Spring na inhoud

’n Draagbare biblioteek

’n Draagbare biblioteek

Op 7 Oktober 2013 het Jehovah se Getuies ’n toepassing (app) vir draagbare toestelle vrygestel wat vir Bybellees en -studie gebruik kan word en JW Library genoem word. Hierdie gratis toepassing bied toegang tot ses Engelse vertalings van die Bybel, insluitende die King James-vertaling en die 2013-hersiening van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif. a

Waarom is dit geskryf?

Miljoene mense maak staat op slimfone, tablette of soortgelyke toestelle vir hulle werk en om te kommunikeer. Waarom is JW Library geskryf, aangesien mense wat draagbare toestelle gebruik reeds hulpmiddele vir Bybellees en -studie op jw.org kan vind?

Eerstens, die toepassing benodig nie ’n Internetverbinding wanneer dit geïnstalleer is nie, en daarom kan ’n mens dit gebruik terwyl jy nie op die Internet is nie. Tweedens, dit is spesiaal ontwerp om die leser te help om tekste maklik op te soek en ’n deegliker studie van die Bybel te doen. Hoe so?

JW Library is ’n hulpmiddel vir Bybelstudie

Wanneer JW Library die eerste keer oopmaak, vertoon dit die name van die Bybelboeke. Wanneer ’n Bybelboek gekies word, vertoon die volgende skerm ’n lys van die hoofstukke in die boek. Dit maak dit moontlik om ’n spesifieke vers of gedeelte van die hoofstuk binne sekondes te vind. Die toepassing het baie ander kenmerke wat Bybelstudie vergemaklik:

  • Voetnote wat alternatiewe vertalings en ander agtergrondinligting voorsien

  • Kruisverwysings na verwante Bybelverse

  • ’n Soekfunksie wat die gebruiker na al die gevalle neem waar die woord of frase voorkom

  • ’n Oorsig van die inhoud van elke Bybelboek aan die begin daarvan

  • ’n Tabel wat toon wie die skrywer van elke Bybelboek is, asook waar en wanneer dit geskryf is en die tydperk wat dit dek

  • ’n Deel met kaarte, tabelle, tydlyne en diagramme in volkleur

Soos die geval is met alle publikasies van Jehovah se Getuies, word JW Library gratis voorsien. Hierdie gratis toepassing, wat heeltemal deur vrywillige bydraes gefinansier word, is al meer as ’n miljoen keer afgelaai (2 Korintiërs 9:7). Probeer dit gerus self en vind baat by hierdie unieke draagbare biblioteek.

a Die toepassing is in Januarie 2014 bygewerk. Dit sluit nou ’n daaglikse Bybelteks en die liedereboek in wat deur Jehovah se Getuies gebruik word.