is beligting baie belangrik.”

  • Redigering. Later het foto-redigeerders die skrif op die geld verdof sodat die fokus op die mense en nie op die oorsprong van die geld is nie. Hoewel die deur- en vensterrame eintlik rooi is, het die redigeerders die kleur na groen verander—om by die tydskrif se algehele kleurskema te pas.

Benewens die fotografie wat by Patterson gedoen word, het takkantore regoor die wêreld—in plekke so uiteenlopend soos Australië, Brasilië, Duitsland, Japan, Kanada, Korea, Malawi, Mexiko en Suid-Afrika—fotograwe wat gevra kan word om foto’s vir ons publikasies te voorsien. Die Kunsafdeling in Patterson voeg elke maand ongeveer 2 500 foto’s by hulle databasis. Baie van hierdie foto’s word in Die Wagtoring en Ontwaak! gebruik, wat in 2015 ’n gesamentlike oplaag van meer as 115 miljoen per uitgawe gehad het. Jy is welkom om ons takkantoor in Patterson, New York, of enige van ons takkantore regoor die wêreld te besoek om meer uit te vind.

Die tydskrif word in die bediening aangebied

a Daar word meer foto’s vir ’n voorblad geneem as wat op die ou end gebruik word. Maar baie van die foto’s wat nie gebruik word nie, word by die databasis gevoeg en later in ander projekte gebruik.

b As foto’s op straat in ’n stad geneem gaan word, moet die Kunsafdeling dikwels permitte by stadsowerhede kry en spesifiseer hoeveel mense daarby betrokke is, hoeveel toerusting en watter soort beligting tydens die fotosessie gebruik gaan word.