Spring na inhoud

’n Internasionale brosjure wat deur middel van prente leer

’n Internasionale brosjure wat deur middel van prente leer

Odwal woon in Mongolië. Sy is nie seker presies hoe oud sy is nie, maar sy dink dat sy in 1921 gebore is. As jongmeisie het sy haar ouers se vee opgepas, en sy het net ’n jaar skoolgegaan. Sy kan nie lees nie. Maar onlangs het ’n kleurvolle brosjure haar gehelp om God te leer ken en om te leer van die vreugdevolle toekoms wat wag op diegene wat na hom luister. Hierdie kennis het haar hart geraak.

Die brosjure, wat in 2011 deur Jehovah se Getuies uitgegee is, is beskikbaar in twee uitgawes. Albei het pragtige prente, maar die een het minder teks as die ander.

Die uitgawe met meer teks, Luister na God en lewe vir ewig, sal binnekort beskikbaar wees in 583 tale, en die ander uitgawe, Listen to God, in 483 tale. Vergelyk dit met die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte, wat teen Oktober 2013 in 413 tale vertaal is. En daar is tot dusver byna 80 miljoen eksemplare van die twee uitgawes van hierdie brosjure gedruk.

In Brasilië het ’n bejaarde vrou met graagte die Listen to God-brosjure aanvaar en gesê: “Dit is goed om te weet dat daar mense is wat omgee vir persone soos ek. Ek het nooit julle tydskrifte geneem nie, want ek kan nie lees nie. Maar ek wil hierdie brosjure hê.”

Brigitte, ’n ongeletterde vrou wat in Frankryk woon, het gesê: “Ek kyk elke dag na die prente in die brosjure.”

’n Getuie in Suid-Afrika het geskryf: “Ek weet nie van ’n beter brosjure om mense in die Chinese veld Bybelwaarheid te begin leer nie. Ek het al gepraat met mense met ’n universiteitsgraad, baie slim mense, en ook met mense wat skaars kan lees—mense met verskillende vlakke van geleerdheid. Die Luister na God en lewe vir ewig-brosjure stel my in staat om gou basiese Bybelleringe oor te dra. Binne ’n halfuur is ’n fondament gelê.”

Getuies in Duitsland studeer met ’n geleerde egpaar. Die man was baie beïndruk met die brosjure en het gesê: “Waarom het julle hierdie brosjure nie al vroeër vir my gegee nie? Dit help my om Bybelgebeure en -verklarings maklik te verstaan.”

’n Dowe vrou in Australië het gesê: “Ek het jare lank saam met nonne in ’n klooster gewoon. Ek was so na aan die kerkleiers as wat jy kan wees. En tog het nie een van hulle my geleer wat God se Koninkryk is nie. Die prente in hierdie brosjure het my help verstaan wat Matteus 6:10 werklik beteken.”

Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Kanada skryf: “Nadat hulle die [vereenvoudigde uitgawe] in Krio gesien het, was baie in die Sierra Leonese gemeenskap beïndruk en het hulle gesê dat Jehovah se Getuies hulle werklik inspan om die Bybel se boodskap oor te dra. Party het gesê: ‘Julle gee om vir mense, terwyl so baie nie vir ander omgee nie.’ ”