Spring na inhoud

Die Spaanse vertaalspan trek na Spanje

Die Spaanse vertaalspan trek na Spanje

Jesus het gesê dat die goeie nuus van die Koninkryk regoor die aarde verkondig sou word (Matteus 24:14). Bybelpublikasies wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, word al sedert 1909 in Spaans vertaal sodat mense regoor die wêreld die goeie nuus in hulle moedertaal kan hoor. Naas Chinees is Spaans nou die taal met die meeste moedertaalsprekers—wêreldwyd praat ongeveer 500 miljoen mense Spaans.

“Spaans is ’n internasionale taal wat in tientalle lande met verskillende kulture gepraat word”, sê William, ’n lid van die Spaanse vertaalspan. “Ons doelwit is om te vertaal op ’n manier wat die harte sal raak van lesers met verskillende agtergronde, opvoedingsvlakke en lewenstandaarde.” Om so ’n uiteenlopende teikengehoor te bereik, sluit die vertaalspan Getuies in van Argentinië, Colombia, El Salvador, Guatemala, Mexiko, Puerto Rico, Uruguay, Venezuela, die Verenigde State en natuurlik Spanje.

Jehovah se Getuies het dekades lank die Spaanse vertaling van hulle publikasies in die Verenigde State gedoen met die hulp van Getuievertalers in Argentinië, Mexiko en Spanje. Maar in 1993 het die Spaanse vertaalspan na Puerto Rico getrek, wat dit moontlik gemaak het vir al die vertalers om op een plek te werk.

In Maart 2012 is daar besluit dat die Spaanse Vertaalafdeling weer moet trek, dié keer na die takkantoor van Jehovah se Getuies in Spanje. Edward vertel: “Ons moes nie net mense, hulle persoonlike besittings en kantoortoerusting saamneem nie, maar ook nog ’n belangrike ‘lid’ van ons afdeling—die vertaalbiblioteek.” Die biblioteek bestaan uit ongeveer 2 500 naslaanwerke, wat honderde Spaanse Bybelvertalings insluit.

Die vertaalspan word hartlik verwelkom in Spanje

Op 29 Mei 2013 het die Spaanse vertaalspan by hulle nuwe tuiste aangekom, waar hulle hartlik verwelkom is deur die Spaanse Bethelgesin. Vertalers, naslaanwerke en toerusting is oor die Atlantiese Oseaan geneem, maar danksy goeie beplanning en harde werk het die lesers van die Spaanse publikasies van Jehovah se Getuies geen onderbreking in die voorsiening van lektuur ondervind nie. “Dit is die Koninkryksboodskap wat belangrik is”, sê Edward, “en ons wil hê dat soveel Spaanssprekende mense as moontlik dit moet lees.”