’n Eeu van musiek tot lof van God
“Ek wil hê dat jy na Columbia Studios in New York moet gaan en een van ons gesange daar moet gaan sing. Hulle sal ’n professionele langspeelplaat daarvan maak. Moet vir niemand sê wat jy doen nie.”
Laat in 1913 het William Mockridge hierdie ongewone toewysing uitgevoer wat hy van Charles Taze Russell ontvang het. a Daardie lied, wat onder party as “The Sweet By-and-By” bekend staan, is as ’n plaat van 78 r.p.m. uitgegee. Later het William uitgevind dat die lied gebruik sou word in die inleiding van die “Fotodrama van die Skepping”, ’n visuele aanbieding van opgeneemde Bybeltoesprake en musiek wat gesinchroniseer is met stilrolprente en prente wat op glasskyfies geverf is. Die “Fotodrama” is vir die eerste keer in Januarie 1914 in New York vertoon.
William se plaat was een van meer as 50 wat by verskeie Engelse vertonings van die “Fotodrama” op grammofone gespeel is. Hoewel die meeste van die musiek deur ander vervaardig is, is ’n paar van die plate, insluitende William s’n, deur die Bybelstudente laat opneem en is die liedere uit Hymns of the Millennial Dawn, een van hulle liedereboeke, hiervoor gebruik.
Hulle het aandag geskenk aan die woorde
Die Getuies het jare lank liedere in hulle aanbidding gebruik wat deur ander geskryf is. Maar wanneer dit nodig was, het hulle die woorde verander sodat dit hulle begrip van die Skrif sou weerspieël.
Een lied, “Our King Is Marching On”, wat gedurende die “Fotodrama” gespeel is, was byvoorbeeld ’n verwerking van die lied “Battle Hymn of the Republic”. Die eerste vers van die “Battle Hymn” begin met die woorde: “My oë het die heerlikheid van die Here se koms gesien.” Maar die Bybelstudente het die woorde verander na: “My oë kan die heerlikheid van die Here se teenwoordigheid sien.” Hierdie verandering het hulle oortuiging weerspieël dat die heerskappy van Jesus Christus nie net sy koms behels nie, maar ook sy teenwoordigheid oor ’n sekere tydperk.—Matteus 24:3.
Toe die liedereboek Sing en begelei julself met musiek in julle hart in 1966 gepubliseer is, is ’n poging aangewend om nie musiek te gebruik wat van sekulêre bronne of ander godsdienste afkomstig is nie. In daardie jaar het die Getuies ’n klein orkes saamgestel en al 119 liedere in die boek opgeneem. Die gemeentes het hierdie opnames gebruik as begeleiding wanneer hulle by hulle vergaderinge gesing het, en party Getuies het dit geniet om by die huis daarna te luister.
In 2009 het Jehovah se Getuies ’n nuwe liedereboek, Sing vir Jehovah, uitgegee. Kooropnames van die liedere daarin is in tientalle tale gedoen. In 2013 het die Getuies vir die eerste keer musiekvideo’s vir kinders begin publiseer. Een het die titel “Bid enige tyd”. Etlike miljoene liedjies word elke maand van jw.org afgelaai.
Baie het waardering vir hierdie musiek uitgespreek. ’n Vrou met die naam Julie het aangaande Sing vir Jehovah geskryf: “Die nuwe liedere is so mooi! Wanneer ek alleen is, speel ek dié wat weerspieël hoe ek werklik voel. Ek kan dus voel dat my verhouding met Jehovah sterker word, en ek is meer vasbeslote as ooit tevore om hom my beste te gee.”
’n Ma met die naam Heather het die volgende geskryf oor die uitwerking wat die video Bid enige tyd op haar kinders, wat sewe en nege jaar oud is, gehad het: “Dit het hulle gehelp om te bid, nie net aan die begin van die dag of wanneer hulle by ons is nie, maar enige tyd wat hulle met Jehovah wil praat.”
a Charles Taze Russell (1852–1916) het die leiding geneem onder die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het.