Spring na inhoud

Prente help lesers om hulle die toneel voor te stel

Prente help lesers om hulle die toneel voor te stel

Baie publikasies van Jehovah se Getuies bevat kleurvolle prente wat by die teks pas, maar dit was nie altyd die geval nie. Die eerste nommer van Zion’s Watch Tower, uitgegee in 1879, het geen prente gehad nie. Dekades lank het ons publikasies byna uitsluitlik teks bevat, met net nou en dan ’n illustrasie of ’n swart-en-wit-foto.

Baie van ons publikasies is nou vol prente. Ons eie kunstenaars en fotograwe voorsien baie van die kunswerk, illustrasies en foto’s wat jy in die gedrukte publikasies en op hierdie webwerf sien. Noukeurige en deeglike navorsing help om prente te skep wat belangrike geskiedkundige en Bybelwaarhede oordra.

Neem byvoorbeeld die prent in hierdie artikel, wat oorspronklik in hoofstuk 19 van die boek ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk verskyn het. Die agtergrond is eertydse Korinte. Soos in hoofstuk 18 van die Bybelboek Handelinge beskryf word, is die apostel Paulus voor die bema, of regterstoel. Navorsers het die kunstenaar voorsien van inligting oor argeologiese ontdekkings in verband met die ligging en kleur van die albasterstrukture waar Paulus moontlik voor Gallio verskyn het. Navorsers het ook inligting voorsien oor eerste-eeuse Romeinse kleredrag sodat die prokonsul Gallio, in die middel van die prent, in keiserlike kleredrag uitgebeeld kon word. Hy dra ’n tuniek en ’n toga met ’n breë purper streep en skoene wat calcei genoem word. Navorsers het gesê dat Gallio klaarblyklik na die noordweste gekyk het wanneer hy op die bema gestaan het. Die kunstenaar het dus ’n idee gehad van hoe die beligting in die toneel moet wees.

Georganiseerd en doeltreffend

Die prente word in ’n katalogus opgeneem om die navorsing te dokumenteer en sodat dit weer gebruik kan word. Ons het jare lank die kunswerk en illustrasies in groot koeverte geliasseer volgens die publikasie waarin dit verskyn het. Foto’s is volgens onderwerp geliasseer. Namate hierdie lêers groter geword het, het dit al hoe moeiliker geword om ’n prent te vind of weer te gebruik.

In 1991 het ons ’n gebruikersvriendelike databasis voltooi wat in ons unieke behoeftes voorsien. Dit word die Image Services System genoem en bevat nou meer as 440 000 prente. Benewens die prente wat in ons publikasies verskyn het, bevat dit ook duisende ander foto’s vir gebruik in toekomstige publikasies.

Talle besonderhede—insluitende wanneer en waar elke prent gebruik is, die naam van elke model in die prent en die tydperk wat dit uitbeeld—is ook opgeteken. Die vermoë om gou gepaste prente te vind wanneer nuwe publikasies voorberei word, is nuttig.

Soms verkry ons toestemming by kommersiële bronne vir gespesialiseerde prente. Byvoorbeeld, ons het dalk ’n prent van die ringe van Saturnus vir ’n artikel in die Ontwaak! nodig. Ons ondersteunende personeel vind ’n gepaste prent en kom met die eienaar in aanraking vir toestemming om dit te gebruik. Weens ons wêreldwye Bybelonderrigtingswerk verleen party gratis toestemming. Ander vereis dat ons ’n fooi betaal of in die publikasie erkenning aan hulle verleen. Wanneer ons ’n ooreenkoms bereik het, word die prent in die publikasie gebruik en in ons databasis opgeneem.

Vandag bestaan party van ons publikasies hoofsaaklik uit prente. Ons het byvoorbeeld op hierdie webwerf “Bybelse prenteverhale”; ook is daar op die webwerf en in gedrukte vorm kleurvolle brosjures soos Luister na God en lewe vir ewig, wat met ’n paar woorde belangrike lesse oordra. Hierdie publikasies en die res van ons gedrukte en aanlyn media bevorder die Bybel.