Spring na inhoud

’n Bybel wat gemaak is om te hou

’n Bybel wat gemaak is om te hou

Vir Jehovah se Getuies is geen boek belangriker as die Bybel nie. Hulle bestudeer dit gereeld en gebruik dit om ander van die goeie nuus van God se Koninkryk te leer (Matteus 24:14). Aangesien hulle die Bybel so baie gebruik, beteken dit dat hulle Bybels gou verslete raak. Die Getuies het dus geen moeite gespaar om te verseker dat die 2013-uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Engels mooi sowel as duursaam sou wees nie.

Die nuwe Bybel moes sterk wees. Toe verteenwoordigers van die Getuies se drukkerypersoneel in Wallkill, New York, VSA, hulle planne bespreek het met die hoofbestuurder van ’n maatskappy wat boeke bind, het hy vir hulle gesê: “Die Bybel wat julle wil hê, bestaan nie.” Hy het bygevoeg: “Dis ’n jammerte dat die meeste Bybels ontwerp word om mooi te lyk op ’n koffietafel of ’n boekrak—nie om duursaam te wees nie.”

Party vroeëre uitgawes van die Nuwe Wêreld-vertaling was nie baie duursaam nie en het soms selfs in baie warm weer uitmekaargeval. Die drukkerypersoneel het verskillende soorte materiaal vir die omslag, gom en bindmetodes ontleed in hulle pogings om ’n Bybel te ontwerp wat baie hantering in ’n verskeidenheid klimate kon deurstaan. Op grond van hulle bevindings het hulle Bybels as prototipes gemaak wat hulle laat toets het deur Getuies wat woon in lande met verskillende klimaatstoestande, van dié van die Trope tot dié van Alaska.

Ná ses maande is die Bybels teruggestuur om ondersoek te word. Toe het die drukkerypersoneel verbeterings aangebring en nog ’n klompie prototipes uitgestuur. Altesaam 1 697 Bybels is getoets. ’n Paar daarvan het per ongeluk rowwe behandeling ontvang. Byvoorbeeld, een Bybel is oornag buite in die reën gelaat, en ’n ander is deur die vloedwater van ’n orkaan weggespoel. Die resultate van die toetse en ongelukke het waardevolle inligting voorsien oor die algemene duursaamheid van die boek.

In 2011, terwyl die toetse gedoen is, het die Getuies nuwe toerusting vir ’n hoëspoedbindery vir hulle drukkerye in Wallkill en in Ebina, Japan, gekoop. Die doelwit was nie net om genoeg Bybels vir die vrystelling van die nuwe Engelse Bybel by die jaarvergadering te druk nie, maar die Bybels wat by hierdie fasiliteite gedruk is, moes ook identies wees.

Omslae wat omkrul, veroorsaak probleme

Die twee drukkerye het die bestaande uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling vroeg in 2012 in swart en bruinrooi begin vervaardig deur die nuwe poliuretaan materiaal vir die omslag te gebruik. Maar die nuwe masjiene het ’n gom en ’n voering in die omslag gebruik wat nog nie getoets was nie, en die omslae wat hulle vervaardig het, het omgekrul toe dit aan die Bybel vasgegom is. Aanvanklik het alle pogings om die probleem om te los, misluk, en daarom is vervaardiging tydelik stopgesit.

Die vervaardigers van een van die materiale het gesê dat hierdie probleem algemeen is wanneer dit kom by sagte omslae en dat dit moeilik kan wees om op te los. Maar eerder as om ’n harde omslag te gebruik, was die Getuies vasbeslote om ’n Bybel met ’n sagte omslag te vervaardig wat lank mooi sou bly. Nadat hulle vier maande lank toetse gedoen het, wat baie kombinasies van gom en voeringmateriaal behels het, het hulle ’n kombinasie gevind wat die drukkery in staat gestel het om voort te gaan met vervaardiging—nou van Bybels met sagte omslae wat nie sou omkrul nie.

Vervaardiging word weer uitgestel

In September 2012 is die drukkerye gevra om die vervaardiging van die bestaande uitgawe te staak, hulle voorraad op te gebruik en te wag om die hersiene uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling te begin vervaardig. Dit sou vrygestel word op 5 Oktober 2013 by die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië.

Die drukkerye het die elektroniese lêers van die teks vir die nuwe Bybel op Vrydag 9 Augustus 2013 ontvang en het dit die volgende dag begin druk. Die eerste voltooide Bybel is op 15 Augustus vervaardig. Oor die volgende sewe weke het die drukkerypersoneel by Wallkill en Ebina dag en nag gewerk om meer as 1 600 000 Bybels te vervaardig en te versend, genoeg sodat elke persoon wat die program van die jaarvergadering sou bywoon, ’n eksemplaar kon ontvang.

Hoewel die nuwe Bybel mooi is en gemaak is om te hou, is die lewegewende boodskap wat dit bevat, selfs kosbaarder. Die dag nadat ’n vrou in die Verenigde State haar nuwe Bybel ontvang het, het sy geskryf: “Hierdie nuwe uitgawe help my om die Bybel beter te verstaan.”